Dele van Randfontein al byna drie weke droog, donker

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Facebook)

Meer as 12 000 mense wat op kleinhoewes aan die buitewyke van Randfontein aan die Wes-Rand woon, is raadop nadat hulle al byna drie weke lank sonder krag en daarna ook sonder water sit.

Inwoners moet boonop nog twee weke lank wag op ʼn tydelik kragoplossing, terwyl dit sowat vier maande sal neem om die verwoeste kragstasies in die gebied te herstel.

Die Rand West City-munisipaliteit het in ʼn skrywe aan inwoners gesê dat twee substasies, wat gebiede soos Finsbury, Kocksoord, Ten Acres, Middelvlei, Peacehaven en die omliggende kleinhoewes en plase van elektrisiteit voorsien, op 6 Januarie ontplof het.

Volgens Bongani Nkambule, ʼn water-, sanitasie- en elektrisiteitsbeampte by die munisipaliteit, het Eskom ná twee uur lange beurtkrag kragtoevoer herstel toe die ontploffings plaasgevind het.

“Die ontploffings het by die substasies op Tafelbergstraat en La Farge plaasgevind en is vermoedelik veroorsaak deur kabeldiefstal wat tydens die beurtkragtydperk plaasgevind het.”

Albei substasies is erg beskadig en die munisipaliteit raam dat dit miljoene rand gaan kos om die substasies weer aan die gang te kry.

Terwyl woongebiede, ʼn gesondheidsfasiliteit, ʼn skool en plaaslike ondernemings moes spring om alternatiewe maniere te kry om krag op te wek, spook diegene wat op kleinhoewes en plase woon om ook water te hê.

“Die landbougemeenskap het toenemend ʼn tekort aan water omdat hulle weens die gebrek aan krag nie boorgatpompe kan gebruik nie,” sê Nkambule.

Intussen dreig oeste en vee om te vrek, terwyl inwoners kilometers ver moet reis om 20 liter-waterkanne op te vul vir drinkwater, om toilette te spoel en wasgoed te was.

Jean de Beer, voorsitter van landelike veiligheid in Randfontein, beweer dat die plaaslike rioolaanleg ook nou die gees gegee het oor die voortslepende water- en kragprobleme.

“Dit is chaos hier by ons. Die riool loop oor en in die grond in. Mense het duisende rande se kos verloor. Ouer mense se drinkwater raak op en hulle ontwater. Mense wat afhanklik is van medisyne soos insulien, wat koel moet bly, kry dit nie gestoor nie. Dit stuur op ʼn humanitêre krisis af,” sê hy.

“Hierdie krisis veroorsaak dat ʼn hele gemeenskap ten gronde gaan.”

Na raming word altesaam 126 kleinhoewes en plase deur die probleme geraak.

Planne vorentoe

Twee substasies het vroeër vandeesmaand ontplof. (Foto: Verskaf)

Inwoners het dae nadat die ontploffing plaasgevind het, glo steeds nie behoorlike antwoorde uit die munisipaliteit gekry nie en besluit om die strate in te vaar om hul misnoeë te kenne te gee.

Eers vier dae ná die ontploffing het die munisipaliteit se bestuur die inwoners toegespreek en hul besware aangehoor.

Volgens De Beer is die gemeenskap ontevrede omdat die munisipaliteit glo nie alle pogings aanwend om die probleme so gou moontlik op te los nie.

“Almal trek swaar. Ons kan nie weke lank wag vir ʼn kragoplossing nie of afhanklik wees van watertenkwaens wat slegs ʼn paar liter per dag uitgee,” sê hy.

Ná afloop van die samesprekings met die inwoners het die munisipaliteit onderneem om naburige munisipaliteite te nader vir bykomende kragopwekkers om water na landboupersele te pomp en om ander departemente te betrek sodat die probleem so gou moontlik opgelos kan word.

Die munisipaliteit het inwoners ook vandeesweek verseker dat hy reeds besig is om die nodige toerusting en onderdele te kry wat nodig is om herstelwerk aan die substasies te doen. Van dié materiaal moet egter uit die buiteland kom en daarom kan daar nie in hierdie stadium gesê word wanneer die herstelwerk gaan begin nie.

“Wees verseker dat ons tegnici onverpoos werk om tydelike en permanente oplossings vir die probleem te vind.”

