Deacon-moorde: ‘Ou wonde weer oopgekrap’

Hettie (links) en Lizette (regs) Deacon (Foto: Facebook)

Die nuus dat Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), se beweerde moordenaar op borgtog vrygelaat is, het die familie soos ’n weerligstraal getref: skielik en onverwags.

Sophie Mmako (51), die slagoffers se voormalige huishulp, is vandeesweek stil-stil op borgtog vrygelaat nadat sy geappelleer het teen ʼn vroeëre beslissing om haar borgtogaansoek van die hand te wys.

Die familie was nie bewus van dié appѐl nie en sê die nuus krap weer ou wonde oop. Hulle het boonop nog talle vrae oor dié sinnelose moorde en probeer hard om die nagmerrie agter hulle te sit en aan te gaan met hul lewens.

“Ons hoop is dat geregtigheid sal geskied. Op die oomblik voel dit of ek in ’n dwaal is,” sê Christa, Lizette se skoonsuster.

Volgens Christa het Hettie en Lizette se dood ’n verskriklike verlies gelaat.

“Anders as met natuurlike oorsake (siekte of ongeluk), veroorsaak die moord ’n diep hartseer, vertwyfeling en konstante stryd om nie ’n wrok te koester nie. Dit is omdat dit gepaardgaan met wreedheid en die deelname en organisering van die moord deur een van hul naaste vertrouelinge.

“Ons mis hulle.”

Maroela Media het vroeër berig Mmako is in 2020 twee keer borgtog geweier.

Mmako en drie ander beskuldigdes, Advanced Hamid (31), Casper Mudau (37) en Lazarus Mahlo (41), is kort na die moorde in September 2020 in hegtenis geneem. Hulle staan tereg op twee aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede.

Mmako se borgtog is van die hand gewys omdat sy onder meer nie ʼn behoorlike woonadres, wat geverifieer kan word, kon verskaf nie. Landdros Janine Ungerer het destyds in die hof daarop gedui dat sy ʼn vlugrisiko is.

Die appèlaansoek het vandeesweek geslaag en die regter het die landdros se borgtoguitspraak ter syde gestel. Mmako is op borgtog van R1 000 vrygelaat.

Luidens die hofdokumente het die regter gesê die landdros het te veel op die staat se saak gesteun en nie al die faktore ewewigtig in ag geneem nie. Die regter het op die veronderstelling van die wet gesteun wat bepaal dat ʼn beskuldigde onskuldig is totdat hy skuldig bevind is.

Lizette en Hettie se liggame is op 10 September 2020 die aand laat in hul motor langs die R37 by die Kuschke-afrit, buitekant Polokwane, gevind. Hulle is laatmiddag ontvoer nadat daar by hul meenthuis in Welgelegen ingebreek is. Albei vroue was vasgebind en het verskeie meswonde gehad.

Die lappe wat om hul monde vasgebind is, was baie styf vasgemaak, wat moontlik kon veroorsaak het dat hulle versmoor het. Die nadoodse ondersoek sal die oorsaak van hul dood bevestig.

Mmako was langer as 20 jaar ʼn huiswerker vir Lizette en Hettie en word nou as die meesterbrein van hul moorde aangekla. Sy en Mahlo was glo boonop ten tyde van die moorde in ’n verhouding.

Die verhoor vind van 1 tot 12 Augustus in Polokwane se hooggeregshof plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

AW ·

Oor die Algemeen, word beskuldiges op borgtog vrygelaat.

Veral as jou regs verteen woordiger Appéleêr.

Die harde werklikheid is, is dat die Regstelsel meeste van die tyd net nie Sin Maak Nié!!!

Of ek is maar net DOM !!

Frank ·

Langer as 20 jaar `n huiswerker !!! Kan tot in ewigheid NOOIT vertrou word nie………

Wondermaarnet ·

Weer eens word die hand wat voed gebyt. Mens kan hulle maar net nie vertrou nie. Na 24 jaar doen sy dit!

Marius ·

Koelbloedige moordenaars hoort in die tronk nie op straat nie.

Elize ·

Hoekom vat dit so lank? Almal weet mos wie die skuldiges is, wat en hoe hulle dit gedoen het. Straf hulle en kry klaar en gee haar 20 jaar by want sy het jaar na jaar gebaat by haar wergewer se goedheid.

Pierre ·

Artikel 35(3) van die grondwet verseker dat enige beskuldige “onskuldig” is tot en met n hof anders besluit en die reg het om borg te kry indien so persoon aan n lys punte voldoen waarvan die mees bekenste n geen wesenlike vlug risiko insluit nie

Bertus ·

Seer sekerlik is die nadoodse ondersoek nou al voltooi? soos in jare terug al? Mag ons nou weet of versmoring of meswonde die oorsaak van dood was?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.