De Lille verwelkom ondersoek na tenders

Patricia de Lille. Foto: ANA

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) gaan vyf kontrakte van die departement van openbare werke en infrastruktuur ondersoek. Dít sluit in tenders vir die opknapping van amptelike wonings, asook van die Marks- en Pleinstraat 90-gebou in die parlementêre distrik.

Min. Patricia de Lille het Maandag die ondersoek verwelkom en gesê haar departement sal sy volle samewerking gee.

Dít nadat De Lille in Oktober verlede jaar ʼn skrywe aan adv. Andy Mothibi, hoof van die SOE, gerig het waarin sy versoek het dat die SOE die tenders bekyk.

De Lille het in Oktober 2019 reeds ʼn onafhanklike assessering versoek oor die stadige vordering van opknappingsprojekte soos dié by die gebou van die nasionale raad van provinsies, werk aan die parlementêre distrik, herstelwerk aan kantoorgeboue en ander roetine-instandhoudingswerk.

Die departement van openbare werke het in Augustus 2020, ná ʼn mededingende tenderproses, ʼn eksterne ouditmaatskappy, BDO, aangestel om ʼn onafhanklike assessering te doen oor die vordering van die projekte. BDO het daarna ʼn voorlopige verslag op 19 Oktober 2020 by die departement ingedien. Die finale verslag is op 20 November 2020 aan die bestuur van die departement oorhandig.

Volgens De Lille is dié verslag egter nie aan haar oorhandig as die uitvoerende gesag van die departement wat die onafhanklike assessering versoek het nie. Die ouditverslag is eers op 17 September 2021 aan haar oorhandig – byna ʼn jaar ná die departement dit ontvang het en sy dit aangevra het.

Volgens De Lille het die BDO-verslag ernstige bevindings onthul oor ʼn gebrek aan behoorlike stelsels en voorbereidings in die departement om die parlementêre projekte – wat nagenoeg R497 miljoen beloop – aan te pak en deur te voer.

Die minister sê nou sy hoop dat die SOE alle ongerymdhede met die tenders kan oopvlek. “Ek sal verseker dat die departement vinnig optree om die nodige stappe te doen teen enigiemand wat skuldig bevind word aan enige oortreding wat met hierdie projekte verband hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nie Verbaas ·

Met ander woorde sy het geen idee wat in haar departement aangaan nie en probeer so aanspreeklikheid ontwyk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.