De Lille vra ondersoek na grondtransaksie

Patricia de Lille, Kaapstad se burgemeester, het ’n forensiese ondersoek na die verkoop van ’n waardevolle stuk grond op die Kaapse Strandgebied versoek. Dis die oop stuk grond waarop die motors geparkeer is. Foto: Google Maps

Kaapstad se burgemeester het ʼn forensiese ondersoek aangevra ná “ʼn stortvloed” berigte oor die opveil van ʼn waardevolle onbeboude sakeperseel in die middestad.

Die Stad Kaapstad het twee weke gelede aantygings deur ʼn geregtigheidsgroep, Ndifuna Ukwazi, dat die stadsraad R58 miljoen op die transaksie verloor het, as onsin afgemaak.

Die erf, wat ook as Perseel B op die Strandgebied bekendstaan, is by wyse van ʼn veiling vir R86,5 miljoen aan Growthpoint Properties verkoop. Patricia de Lille het Sondag gesê daar was beskuldigings dat dit ʼn ernstige onderwaardering is en tot ʼn verlies van R58 miljoen aanleiding gegee het.

“Ek het aan die stadsbestuurder, Lungelo Mbandazayo, geskryf en my kommer uitgespreek oor dié beweerde verlies aan openbare geld en ook gesê dat die stadsraad die gevaar loop van ʼn ouditnavraag van die oudit-generaal of weens die rapportering van die saak by die openbare beskermer,” sê De Lille.

Gegewe die “kommer en aantygings” en in die gees van deursigtigheid en verantwoordbaarheid, sê die burgemeester, het sy die stadsbestuurder gevra om ʼn forensiese ondersoek te begin na wat presies tydens die hele verloop van die verkoop van die grond gebeur het.

Die stuk grond staan al jare lank onontwikkel. Foto: Google Maps

Ndifuna Ukwazi het begin September dokumente bekom wat “ernstige vrae laat ontstaan het oor top-amptenare wat geïmpliseer word in ʼn sogenaamde mislukte veiling van ʼn prima- stuk stadsgrond”, het die Kaapse dagblad Cape Argus op 17 September berig. Die stadsraad het alle aantygings van ongerymdhede verwerp.

Growthpoint is van plan om ʼn 100 m hoë wolkekrabber te bou op die driehoekige eiendom tussen Laer-Lang- en Laer-Loopstraat, ʼn hanetree van die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gerhard ·

Ag nee wat, grond het geen waarde vandag in SA nie. Waarskynlik R86.5 miljoen teveel betaal.

Paul ·

Dis waar Gerhard. Ek sukkel al ses maande om ‘n huisie in Langebaan te verkoop.

Karolis ·

Lyk my jy sal die prys moet halveer na die lees van hierdie berig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.