De Lille weer DA se Kaapstad-burgemeesterskandidaat

Patricia de Lille

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, tydens die Staatsrede in 2012 Foto: Departement van kommunikasie

Die Demokratiese Alliansie (DA) het Maandag aangekondig dat Patricia de Lille in 2016 weer die party se burgemeesterskandidaat in Kaapstad tydens die plaaslike verkiesings sal wees.

“Patricia het met ʼn oorweldigende meerderheid gewen,” het Mmusi Maimane, die partyleier, gesê en na De Lille as ʼn vriendin en gesoute politikus verwys.

Maimane se aankondiging van De Lille se suksesvolle kandidaatskap is bekendgemaak nadat die DA met verskeie kandidate vergader het om hul opsies te oorweeg. De Lille het vier minder bekende mededingers uitgestof, naamlik Guy Andrews, Daniel Jacobs, Peter Meakin en Ursula Schenker. Schenker is waarskynlik meer bekend vir haar werk onder die stad se senior burgers.

De Lille was die eerste vrouelid van die parlement om haar eie politieke party te begin. Oudpres. Nelson Mandela het na haar verwys as ʼn “beginselvaste vrou” en sy gunsteling politieke teenstander.

De Lille is tydens die plaaslike verkiesings in 2011 tot die burgemeester van Kaapstad verkies. In 2013 het sy die titel as die wêreld se beste burgemeester gewen.

De Lille was onlangs midde-in omstredenheid gedompel rakende een van haar raadslede, Sam Pienaar. Pienaar, ʼn kolonel in die apartheidsweermag se burgermag, het in 1997 aan die Kommissie vir Waarheid en Versoening erken dat hy deel was van die beplanning van die sogenaamde Trojaanse perd-bloedbad waartydens drie jongmense van die Kaapse Vlakte naby Athlone vermoor is. Hy het egter gesê die soldate onder sy bevel was nie by die moorde betrokke nie.

Die kommissie het bevind Pienaar was betrokke by die beplanning van ʼn ernstige oortreding, maar hy is nooit vervolg nie. De Lille het gesê toe Pienaar in 2011 ʼn raadslid geword het, het die verantwoordelikheid by hom gelê om sy verlede te openbaar.

Volgens De Lille het Pienaar nooit sy apartheidverlede bekendgemaak nie. Die DA het intussen ʼn kennisgewing aan Pienaar uitgereik. Hy sou na verwagting teen Maandagmiddag uit die party geskors wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bruno Stef ·

Ek twyfel of my kommentaar geplaas gaan word maar kom ons probeer.Patricia de Lille het destyds tydens n debat in die 1990 as lid van die PAC gese dat nie n duim grond in SA aan n witmens behoort nie.Plase is destyds volgens haar te perd afgemeet in n vierkant en in elke geval is die perd gery totdat hy dood neergeslaan het in een rigting dan is n nuwe perd gebruik om die volgende afstand te ry totdat al vier afstande voltooi is.Wonder maar net of dit steeds haar siening is of het dit met tyd verander.

Ek onthou ·

Bruno, ja soms verander mense se siening mos maar as hulle die lig sien, so dalk is dit in die geval so. In elk geval die DA rule okay; was pas in die Kaap en dinge werk, dis skoon, jip, die Kaap bly tops

Rynhardt ·

Gistraand op SABC2 het De Lille haarself lelik in die voet geskiet! Volgens haar:”Ons kies nie kandidate volgens velkleur nie”.Dit is nie waar nie, want haar vorige leier, Zille en die huidige leier, Mmusi Maimane ondersteun regstellende aksie soos vervat in Vryheidsmanifes.De Lille moet vir oulaas as burgermeester die soustrein ey! Onder DA se bewind is misdaad buite beheer nes in res van land.DA doen alles wat sy ouboet, die Anc doen Reeds in 2015 het polisie bekend gemaak dat hele land verval het in misdaad.Glad nie so wonderluk onder DA nie.Wittes val elkeer vir liberale wat hul nerens gaan bring nie! Hele verkiesingstelsel is n beplande, dooie stelsel vir 22jaar!

m ·

Stem gelukkig lankal nie meer nie. Niemand kan hierdie land mee red nie, al kom wie ook in beheer. Daar het nie veeel gekom van die sogenaamde nuwe SA nie, net meer korrupsie, moord en en en en, te veel op op te noem.

Oom Boer ·

m – met verwysing na jou stelling van geen stem is jou besluit, maar as landsburger word jou geen stem net na die ANC oorgedra as beherende party. Daarom is dit elke individu se reg om te gaan stem al is dit vir enige party van jou keuse, groot of klein want jou stem briefie kan en mag ‘n verskil maak. DA jy het my en gesin onlangs verloor en VF+ ons hoop jul gaan en sal ons met ope arms ontvang.

Elfie ·

Oom Boer ek stem met jou eerste sin saam. Mense, dis nie net ‘n reg nie maar dis ‘n MOET, ‘n verpligting vir jou, om ‘n stem teen die anc uit te bring, maak nie saak vir watter party nie, solank jy asb tog net stem. Anders, moenie weer kla nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.