De Villiers se vrou dalk duiselig voor verdrinking

Peter en Theresa de Villiers (Foto: Facebook)

“As tannie Vill lag, lag jy saam. Haar lag was aansteeklik.”

Só sal Rafiek en Fatima Hermans die voormalige Springbokbreier Peter de Villiers se vrou, Theresa (62), onthou. Die Hermans- en De Villiers-gesinne is al jare lank vriende.

Theresa se liggaam is Maandagmiddag in die Hermans se swembad in Fairview, Gqeberha, aangetref. Sy het vir die week by die Hermans-gesin gekuier terwyl Peter by hul huis in die Paarl gebly het.

Die nadoodse verslag wys nou dat sy moontlik duiselig was voordat sy in die swembad geval en toe verdrink het.

Die Hermans-egpaar was nie die dag tuis nie en hul vyfjarige dogter en Fatima se ma was alleen saam met Theresa by die huis.

“Die swembad is agter die huis en van binne kan jy nie sien wat by die swembad aangaan nie,” vertel Rafiek.

Een van Rafiek se huurders het op Theresa se liggaam afgekom en hom (Rafiek) gebel, waarna die nooddienste en polisie opgedaag het.

“Ek moes vir Peter bel en die nuus oordra. Ek kan nie beskryf hoe moeilik dit was om die regte woorde te vind nie,” vertel Rafiek.

Die nadoodse ondersoek op Theresa is reeds voltooi en volgens Rafiek het die patoloog ʼn sterk vermoede dat Theresa duiselig geword en in die swembad geval het. Volgens die nadoodse ondersoekverslag is die oorsaak van haar dood verdrinking.

“Die patoloog vermoed die medikasie wat Theresa geneem het, kon haar duiselig gemaak het.”

Die polisie kon met navraag nie die uitslag van die nadoodse ondersoekverslag bevestig nie.

Volgens Rafiek sou hy en Fatima volgende week saam met Theresa na die Paarl gaan en daar saam met haar en Peter die Paasnaweek deurgebring het.

“Hulle is soos ouerfigure vir ons omdat hulle 20 jaar ouer as ons is. Ons het Theresa graag tannie Vill genoem. Sy was soos ʼn moeder vir ons.”

Rafiek sal Theresa as ʼn aangename persoon onthou wat gehou het van lag en om vrolik te wees. “Sy was die regte persoon om mee gesellig te verkeer, want sy het altyd die atmosfeer opgebeur met haar lag.”

ʼn Gedenkdiens vir Theresa vind Vrydag om 11:00 in die Paarl plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Robert ·

Ek huil saam met hulle. Mag die Here hulle toevou in sy genade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.