Deedat-gesin: Dié getuienisse volgende jaar aangehoor

Nazeema Ahmed in die getuiebank. (Foto: Verskaf)

Die kruisondervraging van Suraya Deedat se ma, Nazeema Ahmed, is Maandag in die Johannesburgse landdroshof afgehandel.

Die geregtelike doodsondersoek na die vlammedood van Suraya en haar vier kinders in 2011 sal weer in Februarie 2021 voortgaan wanneer ’n branddeskundige, versekeringsassessor, ’n familielid van Suraya se man, Naeem Deedat, asook lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens na die getuiebank geroep sal word.

Die saak is vir 10, 11, 15 en 16 Februarie op die hofrol geplaas.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, verteenwoordig die familie van Suraya en haar kinders. Naeem is die enigste lid van die gesin wat die brand oorleef het.

Die private vervolgingseenheid hoop dat die geregtelike doodsondersoek sal lei tot geregtigheid vir Suraya se familie en dat die hof sal gelas dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vervolging moet instel, sê Natasha Venter, adviseur by die eenheid.

Maroela Media het vroeër berig Suraya se ma het vroeër getuig dat Suraya die enigste broodwinner was en haar man vir die duur van hul huwelik byna deurentyd werkloos was. Suraya het onder meer ’n onderneming bedryf waar sy hoenderstukke verkoop het. Ahmed het getuig dat haar dogter haar kort voor die brand gevra het om R50 000 in kontant, wat sy in ’n doeksak gebêre het, vir haar veilig te hou. Ahmed wou egter nie soveel geld in haar huis hou nie.

Suraya se familie weet nie wat ná die brand van die geld of die voorraad van Suraya se onderneming geword het nie. Ahmed het wel die doeksak op een van die foto’s van die toneel uitgewys. Die doeksak het nie gebrand nie.

Die brand het in die oggendure plaasgevind en Naeem het dieselfde dag nog die huis besoek om, volgens Ahmed, items bymekaar te maak wat nie deur die brand beskadig is nie. Dít ten spyte van die feit dat hy nie sy kinders of vrou se liggame wou uitken of die seremoniële roudae wou bywoon nie. Al besittings wat die familie van Suraya gekry het, was ’n paar persoonlike items wat iemand in ’n swart plastieksak op die sypaadjie gelaat het.

Ahmed het ook getuig dat sy en haar man gereeld gesien het dat Naeem vir Suraya in die huis toesluit wanneer hy die huis verlaat het en dat Suraya en Naeem nie ’n gelukkige huwelik gehad het nie.

Ahmed het verder getuig dat Naeem se familie slegs vir hom klere gebring het nadat iemand hulle gebel het om hulle in kennis te stel van die brand, ten spyte van die feit dat hulle nie op daardie stadium sou kon geweet het dat hy die enigste oorlewende was nie.

Volgens Ahmed het Naeem ook nie ná die brand met hul gesin kontak gemaak of gepoog om te verduidelik wat op die aand van die brand gebeur het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Marcello

Adv. Gerrie Nel wys hulle wat in jou steek, net jy kan dit uitpluis….