Dit het intussen aan die lig gekom dat dit nog etlike weke kan neem vir die munisipaliteit om ʼn mobiele substasie te kry om die geraakte gebiede van krag te voorsien.

“Ons glo dat ʼn ramptoestand verklaar moet word sodat die regering kan ingryp en ons inwoners kan bystaan,” sê De Beer.

“Daar kan nie heeltyd gesê word daar is nie geld nie, maar dan vergaan groot dele van Randfontein van ellende nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Frank ·

Ek bly self in Randfontein en die laaste sin moet wees, daar kan nie altyd gese word daar is nie geld vir instandhouding maar dan spring rye en rye nuwe lae-inkomste woonstel blokke soos paddastoele orals op om nog meer druk op die reeds hopeloos oorlaaide krag, riool en dienslewerings- netwerke te plaas nie en in die voorstedelike gebiede is daar byvoorbeeld dosyne mense (meer as 50) wat op een normale huishoudelike erf plak maar die munisipaliteit niks daaraan doen nie al word riool stelsel gereeld oorstroom.

marius ·

Korrek . Stads en streeks beplanners bestaan nie meer nie . Dieselfde in Limpopo . Drinkwater word gebruik vir massiewe ontwikkelings .

Miskruier ·

Korrek, ons dorp sit net erwe uit en bou rdp huise. Hier is nie infrastruktuur en werk vir almal nie.

JohanR ·

Moet daai bordjie nie verander word na “thanks for not visiting RANDFONTEIN”! Simon en Garfunkel het daai liedjie jare gelede geskryf net vir SA…..hello darkness my old friend.

Johan ·

Substansies ontplof want dit is oorlaai. Mens kan 300 liter water uit 200 liter tenk tap nie

Netso! ·

Dit is hartseer maar baie waar!
Instandhouding speel ook ‘n groot rol.

Johannes ·

Daar moet net een regstelling gemaak word in die artikel. Dit is nie krag stasie nie maar substasie.
Daar is net meer verval te sien in Suid Afrika en die kANC(ker gespuis kry nog elke mand hul salarisse en voordele en ons belasting betalers betaal selfs vir hulle opwekkers en petrol en diesel om die opwekkers aan die gang te hou.

Papsak ·

Weet jy daar is geld vir alles maar vir instandhouding het hierdie na gemaakte regering nooit geld nie hoe werk hulle een breinsel wat hulle het nou hulle skend ons menseregte regtig SA rus lankal regering se skuld

Christine ·

Ons moet onthou die ANC weet niks van hoe om finansies se hanteer, ‘n regering te bestuur of vooruit te beplan vir ‘n werkende ekonomie nie. Hulle is ‘n opgeleide terroristeorganisasie.

Jacobus ·

Met my tong in my kies, wonder ek soms of die ANC minister tog nie reg was, toe hy of sy gesê het, al hulle mislukkings is die NP se skuld?!!
Die NP het sulke groot damme gebou, wat die pype laat bars, die NP het sulke klein rioolwerke gebou, wat nou die riool in die strate laat loop, die NP het so ‘n groot monopolistiese tegnologiese monster geskep, Eskom, , wat veroorsaak het dat alle dorpe en stede se kragstasies vernietig is, die NP het teerpaaie gebou, nou sit ons met slaggate, die NP het ons laat glo ons is ‘n ontwikkelde land, terwyl ons eintlik nog nie ver verby die ossewa-stadium was nie. Die NP het die integriteit, regeer-vermoë en bekwaamheid van die ANC hopeloos oorskat, en die DA nog meer.

Annalize ·

Dis juis waarom mens nou na alternatiewe moet begin kyk. As jy opterrein water kan behandel en ten minste dan weer kan herverbruik vir toiletspoeling, dan het mens darem iets in plek vir tye soos die.
Jy kan ook jou tuin natlei en gewasse met dit besproei. Dit is waarheen mens moet gaan op die einde van die dag. Ja – dit is baie sleg en erg wat aangaan, maar ons het ook die tegnologie en die keuse om iets omtrent dit te kan doen. Die antwoord lê in pro-aktiwiteit.

Tania ·

Dit is tyd dat ons gewone mense ingryp en vir onsself oplossings bied.
Dit is wel nie lekker of goedkoop nie, maar dis n stap in die regte rigting.
Tenke vir reënwater, die stelsels waar jy water op jou erf kan behandel daar is nog baie, soos ek se (nie goedkoop nie) maar n stap in die regte rigting of Eder n stap vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.