De Lille-verhoor moet van voor af begin

Kaapstad-burgemeester Patricia de Lille Foto: Phando Jikelo/African News Agency

Die DA se interne tugverhoor teen die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille, moet van voor af begin nadat een van die paneellede wat haar saak moes aanhoor, homself aan die paneel onttrek het.

Geen datum vir die nuwe verhoor is nog vasgestel nie. Die burgemeester word van wangedrag en verskeie oortredings van die DA se grondwet aangekla. Sy ontken skuld.

De Lille se regsverteenwoordigers het aangevoer twee van die paneellede, adv. Pongiso Monchusi en mev. Sheila Camerer, moet hulle om verskillende redes onttrek.

Tydens ʼn verhoor van sowat drie uur vandag op die parlementêre terrein, het Monchusi ingestem om hom te onttrek, en het De Lille se prokureurs redes aangevoer waarom Camerer dieselfde moet doen. Sy het egter nog nie aangedui of sy so gaan maak nie.

Dit beteken die Potchefstroomse prokureur Hans-Jurie Moolman is die enigste paneellid wat sowel die vertroue van die DA as De Lille geniet.

Die voorsitter van die DA se federale dagbestuur, James Selfe, het gesê die feit dat Monchusi homself onttrek het, beteken dat ʼn nuwe paneellid aangestel sal moet word, wat hom/haarself eers van die feite in die saak sal moet vergewis voordat die verhoor kan begin.

Selfs dan gaan die verhoor nie vinnig verloop nie. De Lille en haar regspan wil die verhoor oop verklaar hê sodat die publiek kan sien wat die toedrag van sake is. Die mediamaatskappy Media24 het ʼn soortgelyke aansoek gebring.

Die DA, soos verteenwoordig deur die voorsitter van die federale regskommissie, adv. Glynnis Breytenbach, staan die aansoek teen.

De Lille het na afloop van vandag se verrigtinge gesê baie tyd word gemors en dit kos haar baie geld. “Ons oorweeg dit om die hele proses in die hof te toets. Dit is baie frustrerend,” het De Lille gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Griki ·

Interessant dat die DA die aansoek teenstaan dat dit ‘n oop verhoor moet wees terwyl De Lille dit so wil hê. Wat het die DA om weg te steek?

Linda Gouws ·

Wil voorkom asof sy onskuldig is waarvoor sy aangekla word.

cor ·

Ek wonder of hule n waterdigte saak het of gaan dit op hoor se en binne politiek. As hulle huiswerk en feite reg gedoen was , was die saak seker al lankal opgelos. Hulle is besig om geloofwaardigheid te verloor. Dit vat nou al net so lank soos wat die anc gevat het om van no nul ontslae te raak.

Christa J ·

Ons kan beslis nie kla dat die lewe in SA saai en vervelig is nie. Ons besit nie eers ‘n tv nie en moet bieg: daar is genoeg drama daarsónder!

Vermeendes ·

Ja-nee, sy sal nou seker moet plek maak vir maatjies, gaan ook maar net so te werk soos die ANC!

Chelle ·

Die DA se vervolgings(waansin ?) strek nou bietjie ver,met alle respek gesê .
Ek erken ek is ‘n stoere DA ondersteuner.
Maar hul spandeer meer tyd aan hofsake en in die hof as aan die komende verkiesing. Spits jul liewer toe op Gauteng se watergehalte en die vele
lekkende rioolpype asseblief.

LouE ·

Ek is nie ‘n DA of De Lille fan nie, maar hier sit Moesie die pot mis. Dit lyk my hy probeer vir Patricia uitwerk sonder dat hy rede daartoe het. Ek dink hy skiet homself in die voet en die DA gaan die prys daarvoor betaal in 2019.

Mich ·

En nou gaan Helen Zille seker WEER gas gegee word (deur haar eie Party) oor haar onlangse Twitter uitspraak oor Esidimeni slagoffers en hul families. Klink my haar kop rol volgende na De Lille.

Martin ·

ANC speletjies kom nou sterk na vore, die DA is deesdae vol van hulle, tot in die leiers korps in.

Andre ·

Jong ,moenie kant kies vir die vrou nie as ek dit nie mis het nie is dit sy wat heerlik saam gesing het “KILL THE FARMER ” en nou skielik is sy deel van die sogenaamde DA, die vrou kan nie vertrou word nie, haar bynaam moet wees verkleurmannetjie want sy verander darem baie vinnig haar ” Tune”.

Johnnie ·

Eenmaal onder die ANC se invloed altyd onder hulle invloed maak nie saak na watter party toe jy oorloop nie, as sy die DA verlaat gaan sy seker na die EFF toe oorloop.

Johann du Toit ·

Waarom is die DA so bang dat die verhoor in die openbaar geskied? Ek hoop die saak word gou afgehandel want die DA verloor geloofwaardigheid by die dag. Die aantygings gaan oor wangedrag en oortredings van die DA se grondwet. As die DA se beskuldigings op bewysbare feite gegrond is en nie op verskuilde agendas of skinderstories nie kan die saak binne een oggend afgehandel word. As dit sou uitkom dat die aantygings vals was of nie bewys kon word nie dan sien ek geen toekoms vir die DA nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.