Dele van omstrede Rica-wet ongrondwetlik – hof

grondwethof2

Die Konstitusionele Hof. (Foto: Reint Dykema)

Suid-Afrika se hoogste hof het dele van die omstrede Wet op die Onderskepping van Inligting en die Voorsiening van Kommunikasieverwante Inligting (Rica) Donderdag ongrondwetlik verklaar.

Die uitspraak spruit uit ʼn aansoek deur die mediagroep amaBhungane wat die grondwetlikheid van die wet betwis het ná hy uitgevind het een van sy ondersoekende joernaliste, Sam Sole, was die teiken van waarneming onder Rica, terwyl hy die besluit deur die Nasionale Vervolgingsgesag om korrupsieaanklagte teen voormalige pres. Jacob Zuma te laat vaar, ondersoek het.

amaBhungane het aangevoer Rica het nie die nodige veiligheidsmaatreëls om die publiek se reg tot privaatheid te beskerm nie en meen dit is nodig dat sommige dele van die wet onwettig verklaar moet word.

Die Konstitusionele Hof het nou in ʼn meerderheidsuitspraak ʼn vroeëre uitspraak van die hooggeregshof bekragtig dat sekere Rica-bepalings ongrondwetlik is in soverre dit versuim om behoorlike beskerming te bied en voorskrifte te bepaal wanneer waarnemings gedoen word.

(Foto: pixabay)

Die hof het bevind verskeie bepalings in die wet is onvoldoende en dus ongrondwetlik.

Dit sluit in ʼn versuim in die wet om die voldoende prosedure te beskryf om ʼn persoon wie se inligting onderskep word, in kennis te stel en dat dit gedoen moet word sonder om die doel van die waarneming in die gedrang te bring nadat die waarneming afgehandel is.

Die hof het ook bevind die wet versuim om voldoende beskerming te bied teen die feit dat ʼn onderskeppingsopdrag ex parte gevra word – dus sonder dat al die betrokke partye teenwoordig is.

Die hof het beslis daar is ook nie genoeg voorskrifte om te verseker dat data wat ingesamel word wettig bestuur en nie onregmatig mee ingemeng word nie. Dit sluit in onvoldoende voorskrifte oor die behoorlike prosedure wat gevolg moet word indien staatsdiensamptenare data, wat deur onderskepping bekom is, ondersoek, kopieer, deel of sorteer.

Die hof het voorts bevind die wet versuim om voldoende beskerming te bied wanneer die persoon wat waargeneem word ʼn praktiserende prokureur of joernalis is.

Die uitspraak tree dadelik in werking, maar word vir 36 maande opgeskort om die parlement die kans te gee om die wetgewing in ooreenstemming met die Grondwet te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Juffrou ·

Goed só. Dié spul wil mos alewig wette stilletjies oornag deurvoer. Dink ons sal nie weet.

Jywilwat ·

En wat gebeur as daar n uitspraak teen die wette is? Die regering appelleer! Soos gewoonlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.