Dele van Johannesburg is vandeesweek sonder elekritisiteit gestrand gelaat nadat ’n oliegevulde toevoerkabel in die stad deur ’n kontrakteur beskadig is.
Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, bevestig dat dele van die Goudstad eers vanaf eerskomende Saterdag weer elektrisiteit sal hê weens skade aan die Van Beek- oliegevulde toevoerkabel. Dié dele sluit Doornfontein, Troyville, Jeppestown en Kazerne in.
Mangena verduidelik dat die skade aan die kabel ongeveer 20 m behels. Dit strek ook onderdeur ’n straat. Die skade aan die kabel is daarbenewens op ’n ongemaklike plek geleë wat tegnici se taak bemoeilik om dit te herstel.
Mangena verseker inwoners dat tegnici reeds ’n plan beraam om die pad waaronder dié kabel geleë is te boor, die beskadigde gedeelte van die kabel uit te sny, daarna te vervang met ’n nuwe oliegevulde kabel, asook die holte te lê waarlangs die nuwe kabel geplaas moet word.
Inwoners se geduld sal egter beproef word aangesien dit vier dae bykomend duur om ’n nuwe oliegevulde kabel te laat werk nadat dit vervang is. Die rede hiervoor is dat oliegevulde kabels se vog eers getoets behoort te word vir moontlike lekkasies asook koolstofinhoud. Indien daar enige vog of ander ongewenste materiaal is, moet dit gevolglik eers verwyder word. Die kabel se druk moet ook getoets word.
Om sake te vererger, het die kontrakteur wat die kabel ten eerste beskadig het, ook water gebruik toe die gebied geboor is. Dit beteken dat die perseel nat is en tegnici fyn moet werk om te verseker dat water nie in aanraking met die kabel kom en verdere skade veroorsaak nie.
Die ou kabel en die nuwe kabel moet ook gelas word wat op sigself ’n tydrowende proses is.
Daar is egter lig aan die einde van die donker tonnel. Mangena bevestig dat tegnici reeds Maandagaand met herstelwerk begin het en tot dusver 32% van die beskadigde kabel herstel het.
Elektrisiteitstoevoer sal intussen afgeskakel bly.
Mangena het namens City Power om verskoning gevra vir enige ongerief. Inwoners sal deurentyd op die hoogte gehou word van die herstelproses.
Paar jaar gelede was Kroonstad in dieselfde bootjie toe ‘n oliegevulde kabel beskadig is agv kabeldiefstal. Ons was 10 dae sonder krag. Sterkte aan daai mense. Koop maar ‘n kragopwekker.
Ons krag was vroeer die jaar ook min of meer twee weke af in pta! Sterkte, dis nie lekker nie.
Mense mense kom ek verduidelik hoe krag werk. AC = Alternating Current. DC = Direct Current…. wat sal Absolutely No Current se afkorting dan wees ??