Die DA se interne tugverhoor teen die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille, moet van voor af begin nadat een van die paneellede wat haar saak moes aanhoor, homself aan die paneel onttrek het.
Geen datum vir die nuwe verhoor is nog vasgestel nie. Die burgemeester word van wangedrag en verskeie oortredings van die DA se grondwet aangekla. Sy ontken skuld.
De Lille se regsverteenwoordigers het aangevoer twee van die paneellede, adv. Pongiso Monchusi en mev. Sheila Camerer, moet hulle om verskillende redes onttrek.
Tydens ʼn verhoor van sowat drie uur vandag op die parlementêre terrein, het Monchusi ingestem om hom te onttrek, en het De Lille se prokureurs redes aangevoer waarom Camerer dieselfde moet doen. Sy het egter nog nie aangedui of sy so gaan maak nie.
Dit beteken die Potchefstroomse prokureur Hans-Jurie Moolman is die enigste paneellid wat sowel die vertroue van die DA as De Lille geniet.
Die voorsitter van die DA se federale dagbestuur, James Selfe, het gesê die feit dat Monchusi homself onttrek het, beteken dat ʼn nuwe paneellid aangestel sal moet word, wat hom/haarself eers van die feite in die saak sal moet vergewis voordat die verhoor kan begin.
Selfs dan gaan die verhoor nie vinnig verloop nie. De Lille en haar regspan wil die verhoor oop verklaar hê sodat die publiek kan sien wat die toedrag van sake is. Die mediamaatskappy Media24 het ʼn soortgelyke aansoek gebring.
Die DA, soos verteenwoordig deur die voorsitter van die federale regskommissie, adv. Glynnis Breytenbach, staan die aansoek teen.
De Lille het na afloop van vandag se verrigtinge gesê baie tyd word gemors en dit kos haar baie geld. “Ons oorweeg dit om die hele proses in die hof te toets. Dit is baie frustrerend,” het De Lille gesê.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
14 Kommentare
Genade maar die DA trap water met die aangeleentheid!
Interessant dat die DA die aansoek teenstaan dat dit ‘n oop verhoor moet wees terwyl De Lille dit so wil hê. Wat het die DA om weg te steek?
Wil voorkom asof sy onskuldig is waarvoor sy aangekla word.
Ek wonder of hule n waterdigte saak het of gaan dit op hoor se en binne politiek. As hulle huiswerk en feite reg gedoen was , was die saak seker al lankal opgelos. Hulle is besig om geloofwaardigheid te verloor. Dit vat nou al net so lank soos wat die anc gevat het om van no nul ontslae te raak.
Ons kan beslis nie kla dat die lewe in SA saai en vervelig is nie. Ons besit nie eers ‘n tv nie en moet bieg: daar is genoeg drama daarsónder!