Inwoners van sekere gedeeltes van die Nelson Mandelabaai-metro het sedert Vrydag weer water nadat hulle al amper twee weke onder ’n waterkrisis gebuk gaan.
Die metro het verlede Dinsdag ʼn sogenaamde dag zero vir die stad aangekondig terwyl talle inwoners en ondernemings, hoofsaaklik in die noordelike en westelike dele van Port Elizabeth, al sedert einde Augustus onderbrekings in watervoorsiening ondervind.
Mongameli Bobani, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur en ingenieurswese, het Sondag aangekondig dat inwoners van Beachview en KwaNobuhle weer water het.
“Die reservoir wat water aan KwaNobuhle verskaf se watervlakke is steeds laag, maar die metro sal die situasie deurlopend monitor,” het Bobani gesê.
Bobani het gesê die vlak van die Chelsea-reservoir het vroeër tot 34% toegeneem nadat dit Donderdag slegs 7% vol was. Dit het oor die naweek weer gedaal en staan tans op 14%.
Volgens Bobani het gebiede soos Malabar, Westering, Linton Grange, Sherwood, Hunters Retreat, dele van Rowallan Park, Parsonsvlei en Greenbushes wat water van die Chelsea-reservoir kry, teen Vrydag weer water gehad.
Bobani het ook gesê die gebiede wat water van die Emeraldhill-reservoir ontvang, het ook weer water. Die reservoir voorsien water aan gebiede soos Walmer Heights, dele van Lovemore Park, Mount Pleasant, Miramar, Charlo, Walmer Downs, Overbaakend, Fairview, dele van Newton Park en die boonste gebiede van Lovemore Heights.
Die Emeraldhill-reservoir se vlak het toegeneem en staan tans op 38%.
Bobani het bevestig dat die metro watertenkwaens na die gebiede wat sonder water gesit het, gestuur het. Inwoners het egter gekla oor dié water omdat dit glo nie geskik is vir drinkwater nie en eerder soos gryswater gelyk het. Die metro het ook te min watertenkwaens voorsien om in die aanvraag in al die gebiede te voorsien.
Inwoners is aan hul eie genade oorgelaat en het van buurt na buurt gery op soek na water.
Bobani het inwoners verlede Sondag verseker dat watertoevoer die volgende dag al herstel sou word.
Maroela Media het vroeër berig die stad se opgaardamme is tans gesamentlik 18,91% vol en die stad gebruik meer water as wat in die opgaardamme beskikbaar is.
Bobani het die waterkrisis veral toegeskryf aan die inwoners se hoë waterverbruik wat groot druk op die metro se waterbronne plaas. Die streek steier al geruime tyd onder ʼn droogteramp. Hy sê daar word tans sowat 290 megaliter water per dag gebruik, terwyl die metro veronderstel is om 268 megaliter of minder per dag te gebruik.
Die metro beoog om waterverbruik tot 250 megaliter per dag te beperk om só water te bespaar. Inwoners is ook gevra om water spaarsamig te gebruik.
Die DA het vroeër beweer die stad verloor sowat 46% van sy verwerkte water nog voordat dit die inwoners bereik. Sowat 130 megaliter van die 290 megaliter water word daagliks bloot vermors.
Die metro het verlede week sowat 15 700 waterlekkasies herstel, wat die stad miljoene liter water gaan spaar en keer dat water verlore gaan.
Intussen het Butterworth in die Oos-Kaap en die omliggende gebiede wat onder die Mnquma-plaaslike munisipaliteit val, Maandag ook ʼn dag zero aangekondig. Inwoners van dié munisipaliteit gaan teen die einde van die week dalk ook nie meer lopende water hê nie en sal ook van watertenks afhanklik wees.
Die droogte in die streek plaas ook groot druk op dié gebied.
Volgens Noni Madikizela-Vuso, woordvoerder van die Amathole-distriksmunisipaliteit, gaan daar teen die einde van die maand boorgate in die Teko Kona-gebied gesink word wat die situasie sal help verbeter.
Maar die ANC gooi klippe as hulle held aangevat word oor sy aandeel in die chaos wat die RSA hom bevind. Besef nie watse klad dit op sy naam is as plekke wat so ewe sy naam dra vergaan en verval nie. WHAT A LEGACY!!!!!