Debat van nasionale belang oor plaasaanvalle in parlement gehou

(Foto: Reint Dykema)

Die speaker van die Nasionale Vergadering het die DA se versoek toegestaan vir ʼn debat van nasionale belang oor die vlaag plaasaanvalle en -moorde in die land.

ʼn Datum vir die debat sal binnekort vasgestel word. “Dit is van kritieke belang dat die parlement sy platform gebruik om die gevaar daaraan verbonde te beklemtoon om in landelike gemeenskappe te leef en te werk,” het Dianne Kohler Barnard, DA-LP, gesê.

Die DA het verlede maand ʼn omvattende veiligheidsplan bekendgestel om aanvalle op boere, plaaswerkers en landelike gemeenskappe te bekamp. Die party dring ook daarop aan dat plaasaanvalle, indien nodig, as haatmisdade geklassifiseer word.

“Daar was ʼn beduidende toename in die aantal plaasaanvalle sedert die begin van hierdie oënskynlik eindelose afsonderingstydperk. Hierdie aanvalle was gruwelik en het met brutale marteling gepaard gegaan.

“Die landbousektor word steeds bedreig deur hierdie wisselvallige veiligheidsituasie ondanks, of miskien as gevolg van, die ANC se ontkennende houding, en spesifiek dié van pres. Cyril Ramaphosa wat in 2018 gesê het dat geen boere in Suid-Afrika vermoor word nie.”

Ramaphosa het vroeër die maand wel die regering se kommer oor plaasaanvalle uitgespreek nadat hy gepols is oor sy stilswye rakende plaasaanvalle en -moorde.

“Die ANC-regering is tevrede daarmee om hulle bloot blind te hou vir die marteling, verkragting en moord op mans, vroue en kinders van alle rasse in ons landelike gebiede sedert die ANC die kommando-eenheid in 2003 skielik afgeskaf het.

“Die DA is aan die ander kant daarvan oortuig dat hierdie aanvalle ʼn nasionale noodtoestand is en dat dit dringend aandag moet kry.”

Dianne Kohler Barnard.

Volgens Kohler Barnard het die DA die afgelope paar weke werk gemaak van sy veldtog rakende landelike veiligheid. Daar is meer as 20 haatdraende inskrywings op sosiale media aan die Menseregtekommissie gerapporteer en ʼn landwye hof-moniteringseenheid is bekend gestel wat spesifiek ʼn bydrae sal lewer in hofsake oor plaasaanvalle en om die skuldiges agter tralies te kry.

Daar is ook gesprekke met verskeie instellings begin met die oog op ʼn nuwe studie oor landelike veiligheid en die oorsake van die aanvalle en marteling van die boeregemeenskap. Volgens die DA werk dié party ook saam met landbou-unies aan veiligheidsaangeleenthede en het hy ʼn beroep gedoen dat plaasaanvalle as ʼn prioriteitsmisdaad verklaar moet word en gespesialiseerde eenhede ingestel moet word om dit hok te slaan.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn parlementslid se woede oor plaasaanvalle en -moorde Dinsdagaand die ANC en EFF tydens die begrotingsdebat oor landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming stom gelaat het.

“Ek is woedend omdat dieselfde regering wat vroue, kinders en ander kwesbares in die steek laat, ons land se boere in die steek laat,” het die DA-LP Thandeka Mbabama gesê.

Dit was die eerste keer dat ʼn swart parlementslid ʼn hele toespraak aan die beskrywing en veroordeling van plaasmoorde wy en dit het kennelik ʼn groot uitwerking gehad op ANC-LP’s. Selfs EFF-lede het in stilte sit en luister eerder as om soos gewoonlik tussenwerpsels te skree.

“Plaasmoorde ken geen ras of kleur nie. Plaasmoorde ken geen geslag nie en is nie tot ʼn ouderdomsgroep beperk nie. Waarom ontken die regering en die president hierdie gegewens?” het ʼn emosionele Mbabama gevra.

