Deel van pad aan Wes-Rand sak weg ná reën

Die provinsiale pad in Roodepoort. (Foto: Verskaf)

Die Johannesburgse Padagentskap (JRA) het verskeie paaie in die stad gesluit nadat aanhoudende reën en oorstromings groot skade veroorsaak het en selfs tot die wegsak van ʼn deel van ʼn opgeboude pad aan die Wes-Rand gelei het.

Die agentskap het op sosiale media aangekondig dat ʼn deel van Hendrik Potgieter-weg in Roodepoort tot verdere kennisgewing vir verkeer gesluit is.

Foto’s van die pad wys hoe ʼn gedeelte van die ryvlak weggesak het.

“Spanne het reeds die pad beveilig en ingenieurs is besig met strukturele assesserings om die omvang van die skade te bepaal,” sê Bertha Peters-Scheepers, woordvoerder van die JRA.

Dele van Gauteng, en veral Johannesburg, het die afgelope week gebuk gegaan onder swaar reënval wat tot kitsvloede en oorstromings gelei het. Woonbuurte in die stad, spesifiek Roodepoort, is ook al dae lank sonder krag nadat die kraginfrastruktuur plek-plek beskadig is.

Nog twee brûe en dele van strate in Protea Glen en Naledi is gesluit weens oorstromings in die gebied.

Ndabastraat in Protea Glen is tussen Manothsestraat en Tshabangustraat gesluit nadat oorstromings groot skade aan die padinfrastruktuur aangerig het. Phakoestraat is tussen Sagewoodstraat in die weste en Bhaqastraat in die ooste gesluit.

“Opruimingsbedrywighede is reeds in ander dele van die stad onderweg waar oorstromings skade aangerig het,” sê sy.

“JRA se spanne staan ook gereed om op noodgevalle te reageer in brandpunte wat in die stad geïdentifiseer is en om die veiligheid van motoriste, voetgangers en inwoners te verseker.”

Die agentskap het die inwoners van Johannesburg gemaan om brûe in veral Soweto te vermy, veral as daar ʼn moontlikheid van kitsvloede is.

Beeldmateriaal is Dinsdag op sosiale media gedeel oor die stand van verskeie paaie in Johannesburg. In die meeste gevalle het dele van paaie ineengestort of dele van die teer opgelig, wat reuseslaggate gelaat het.

Die JRA het ook ʼn beroep op motoriste gedoen om veral ag te slaan op padtekens en verkeersaanwysings wat op paaie in die stad geplaas is.

“Die verkeerstekens dui aan of sekere paaie toegemaak is, oorspoel is of onveilig is om te gebruik weens waterskade wat aangerig is,” sê Peters-Scheepers.

“Indien kitsvloede ontstaan word motoriste aangemoedig om die gebied te verlaat en in ʼn hoogliggende gebied te skuil.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pietertjie ·

Jy is baie optimisties, ek skat dit gaan nader aan tien jaar wees.

WILLEM ·

Hoekom is ons land in soveel probleme??
Is God nie besig om met ons te praat nie??
Oorstromings is deel van Sy uitreik om terug te keer tot Hom.
Ons is verplig om die Gelofte wat jare gelede gemaak is – wat maak ons – ons het alle verskonings ens.
God laat Hom nie bespot nie.

Gert ·

Ek stem saam met jou. Soms moet God n’ storm stuur in jou lewe of jou volk sodat daar weer na Hom geroep sal word of dalk jou plat op jou rug laat val om jou weer op te laat kyk.

Judy ·

Ek stem saam Willem – Ek dink God praat met ons maar hy is ook kwaad oor goed wat hier aangaan wat vir hom nie reg is nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.