Deelnemer sterf tydens Twee Oseane-marathon

Argieffoto

ʼn Vroulike deelnemer is Saterdag tydens die bekende Twee Oseane-marathon in Kaapstad dood.

Organiseerders het bevestig dat die 43-jarige vrou aan die halfmarathon deelgeneem het toe sy gesterf het.

Volgens die organiseerders het die vrou baie olik gevoel voor sy op Southern Cross-rylaan ineengestort het. “Ondanks onmiddellike en voortgesette mediese aandag, kon die hardloper nie weer bygebring word nie,” het die Twee Oseane-organiseerders in ʼn verklaring gesê.

Carol Vosloo, algemene bestuurder van die Twee Oseane-marathon, het gesê: “Ons wil ons innige medelye met haar geliefdes betuig en ook dankie sê aan haar medeklublede wat hul eie eindtye opgeoffer het om by haar te bly en haar te help.”

Duisende mense het Saterdag aan die Twee Oseane-halfmarathon en -ultramarathon deelgeneem. In die ultramarathon het Suid-Afrika se Gerda Steyn eerste oor die wenstreep genael in ʼn tyd van 3:39:36. Pole se Dominika Stelmach was tweede met ʼn tyd van 3:41:54 en Charne Bosman van Suid-Afrika derde met 3:45:08.

In die vroue-halfmarathon was Nolene Conrad eerste met ʼn tyd van 76:17, gevolg deur Betha Chikanga van Zimbabwe met 76:42 en Susy Chemaimak van Kenia met 77:01.

In die mans-ultramarathon het Kenia se Justin Kemboi met die goue medalje weggestap in ʼn tyd van 3:09:21. Lebenya Nkoka van Lesotho was kort op sy hakke deur in 3:10:29 oor die wenstreep te nael en in die derde plek was Suid-Afrika se David Gatebe met ʼn tyd van 3:11:12.

In die mans-halfmarathon het David Manja die eerste plek ingepalm in 64:07, Lesotho se Namakoe Nkhasi was tweede in 64:14 en Kenia se Bernard Kipkemoi was derde met ʼn tyd van 64:17.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.