Dele van Jhb nog sonder krag ná storms

Verskeie Johannesburgse buurte was spierwit van die hael. (Foto: Zulu Sunshine/Twitter)

Inwoners van verskeie Johannesburgse buurte sit al ure lank sonder krag nadat hewige haelstorms kraginfrastruktuur in die stad beskadig het.

City Power, Johannesburg se kragverskaffer, het Dinsdagoggend sowat 2 500 oproepe ontvang oor kragonderbrekings in die stad.

Beeldmateriaal van die storm is wyd op sosiale media gedeel en wys hoe paaie in riviere verander het, grasperke wat spierwit lê van die hael en boomtakke wat die strate vol lê.

“Hewige storms het sommige elektriese infrastruktuur beskadig, kragpale omgegooi, transformators verspoel en bome op elektrisiteitskabels laat val,” sê Isaac Mangena, woordvoerder van City Power.

“Ons verwag ook dat baie kabels en broodnodige toerusting in die volgende paar dae onklaar gaan raak weens minisubstasies wat oorstroom en geboue wat waterskade opgedoen het.”

Die gebiede wat die swaarste getref is, is Roodepoort, Midrand, Randburg, Alexandra, Hursthill en Lenasia.

Bome het ook oor verkseie paaie geval. (Foto: Mmamphago/Twitter)

City Power is sedert die storm onder “geweldige druk” terwyl sy spanne spook om kragtoevoer te herstel. Van die spanne kon egter nie vanoggend by die beskadigde infrastruktuur uitkom nie, aangesien paaie in daardie stadium nog onder water of met puin bedek was.

Die maatskappy het egter sy spanne se kapasiteit aangevul om die agterstande so gou moontlik te pak.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het voor die verwoestende storm gemaan dat die oostelike dele van die land, waaronder ook Gauteng, hewige donderbuie kan verwag en het gewaarsku teen die moontlikheid van hael en sterk wind.

Die weerdiens het opnuut gewaarsku dat donderstorms Dinsdag oor Gauteng, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en die Vrystaat verwag kan word.

Dele van die Oos-Rand, eMalahleni (Witbank), Middelburg, Krugersdorp, Vaalwater en Vereeniging kan Dinsdag ook haelstorms en sterk wind ondervind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lillian ·

Dank vader ons het nie hael gehad aan die Oos-rand (Benoni) nie, maar die krag by die kantoor is al af van gister 11;30, sonder dat enigiemand lig kan werp hoekom … tipies né. Eskom se probleme is nou ons sin.

Danie ·

Die plaaslike regerings het genoeg tyd en geld gekry om opknappings te doen.Hulle moet net op die gemeenskap se behoeftes begin konsentreer dan sal baie meer vermag word.

Harley Davidson ·

Dele van Suid-Afrika ook agv beurtkrag wat nou ‘n permanente instelling word weens Escom en sy bestuur wat maar net nie die pyp kan rook nie maar aanspraak maak op groot vergoedingspakkete .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.