Dele van Charlotte Maxeke-hospitaal weer oop

Groot skade is aangerig tydens ‘n brand by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg (April 2021) (Foto: Twitter)

Die onkologie-eenheid van die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg sal vanaf Maandag weer in werking wees. Dít nadat ʼn brand meer as twee maande gelede dele van die hospitaal verwoes het.

David Makhura, premier van Gauteng, het Donderdag aangekondig dat die uitvoerende raad tydens ʼn spesiale vergadering besluit het om reeds dele van die hospitaal te heropen en nie eers op 5 Julie soos vroeër vandeesweek aangekondig is nie.

Makhura het gesê net dele van die hospitaal wat nie struktureel deur die brand beskadig is nie, sal weer oopmaak.

“Enige verdere vertragings in die heropening van dié hospitaal sal ernstige gevolge vir pasiënte inhou. Die hospitaal is noodsaaklik om die Covid-19-pandemie in dié provinsie te bestuur omdat die personeel gespesialiseerde gesondheidsdienste aan verskeie hospitale en primêre gesondheidsfasiliteite verskaf.”

Die onkologie-eenheid sal na verwagting Maandag heropen, gevolg deur blokke een, twee, drie en vyf van die hospitaal.

“Blokke een en twee is struktureel veilig, asook blokke drie en vyf. Blok vier sal egter langer neem om te heropen weens die omvattende skade wat deur die brand veroorsaak is,” het Makhura gesê.

Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, het Makhura se aankondiging verwelkom en gevra dat die intensiewesorgeenheid ook vinnig op die been kom.

“Dit is noodsaaklik om die hospitaal se intensiewesorgeenheid funksioneel te maak, aangesien daar ʼn tsoenami van Covid-19-gevalle in Gauteng is,” het Bloom gesê.

“Daar is nog talle vrae wat beantwoord moet word oor waarom die hospitaal nie vroeër heropen kon word nie, maar die DA is verlig dat gedeeltes daarvan darem in werking sal wees sodat lewens tydens die pandemie gered kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Stel ‘n kommissie van ondersoek in en dan sal die hospitaal nie weer in hierdie jaar van Charlotte Maxeke oopgemaak word nie. Who cares???

Tokkel ·

Dankie DA vir die druk op die regering. Dink net aan al die mense wat kanker het wat nie mediese behandeling kon kry, omdat die ANC sloer met alles. Dit is ‘n skande dat mense wat nie medies kan bekostig onnodig moet wag as die fasiliteit al oopgemaak kon gewees het.

Die Boerepompie ·

Ek wonder hoe vylig sal die hospitaal wees vir die mense .Ek gol daar sal proebeer word om die plek oop te maak ,maar of dit gaan gebeer sal ons maar sien .Hy konnie eers die plek reg bedryf toe daar nie n brand was nie nou hoe gaan hulle dit nou reg kry ….ja sal maar sien

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.