De Lille veg voort ‘om naam in ere te herstel’ 

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad (Foto: Patricia de Lille / Facebook)

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, sê sy fokus onverpoos daarop om haar naam in ere te herstel deur die DA se dissiplinêre verhoorprosesse, asook om die stad Kaapstad te lei.

“Ek het vandag [Sondag] navrae van die media ontvang oor die kwessie of ek met die DA onderhandel om my pos te verlaat,” het De Lille gesê.

Volgens haar het sy die afgelope paar weke verskeie voorstelle van skikkingsooreenkomste van die DA-leierskap ontvang. Van die voorstelle is onder meer dat sy as LP in die Nasionale Vergadering dien. De Lille hou egter vol dat sy verkeerdelik beskuldig is.

Volgens De Lille is sy reeds skuldig bevind aan die hand van die sogenaamde Steenhuisen-verslag sonder ʼn behoorlike verhoor en prosesse. Die verslag is opgestel ná die ondersoek van John Steenhuisen, die DA se parlementêre hoofsweep, na ongerymdhede in die stadsraad rakende verbeterings aan De Lille se huis en wrywing tussen haar en JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit. De Lille het die Wes-Kaapse hooggeregshof genader om die bevindinge in die verslag te hersien en ter syde te stel.

“Ná dekade lange diens aan ons land, en ná byna ʼn dekade van diens aan die DA, het ek ʼn naam opgebou as vegter teen korrupsie en om ʼn regering van uitnemendheid te lei. Hierdie bewerings en beskuldigings het my goeie naam geskend en beskadig ook ons party en vlagskipregering.”

De Lille het gesê haar mikpunt is nou om haar naam in ere te herstel. “Ek moet ook my goeie naam en dié van die regering wat ek die afgelope sewe jaar gelei het, herstel. Ek fokus dus nou op die voorbereiding vir my dissiplinêre verhoor.”

Die DA het datums voorgestel vir die verhoor en volgens De Lille sal sy daarop reageer sodra sy die regspan aangestel het wat haar sal verteenwoordig. Sy het egter reeds versoek dat die verhoor oopgestel word aan die media.

De Lille het gesê sy respekteer die oppergesag van die reg en die uitsprake van die konstitusionele hof en die Wes-Kaapse hooggeregshof. Volgens De Lille het albei howe bevestig dat ʼn mosie van wantroue die hoogste vorm van sanksie en die strengste politieke gevolg is, en dat openbare verteenwoordigers geregtig moet wees om vrylik met hul gewete te stem.

“Ondanks die bevel het die 40 DA-raadslede wat teen die mosie gestem het, gekla dat hulle geviktimiseer en geïntimideer word deur ander partylede en openbare verteenwoordigers van die party. Ek verwag dat die DA se leierskap vinnig sal optree teen diegene wat ons party se beginsels verraai en strydig met die hofbevel optree.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andre ·

Die groot probleem in die DA is MM, alles het met sy aanstelling begin. Hy is aan gestel om swart stemme vir die DA te wen, daai bietjie stemme wat hy gewen het is terug ANC toe. Maar nou het hy die DA `n klomp wit en kleur stemme gekos. Raak ontslae van die niks doenner.

Lola ·

Andre, hy is nie die enigste probleem nie. Daar is ‘n groot clique aan die stuur van sake wat my laat dink aan die broedersbond van die ou bedeling. En hulle kan tog so die arme arm mense voor jou oe gooi maar ek wonder, eie gewin of regtig empatie? Leer maar eerder die mense hoe om vis te vang maar nee, freebies en lee beloftes lyk my seevier.

snoefie ·

jy is verkeerd andre. die da het my stem verloor toe dit bekend geword het dat helen zille da lede gevra het om eerder vir lindiwe mazebuko teen athol trollip te stem omdat sy gulsig was vir swart stemme. waar is haar lindiwe nou en waar is trollip? ek wens athol trollip wil oorloop na cope toe.

PJC ·

Patricia weet dat feitlik al die gekleurdes in die DA haar steun en sy sal nie huiwer om die skip saam met haar te probeer sink nie. Kyk ń bietjie waar sy vandaan kom (PAC) en wat hulle beleid was. Die DA is vol van sulke mense wat van omstrede plekke af kom en dit maak hulle onvoorspelbaar. Hierdie hele ding met Patricia is egter verkeerd gehanteer en gaan hulle baie stemme kos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.