‘De Villiers, ʼn gerespekteerde kaptein’

Dr. Dawie de Villiers (Foto: SARugby)

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) beskryf die voormalige Springbok-rugbykaptein dr. Dawie de Villiers (81) as ’n gerespekteerde en lojale dienaar van Springbokrugby, wat toegewyd was aan die Springsbokspan.

De Villiers is Saterdagaand in sy huis in Stellenbosch ná ʼn lang stryd met kanker oorlede.

De Villiers het tussen 1962 en 1970 vir die Springbokke op die rugbyveld uitgedraf. Hy was tussen 1965 en 1970 kaptein van die span.

Volgens Mark Alexander, president van Saru, het De Villiers hom as een van die Springbokke se grootste kapteins ooit gevestig. “Die feit dat hy in sy laaste wedstryd van die veld gedra is op die skouers van groot name in die Britse Barbarians‑span, onder andere Gareth Edwards van Wallis en Mike Gibson van Ierland, bewys die respek en aansien waarin hy gehou is,” sê Alexander.

[Foto: Suparugby, Facebook]

De Villiers is op 10 Julie 1940 in Burgersdorp in die Oos-Kaap gebore. Nadat hy sy skoolopleiding aan die Hoërskool Bellville voltooi het, het hy teologie aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

Hy het ná sy rugbyloopbaan die politiek betree en het die Nasionale Party in die parlement verteenwoordig. Hy het ook as Suid-Afrikaanse ambassadeur in Londen gedien.

Buiten rugby, het De Villiers hom ook as ’n dosent in filosofie (waarin hy sy doktorale studie voltooi het) onderskei en hy was ook ’n leraar in die NG Kerk.

As “politieke skrumskakel”, soos hy deur die bekende filosoof Willie Esterhuyse beskryf is, was hy ook baie betrokke by die samesprekings wat gelei het tot die ontbanning van die ANC, die daaropvolgende vrylating van oudpresident Nelson Mandela en die eerste demokratiese verkiesing in 1994. De Villiers het in 1996 uit die politiek getree.

Op provinsiale vlak het De Villiers skrumskakel vir die Westelike Provinsie, Boland en die Leeus (toe nog Transvaal) gespeel. Hy het tussen 1962 en 1970 altesaam 25 toetse en 53 wedstryde vir die Springbokke uitgedraf, en was kaptein in 22 toetse. Sy eerste wedstryd as kaptein het die Springbokke teen die All Blacks kragte gemeet.

De Villiers was tydens sy toetsloopbaan aan die wenkant in twee reekse teen die Britse en Ierse Leeus (1962 en 1968), Frankryk (1967) en Australië (1969), terwyl sy internasionale swanesang in die seëvierende reeks teen die All Blacks in Suid-Afrika in 1970 was, toe die Bokke drie van die vier toetse gewen het.

De Villiers het ook die rekord vir die meeste toetse as Springbokkaptein gehou totdat hy in 1995 deur Francois Pienaar verbygesteek is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dries ·

Suksesvolle rugbyspeler. Groot bouer van die Titanic waarop ons nou sit en wag om te sink

SjN ·

Ja Dries, goeie speler, mens en leraar, moes nie saam met Roelfie en trawante as argitek opgetree het nie.

MakersMark ·

Fantastiese rugby speler en kaptein. Ongelukkig met die ANC geheul saam met die verkopers van RSA. Kyk waar sit Mzansi nou……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.