De Ruyter moet binne 7 dae reageer op ANC-brief

André de Ruyter. (Argieffoto: Eskom)

Die ANC het vandeesweek hofdokumente beteken op Andre de Ruyter, voormalige uitvoerende hoof van Eskom. Dit volg ná skokkende onthullings wat hy tydens ʼn onderhoud gemaak het oor senior ANC-lede wat betrokke is by korrupsie by die kragvoorsiener.

Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het Vrydag tydens ʼn perskonferensie gesê De Ruyter moet binne sewe dae op die brief reageer. “As hy nie binne die volgende sewe dae reageer nie, sal ons verdere stappe doen,” het Mbalula gewaarsku.

Die ANC het ook hofdokumente op Eskom beteken.

In die prokureursbrief aan Eskom en De Ruyter, gedateer 28 Februarie 2023, verwys die ANC spesifiek na die onderhoud wat De Ruyter met die joernalis Annika Larsen op e.tv gevoer het.

Larsen wou onder andere weet of Eskom ʼn “voertrog” is vir die ANC. De Ruyter het geantwoord: “Ek sou sê daar is bewyse dat dit só is.”

Eskom het direk ná dié onderhoud bekend gemaak dat De Ruyter sy pos onmiddellik sal verlaat. De Ruyter het einde verlede jaar bedank maar sou tot einde Maart in sy pos aanbly. Calib Cassim is intussen as tussentydse uitvoerende hoof van Eskom aangestel.

Aldus die regsbrief kan De Ruyter se antwoord deur enige redelike persoon verstaan word “dat die ANC geld gesteel het by Eskom of dat die party geld deur Eskom ontvang het deur korrupte en onetiese wyses”.

“Korrupsie en diefstal is baie ernstige oortredings en kan tronkstraf van 15 jaar beteken. Indien [die ANC] vervolg word en skuldig bevind word, is dit die verkose verteenwoordigers, insluitend die top-sewe nasionale beamptes en lede van die nasionale uitvoerende komitee, wat moontlik tronkstraf opgelê kan word. Ons kliënt se mening is dat die uitlatings van mnr. De Ruyter vals is, dat dit neerkom op naamskending, dat dit ons kliënt se grondwetlike reg tot sy goeie naam en reputasie skend.”

Aldus die prokureursbrief het die ANC opdrag gegee om ʼn verskoning van Eskom en De Ruyter te eis en dat die “onwettige bewerings” teruggetrek word. “Indien die uitlatings nie teruggetrek word nie, het ons kliënt ons opdrag gegee om te eis dat mnr. De Ruyter die ‘bewyse’ waarna hy verwys, binne sewe dae sal verskaf.”

De Ruyter moet ook verduidelik waarom hy nie die “bewyse” aan die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) verwys het nie en dit doelbewus teruggehou het terwyl hy gesag gehad het by Eskom. “In hierdie verband hou ons kliënt die reg voor om klagtes teen mnr. De Ruyter aanhangig te maak dat hy versuim het om aan sy wetlike plig te voldoen.”

De Ruyter het egter reeds op 5 Julie 2022 Ramaphosa se nasionale sekuriteitsraadgewer, Sydney Mufamadi, en minister van openbare ondernemings Pravin Gordhan, in die teenwoordigheid van Gordhan se raadgewers, toegespreek by Eskom se hoofkantoor.

Tydens dié gesprek is die name van twee senior ANC-staatsamptenare wat by Eskom-korrupsie geïmpliseer word, met Mufamadi gedeel.

John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie, sê dit is eenvoudig nie moontlik dat pres. Ramaphosa nié deur enige van hierdie ministers, wat direk aan hom gerapporteer het, oor die kwessie ingelig is nie. “Dit is daarom duidelik dat die president al agt maande lank die identiteit van hierdie ministers in sy kabinet ken. Hy het dus nie net vir die land gejok nie, maar hy het homself weer onder verdenking geplaas en die land teleurgestel,” het Steenhuisen bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maritza ·

Sjoe probeer hulle nou vure dood slaan. Hulle kan hom dagvaar soveel hulle wil, die publiek weet die waarheid en dis dat die cANCer korrup is

SjN ·

Maritza, die spreekwoord lui, benoude katte maak benoude spronge!!

Martie ·

Het hulle nie na die hele onderhoud gekyk nie?
Ek dink selfs al maak de Ruyter klagtes oop teen die amptenare, sal die dokumente ook sekerlik net “verdwyn” soos wat ander sake bloot net verdwyn het.

Maar dit gesê… ek wens de Ruyter wil die klagtes gaan indien en die ANC wys dat hy nie net blaf nie. Of die besonderhede wel sal uitkom of ondersoek sal word…. dit is ‘n ander vraag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.