De Lille: Speaker mag besluit oor geheime stemmery

Kaapstad-burgemeester Patricia de Lille Foto: Phando Jikelo/African News Agency

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Woensdag beslis dat die speaker van die stadsraad mag besluit of ʼn mosie van wantroue in Kaapstad-burgemeester Patricia de Lille met ʼn geheime stemmery sal plaasvind.

“Die speaker sal sy diskresie gebruik om te besluit of die stemmery in die geheim sal plaasvind op 15 Februarie 2018,” het regter Robert Henney gesê.

Henney het gesê in sy mening is De Lille se aansoek, dat die hof oor die meriete van die stemmery moet besluit, geregverdig.

De Lille het ná die uitspraak gesê sy is baie bly die hof het bevestig dat sy geregverdig was om die saak te bring. “Die speaker moet sy diskresie gebruik oor ʼn geheime stemmery. Mense moet toegelaat word om volgens hul gewete te stem en dit is vandag se oorwinning,” het sy gesê.

Volgens De Lille het die Demokratiese Alliansie erken dat hy die DA-koukus opdrag gegee het hoe om te stem.

“Alle opdragte wat die DA aan die koukus gegee het, verval nou. Ek was besorg oor die regverdigheid,” het sy bygevoeg. “Ek het hof toe gekom om ons eie Grondwet te toets. Ek het hierheen gekom sodat raadslede self kan besluit en dat hulle ʼn ruimte het om nie bang te wees nie.”

De Lille se prokureurs sal speaker Dirk Smit kontak oor die uitslag van die saak. “As die speaker nie met die hofuitspraak saamstem nie, sal hy die stemmery moet uitstel,” het De Lille verduidelik.

Die Demokratiese Alliansie het intussen die uitspraak verwelkom. “Ons verwelkom die hof se uitspraak dat die besluit om ʼn geheime stemmery toe te laat, die besluit van die stadsraad bly – soos dit moet wees,” het Bonginkosi Madikizela, leier van die DA in die Wes-Kaap gesê.

Die hofaansoek kom nadat die DA aanklagte van omkopery en korrupsie teen haar aanhangig gemaak het. Sy word ook van wangedrag beskuldig. Die korrupsiebeweringe hou verband met ʼn beweerde voorval waar De Lille glo in 2012 omkoopgeld van R5 miljoen geëis het van Vanderbijlpark-sakeman Anthony Foul. Sy wou glo omkoopgeld hê in ruil vir haar steun dat Foul se maatskappy brandblussers aan Kaapstad se informele nedersettings kan verskaf.

De Lille ontken hierdie bewerings en sê die beskuldigings is net nóg ʼn poging om haar naam te beswadder.

Die mosie van wantroue sal na verwagting Donderdag om 10:00 by die raadskamer by die Burgersentrum in Kaapstad aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Die bewering dat sy R5m omkoopgeld wou hê word herhaaldelik vertel maar nêrens het ek gelees of/dat Anthony Foul van Vanderbijl se getuienis daaroor aangevra is nie. Dit is tog logies dat hy een van die eerstes is wat daarna gevra moet word. Nie dat sy getuienis as sonder twyfel aanvaar moet word nie, maar die vraag is steeds wat hyself daaroor sê.

Fanie ·

As die DA niks het om weg te steek nie sal hulle n geheime steming toestaan anders is hulle maar net soos die ANC

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.