Delmas-ma roerend gegroet: ‘Sy het tot die einde baklei’

Rachel Wepener by haar ma, Theresa, se begrafnis. Foto: Facebook via Ben Wepener

Theresa Wepener (45), die ma van Rachel Wepener wat ná ʼn val van ʼn perd gestremd gelaat is en voltydse versorging moet ontvang, is Woensdag finaal gegroet nadat sy verlede week in die gesin se huis oorlede is.

Maroela Media het vroeër berig die Wepener-gesin se lewe het op 11 September 2016 onherroeplik verander toe Rachel, toe 17 jaar oud, in ʼn fratsongeluk met haar drie jaar oue merrie betrokke was. Rachel het haar nek gebreek presies waar die rugwerwels die skedel ontmoet en haar breinstam is erg beskadig. Sedertdien dra Rachel doeke, moet sy gevoer word, kan sy net kommunikeer deur ʼn alfabetbord te gebruik en ontvang sy maandeliks rehabilitasieterapie.

Theresa is met fase 4- serviks-, long- en limfklierkanker gediagnoseer en moes ook na Rachel omsien terwyl sy kankerbehandeling ontvang het. Theresa het tot November verlede jaar steeds gewerk om te help om tot Rachel se mediese onkoste by te dra, voordat sy noodgedwonge weens haar gesondheid moes bedank.

Ben Wepener, Theresa se man, het in ʼn roerende begrafnisbrief geskryf sy vrou moes reeds vroeg in haar lewe met die dood kennis maak. Die egpaar se tweede kind, Avery Louw Wepener, is in Mei 1997 gebore, maar het net nege uur lank geleef. “Ons harte was verpletter en ons moes al vroeg in ons lewe voor ʼn graf staan om ons geliefde seun aan die dood af te staan,” het hy geskryf.

Theresa Wepener. Foto: Facebook.

Hy vertel Rachel se geboorte in November 1998 was “ʼn geskenk van God”. “Ons het eers getwyfel en gewonder hoe ons ʼn meisiekind gaan grootmaak. My vrou het die mooiste kinders gehad, wat die mooiste geskenke van God aan ons was.”

Volgens Ben het Theresa nie toegelaat dat selfs die moeilike pad wat sy ná Rachel se ongeluk moes stap, haar onderkry nie. “My vrou het elke dag, met haar fase 4-kanker, vir Rachel in die hospitaal besoek. Sy het vir maande Rachel self behandel in die aande, doeke geruil en arms en bene geoefen. Sy het fisio gedoen met Rachel tot in November 2017. Sy het alles gedoen om net te kan sien dat Rachel weer kan loop en praat. Sy het alles moontlik gedoen om vir haar dogter te lewe.”

Hy vertel dat hy vroeg in Maart vir Theresa video’s gewys het van Rachel se vordering, hoe Rachel dit reggekry het om met ʼn strooitjie te drink en hoe sy in staat was om haar regterbeen terug te trek. “My dierbare vrou, Theresa, het geknik en duim gewys na my en te kenne gegee dat sy tevrede en gelukkig is.”

Theresa het op 14 Maart in haar bed by haar huis gesterf, met haar seun, Benjamin, aan haar sy. “Theresa-liefie sal onthou word as ʼn fighter. Sy het tot die laaste baklei om toe te sien dat Rachel herstel. Sy was ʼn ma, ʼn vrou, ʼn engel, ʼn sussie, ʼn tannie, ʼn niggie, ʼn skoonsuster, ʼn vriendin en ʼn gawe van God.

“Sy het in haar tyd van siekte vir my gesê dat sy bitter graag haar kleinkinders sou wou gesien het, [maar] sy het vrede gemaak met haar siektetoestand. Sy het tot op die laaste geglo, gehoop en gebid dat God haar volkome sou genees. God het egter ʼn ander plan gehad. My vrou het heengegaan, sonder vrees,” het Ben geskryf.

“Ek dank God vir ʼn wonderlike vrou wat Hy vir my gegee het. Ek sal haar grappe, laggies en kwaadweestye onthou. Sy het my geleer om te glo, te vertrou en geloof te hê. Ek glo dat my vrou se lyding ander mense sal inspireer om soos syself te wees; nie moed op te gee nie en te baklei tot die laaste. Moet nooit moed opgee nie. Voer die stryd totdat jy nie meer kan nie. Voltooi jou wedloop, ongeag of daar hindernisse is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Deloris ·

Ben mag die Here jou optel en dra in hierdie verskriklike moeilike tyd.

Lysa ·

Vandag laat sak ek my kop in skaamte, mens is so maklik om te kla oor dinge, maar dan sien jy hierdie gesin…. Hierdie gesin wat die woord opgee nie ken nie, wat aangaan al is die hoe swaar. My gebed is dat onse Here julle sal dra elke tree vorentoe en dat julle pragtige dogter sal herstel. Julle is ‘n inspirasie vir ander. Baie sterkte!

Christo ·

Kinders kan nog sónder ‘n pa gaan maar niemand kan ‘n ma vervang nie. Mag dié gesin die ondersteuning van vriende en familie ontvang .

Net Ek ·

Nie eers 5 minute gelede nie het ek aan myself gesê hoe baie ek my tannie en ouma mis nadat ek hule in een jaar aan die dood moes af staan. Ek het myself amper totaal en al bejammer. Toe kom ek op die berig af en besef ek net weerens hoe kosbaar die lewens geskenkie is wat God ons gee. Ek huil en bid vir julle ook. Mag God julle troos en ryklik seen Wepeners. xxx

Dev ·

Waarom soveel beproewing vir een gesin God? Wees hulle asb genadig hulle het genoeg gely!! U het hulle nou genoeg beproef!!!
Bring vir hulle asb voorspoed en vrede na hierdie beproewinge liewe Heer!
Hulle het U nou meer as ooit nodig, wees hulle genadig Here, hou hulle naby aan U en gee vir hulle vrede en genesing!!!
Dit alles is net moontlik deur U hand se leiding en U heilige wil!
Amen

marius ·

ek het nie woorde om die dapper mense te beskryf of vertroos nie. julle beteke. so baie vir ons nietiges om julle. beniedigende lewens.

Rikag ·

My hart gaan uit na julle mag die Liewe Vader julle vertroos in hierdie moeilik omstandighede. Julle is in my gebede.

Oom Kalahari ·

Ben alle simpatie aan jou, Rachel, familie en vriende met jul groot verlies. ‘n Vrou en Moeder is die pilaar van enige huis en hou altyd die familie strukture bymekaar. Haar heengaan laat ‘n groot leemte, maar in God se huis het sy nou rus en vrede. Mag God jul vertroos deur hierdie tyd. Sterkte.

Pretoria Man ·

Sterkte. Geloof in God is al anker wat ons het en julle het dit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.