Dele van Charlotte Maxeke steeds gesluit

Argieffoto van ‘n wagkamer by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg. (Foto: GCIS)

Sommige dele van die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg is nege maande ná ’n brand daar uitgebreek het, steeds vir pasiënte gesluit.

Ten spyte van beloftes dat die ongevalle-eenheid vandeesmaand sou heropen, word pasiënte steeds meestal na die Helen Joseph-hospitaal se ongevalle-eenheid herlei. Dié hospitaal is egter nie in staat om nóg pasiënte te hanteer nie, met sommige wat reeds dae lank in stoele sit voordat hulle in ’n saal opgeneem word.

Geestesgesondheidpasiënte ly ook daaronder met die verlies van 40 beddens in die hospitaal se psigiatriese eenheid.

“Lewens is in gevaar aangesien duisende pasiënte toegang tot spesialisdienste verloor het. Dit sluit in geestesgesondheid, kanker, hartsiektes en asemhalingsiektes,” sê Jack Bloom, die DA se skaduminister vir gesondheid in Gauteng.

Die hospitaal is in April verlede jaar gesluit nadat ʼn brand langer as ʼn dag daar gewoed en groot skade aangerig het. Die brand het op 15 April in ʼn apteek se pakkamer uitgebreek en byna 12 uur lank gewoed voordat brandbestryders dit in bedwang gebring het.

Argieffoto van die brand by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg (April 2021) (Foto: Twitter)

Volgens die opposisieparty val pleidooie om die brandgeteisterde hospitaal in sy geheel so gou moontlik oop te stel, op dowe ore.

Bloom sê pres. Cyril Ramaphosa het steeds nie reageer op die ope brief wat prof. Adam Mahomed, die hospitaal se hoof van interne geneeskunde, in Desember aan hom gestuur het oor die “nasionale krisis” by die Charlotte Maxeke-hospitaal nie.

Nomathemba Mokgethi, Gautengse LUR vir gesondheid, het ook nog nie ’n duidelike tydlyn vir die heropening van alle dienste by die hospitaal verskaf nie.

“Die voortgesette sluiting is ’n verskriklike slag vir gesondheidsdienste in Gauteng. Ek vrees dat veral baie kanker- en hartpasiënte gaan sterf terwyl die agterstande vir operasies kommerwekkend groei,” sê Bloom.

Volgens hom behoort die nasionale tesourie dringend bykomende fondse beskikbaar te stel vir die Charlotte Maxeke-hospitaal wat ook pasiënte van ander provinsies moet behandel.

“Ek het egter min vertroue dat die wanfunksionele Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling die kundigheid het om die hospitaal vinnig te herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Marcello ·

Dit is mos nie vreemd nie, alles wat in 1994 oorgeneem is, val uit mekaar uit……

domheks ·

Ramaphosa sal seker “geskok” wees…. soos gewoonlik. anc kan NIKS instandhou nie…

Deon ·

Staatseiendom word net eenvoudig nie in stand gehou nie. Kyk maar die agteruitgang oor die afgelope 20 jaar- geboue, paaie, infrastruktuur van elke aard! Alles, en maar alles gaan tot niet en nou is daar ook nie meer geld oor om enigsins iets ordentlik te herstel nie. Dit is n absolute skande!

Shakespeare ·

Brandstiging. PUNT !! En nou word die herstelkoste deurgegee aan kaders, wat ‘n ENORME probleem is.

Misky ·

Hier gebeur niks by ‘n lokale en belangrike hospitaal nie, maar meer as 500 miljoen word oorbestee aan die Anglo Gold Ashanti hospitaal. En hy staan nou leeg en beteken niks vir niemand nie. Iemand moet pa staan vir hierdie absurde besluite wat geen sin maak nie.

Sê maar net ·

Uiters swak. Wat ‘n skande….en Rama het vir maande lank, nog nie eens op die ope brief gereageer nie. Die arme psiënte ly hieronder…..tragies.

Frank John ·

Hulle dink daar is oneindig baie geld. Hulle breek af en verwoes en besef nie daar is nie geld om weer op te bou nie. Dan wil hulle kla oor daar nie diens is nie maar diens lewering kos ook geld.

Pietertjie ·

Dit doen natuurlik die vryheidsvegter na wie die plek vernoem is, se naam “groot eer” aan, want dís die gevolg van hulle gevegtery.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.