Debat oor transformasie nodig, sê nuwe Maties-rektor

Wim de Villiers. Foto: Twitter

Wim de Villiers. Foto: Twitter

Die Universiteit Stellenbosch (US) moet ʼn plek wees waar mense openlik kan debatteer oor transformasie en ook welkom voel, het prof. Wim de Villiers Woensdag tydens sy inhuldiging as rektor en visekanselier gesê.

“Daar is kommer uitgespreek oor transformasie, inklusiwiteit en diversiteit, sowel as ons institusionele kultuur en simbole op kampus.” Volgens De Villiers is daar ook kommentaar rakende die taalbeleid, aangesien sommige meen hulle word uitgesluit.

De Villiers (55) het gesê ʼn “gesprek sonder grense” of ʼn “oop debat”, wat tot wedersydse begrip sal lei, is nodig oor transformasie. Hy glo dat só ’n debat moontlik is. Volgens De Villiers kan daar op twee maniere aan transformasie gedink word.

“Aan die een kant verwys dit na die noodsaaklikheid vir verandering in antwoord op Suid-Afrika se geskiedenis van rassediskriminering en uitsluiting. Aan die ander kant is transformasie in onderwys en navorsing ʼn noodsaaklikheid om die toekoms te bou wat ons wil hê.”

De Villiers glo die universiteit het in 2000 ʼn belangrike stap geneem toe hy amptelik sy bydrae tot die ongeregtighede van die verlede erken en hom tot regstelling en ontwikkeling verbind het.

De Villiers het gesê die universiteit het in 1990 slegs 762 swart, bruin en Indiër-studente gehad terwyl die groep vandag meer as 11 200, of 38%, van die studentegemeenskap uitmaak. Volgens De Villiers is 20% van die akademiese personeel swart, bruin of Indiër. Daar is wel baie ruimte vir verbetering.

Volgens De Villiers is die kwessie van taal baie belangrik. Die US het in November ’n nuwe taalbeleid aanvaar. “Volgens die beleid is die universiteit verbind tot Afrikaans as akademiese taal, maar ook tot Engels in die belang van toeganklikheid, sowel as Xhosa waar moontlik.”

De Villiers is die US se 12de rektor en visekanselier. Hy is ʼn oudstudent en mediese dokter wat ook in Engeland en Amerika gestudeer en gewerk het voordat hy twee jaar gelede na Suid-Afrika teruggekeer het.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Peet Schabort ·

My HAT-woordeboek (nog nie getransformeer) sê transformasie=gedaanteverandering.
Op sy beurt weer is gedaante=uiterlike voorkoms.
Nou verstaan ek dat dit gaan oor die uiterlike verandering van die voorkoms.
M.a.w. dit wat tans (uiterlik) gesien word moet verander.
In hierdie geval is personeel ter sprake. Personeel se velle het verskillende kleure.
Nou is daar té veel kleure van Europese afkoms en té min van die anderskleuriges.
WAT BINNE-IN DIE KOP IS MAAK SKYNBAAR NIE SOSEER SAAK NIE. WAAROM KAN DAAR NIE NA DIE PERSOON SE GELEERDHEID GEKYK WORD NIE EN BASTA MET DIE VELKLEUR!!!!!!
Hierdie universiteit begin ook nou, soos met rugby, krieket ens., kyk na transformasie as die einddoel.
Daar is ook, glo ek, standbeelde en borsbeelde wat getransformeer moet word.
Daar behoort kundiges te wees om lg. sakie te hanteer. Hou die blikke verf reg.

zahn ·

More Peet.

Liewe Prof. Ek het laasjaar probeer om my dogter by u instansie in te skryf, om fisioteapie te swot. Daar word net 40 (55?) studente gekeurvir die betroke kursus. Slegs 8 van hierdie studente mag blank wees. (Ek daag u uit om dit na te gaan.) Die ander stoele word toegeken op grond van ras. Ongeag hoe goed die kind op skool gedoen het. Dan is die toelatings vereistes vir die voornemende studente ook agewater, hoe donkerder jy gepigmenteerd is.
Tot presies waar wil jy transformeer? Tot daar glad nie meer na blank gekyk kan word nie? Jul toelatingsvereistes is klaar afgewater, soos genoem. Met ander woorde, teen die tyd wat die student klaarmaak, as hy klaarmaak, is die beroep ook afgewater. Die kwaliteit van die mediese sorg is nie meer belangrik nie, dis nou net transformasie wat tel. Miskien is jy reg prof, miskien is ‘n debat hieroor nodig, want regtig, so kan dit nie aangaan nie! Waar kan mens dan tuis voel? En voor julle dink ek is erg rassisties, die kleurling en Indiër se kwotas by hierdie instansie vir hierdie kursus lyk nie veel beter as die blankes se kwota nie. Maroela, julle kan modereer, ek kan bewys wat ek nou hier kwytraak. My groot probleem is dat Solidariteit se Universiteit nie ‘n mediese fakulteit het nie, ek sal my dogter onmiddelik soontoe gestuur het.

Willie ·

Zahn, ek stem 100% wat jy se. My sienswyse rondom transformasie in hierdie land is niks anders as blatante politike onderdrukking nie. Kwalitatiewe onderig speel nie meer n rol nie maar wel kwantitatiewe onderig. Hierdie is n fyn politieke spel wat gespeel word om die blanke stelselmatig van sy identiteid te ontneem as n relivante mag. Universiteite sal n slagveld word vir blankes en ander heenkome sal gevind moet word.Dit is ondenkbaar dat ek as ouer my meisiekind in n situasie moet plaas waar ek my eie gewete sal verkrag met die wete dat sy geensins veilig is met die beskerming wat hierdie regering bied nie.Mag die Here ons behoed en insig gee aan die wat nog oor is om ons te lei in n rigting waar daar sonder smart n plekkie in die son sal wees.

Rupert Ashford ·

More Zahn, Willie. Ek het hierdie gesprek met myself gehad toe my dogter nog jonger as een jaar oud was. As daar teen my en my vrou gediskrimineer moet word as “pay-back for way-back” dan is dit maar reg so. Maar ek as ouer kan nie my kind in die oe kyk en dit maar gelate aanvaar dat dit met haar gebeur nie. Dit is baie moeilike besluite – sterkte vir julle.

Piet ·

Het vanoggend na die nuwe rektor op RSG geluister. Afrikaanssprekendes kan maar totnieweersiens vir Stellenbosch sê en dis ons eie skuld, want ons wil nie veg vir ons eie nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.