Deel van ma se lewer kan baba red

Die drie maande oue Christian Prinsloo is sonder dreineringspypies in sy lewer gebore en benodig dringend ʼn leweroorplanting. (Foto: Verskaf)

“Ek bid dat daar ’n uitkoms vir klein Christian is en hoop dat ’n gedeelte van my lewer sy lewe sal kan verleng.”

Só het ’n hartseer Chané Prinsloo van Bloemfontein in die Vrystaat Donderdag aan Maroela Media oor haar drie maande oue babaseuntjie gesê.

Christian is met ’n ernstige lewerdefek gebore en benodig dringend ’n leweroorplanting.

Chané het dieselfde bloedgroep as haar seun en daarom hoop die gesin om genoeg geld bymekaar te skraap sodat Christian dié broodnodige operasie by die Donald Gordon- mediese sentrum in Johannesburg kan ondergaan.

Kobie Pretorius, Christian se oupagrootjie, vertel dat sy agterkleinkind sonder dreineringspypies in sy lewer – wat veronderstel is om na die dermkanaal te gaan –  gebore is.

“Ons het in ’n stadium opgemerk dat hy baie geel is. Hy het ook baie siek geword en ons het hom hospitaal toe gevat.

“Dokters het ons meegedeel dat Christian nie dreineringspypies in sy lewer het nie, met die gevolg dat gifstowwe in die lewer opbou. Die lewer bly ook voortdurend swel aangesien niks kan dreineer nie.”

Christian by sy ma, Chané. Dié foto is geneem kort voor hy baie siek geword het. (Foto: Verskaf)

Christian was die afgelope week in die Vincent Pallotti-hospitaal in Kaapstad nadat hy verlede Maandag ’n groot operasie onder leiding van dr. Alastair Miller en prof. Robin Brown ondergaan het om sy lewer te dreineer. Dit was egter onsuksesvol.

“Dokters het ’n snit in sy lewer gemaak en dit aan die dunderm self gekoppel met die hoop dat dit dan sou dreineer. Sy galblaas is ook verwyder.”

“Hoewel hy baie goeie sorg ontvang het, kan hulle niks meer in Kaapstad vir hom doen nie. Hulle het hul bes probeer, maar hy moet nou dringend by die Donald Gordon-hospitaal uitkom vir ’n moontlike leweroorplanting.”

Die gesin het ’n mediese fonds, maar dit is egter lankal uitgeput vanweë verskeie hospitaalopnames, doktersbesoeke en duur medikasie. Christian se oupa en ouma, asook Pretorius en sy vrou, Christian se oumagrootjie, het reeds verskeie lenings aangegaan om hulle klein- en agterkleinkind se mediese uitgawes en ook die reis na Kaapstad te dek.

Liefdadigheidsorganisasies soos die Wings and Wishes-stigting en ander barmhartige samaritane het reeds ingegryp om van dié uitgawes asook verblyf in Kaapstad te dek.

Uitstaande mediese rekeninge hoop egter steeds op en volgens inligting van die Donald Gordon- mediese sentrum kan ’n leweroorplantingsoperasie tussen R1 miljoen en R2 miljoen kos.

Die drie maande oue Christian Prinsloo is sonder dreineringspypies in sy lewer gebore en benodig dringend ʼn leweroorplanting. (Foto: Verskaf)

“Dinge lyk op die oomblik baie donker,” sê Pretorius.

Die gesin moet voorlopig sowat R100 000 opdok vir uitstaande rekeninge terwyl daar nóg uitgawes op pad is.

Wings and Wishes het dit moontlik gemaak vir Christian om Vrydag met ’n lugambulans na Bloemfontein gevlieg te word waar hy tans in die Unversitas-hospitaal opgeneem is. Die res van die gesin het ook Vrydagmiddag na Bloemfontein teruggekeer.

“Christian se toestand het die afgelope week verslag en daarom kon hy nie in ’n gewone motor of ambulans vervoer word nie.

“Hy sal waarskynlik in Universitas bly tot dat hy Johannesburg toe kan gaan. Ons is ook ingelig dat dokters van Donald Gordon, ’n private hospitaal, ook soms pasiënte met lewerprobleme by die Charlotte Maxeke-staatshospitaal behandel.”

Pretorius sê dis ’n geweldige spanningsvolle tyd vir die gesin en dat sy kleindogter uiters emosioneel is.

“Ek moes vandeesweek apteek toe gaan om vir ons almal iets vir die stres te kry,” het Pretorius bewoë gesê.

’n Back-a-buddy-geldinsamelingsprojek is intussen vir Christian gestig met die hoop om genoeg geld in te samel sodat hy die nodige behandeling en moontlike oorplanting kan kry.

“Ek bid dat mense hulle harte vir Christian sal oopmaak,” sê Prinsloo.

Indien iemand Pretorius direk wil kontak kan hy by 064 890 1406 bereik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
melaney

Baie hartseer. Hoop daar kom goeie nuus.

Iwan

Wys jou die integriteit van mediesefondse. Hulle sal eerder iemand se lewe in gevaar stel as om iets meer te betaal. Hoeveel mense betaal elke maand medies vir jare sonder om te eis. Doen die som. Word hulle terug ooit terug betaal? Nee!
Eks seker die fondse kan dit maak gebeur.

Die Boerepompie

Sal ook my alles gee vir my kinders