“Plaasmoorde se bekamping moet geprioritiseer word; dit moet beklemtoon word. Die boerderygemeenskap moet weet: Ons staan by ons boere. Ons staan by u. Daarom sal die DA alles in die stryd werp om plaasaanvalle tot haatmisdaad te laat verklaar.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Werner ·

Bravo DA sien julle kry dit reg om nog n paar naiewes ore aan te sit . Debatte gaan geen einde aan aanvalle bring nie dit word nou al 25 jaar gevoer DA skrik nou eers wakker

Piet ·

DA is al LANKAL wakker. Die eerste en enigste party wat reeds ‘n paar jaar gelede ‘n optog gereel het teen plaasaanvalle. Boonop behoort ons dankbaar te wees dat iemand (al is dit die DA) hierdie probleem nou met mening pak terwyl almal voor hulle misluk het. Gee eerder ondersteuning vir die poging as om met allerlei politiekery vorendag te kom.

Werner ·

DA soek net stemme hulle debatte gaan nie dadels voortbring nie . Toe ons al twintig jaar terug gese het plaasaanvalle is polities gedrewe toe wonder die DA of daar so iets is . Nee wat hulle is mosterd na die maal . Nou omdat hulle n paar nikseggende geluide maak is hulle wonderlik.TLU het al jare terug debatte gevoer toe was die DA een van die wat ons aangevat het nou skrik hulle eers wakker om gou nog n paar stemme te werf.

katerinadiekat ·

Ek is maar te dankbaar vir enigiemand in die parlement wat die plaasmoorde bespreek!

gatgogga ·

Werner, hoe sal jy voel as Dr Groenewald, byvoorbeeld, verklaar dat die VF+ nie die debatte gaan steun nie, want hulle hou nie van die DA nie?
Die saak is tog reg, hoekom moet kleinlike politiekery nou weer veroorsaak dat ons nie almal ons volle steun kan gee nie.
Ons verloor daagliks, en so maklik, omdat die ANC al lankal weet dat ons nie kan saamtrek nie.

Jakes ·

Geluk DA, kom ons kyk of daar iets van sal kom. Die BLM sage in SA sal beslis bevraagteken word indien die regering tydens die opkomende debat oor plaasmoorde weereens stilbly.

Lourens CFG ·

Jy weet , met als is daar geen dringendheid nie.
Die howe, regering ens stel alles alewig uit vir maande, as hulle iets wat dringend is moet bespreek, “sal ‘n datum later vasgestel raak”, of sal dit oor 3, 4, + maande gebeur.
Geen wil om enigiets te bespreek of werk aan te doen nie.
(Behalwe natuurlik as dit covid, salaris of nóg inperkings is)

gatgogga ·

Die howe is gekaap (omgekoop?) – Dit word by die dag duideliker.

Maroela Burger ·

Bring terug die doodstraf vir alle oortredings waar mense aangeval en gedood of erg beseer word.
Bring terug die verpligte diensplig of verpligte polisie diens en ook verpligte verpleging om sodoende alle jong mense vir ten minste twee jaar van ‘n inkomste te voorsien eerder as om net ‘n gratis vergoeding te gee. Dit kan dan gebruik word om grense, plase en plekke te beskerm wat moet beskerm word asook jeugdiges weer waarde vir die lewe te gee. Dit sal jeugdiges weer respek vir ander gee en hulle uit die kwaad hou. Dit sal ook help om die regering se salaris rekening te help klop en die verwyt van rasse voordeel help beveg.
Daar kan selfs bou projekte gedoen word waar huise vir armes gebou kan word deur n afdeling van die diensplig wat spesifiek ambagsmanne oplei.
Bring terug die vergoeding aan maatskappye wat vakleerlinge oplei in alle bedrywe.
Neem weg die minimum loon wet en vervang dit met ‘n basiese salaris plus ‘n maandelikse produksie bonus.

Jack ·

Die kommando eenhede is afgeskaf omdat dit plaasaanvalle te moeilik maak. Hoekom anders want niks is in die plek daarvan gestel nie. Die kruise se alles.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.