Deloitte vind ‘geen fout’ by nasionale tesourie

Deloitte

ʼn Forensiese ondersoek deur Deloitte het bevind dat ʼn span van die nasionale tesourie, wat aan die geïntegreerde finansiële bestuurstelsel (IFMS) gewerk het, nie skuldig is aan enige misdryf nie. Volgens die ondersoek kan ʼn gebrek aan menslike hulpbronne gedeeltelik toegeskryf word aan die negatiewe interne ouditbevindings.

“Hulle het geen fout gevind nie, niemand het geld gesteel nie,” het ʼn bron in die departement gesê en bygevoeg dat die maatskappy se ondersoek ook die rekenaars van die projekspan van IFMS2 ingesluit het.

“Hulle het gesê daar kan nie van só klein span verwag word om ʼn projek van hierdie omvang te hanteer nie. Die verslag word verwerp, omdat die uitslag nie dit is wat die mense gesoek het nie.”

Die nuwe IFMS het vandeesweek in ʼn politieke storm ontaard toe minister van finansies Malusi Gigaba Deloitte se verslag verwerp het en versoek het dat die maatskappy by die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure (Irba) aangekla moet word.

Gigaba en verteenwoordigers van die nasionale tesourie het voor Scopa (die staande komitee oor openbare rekeninge in die parlement) verskyn om vrae te beantwoord oor die feit dat die projek nog nie ʼn werkbare betalingstelsel gelewer het nie en ʼn interne oudit van die werk wat in 2015 gedoen het, het tot 54 bevindings gelei, meeste met ʼn hoërisiko-waarskuwing.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van finansies, het aan Scopa gesê hy het op 7 Augustus opdrag gegee dat geen verdere betalings gemaak mag word wat IMFS betref nie.

Mogajane het gesê hy het ook opdrag gegee dat die projekbestuurkantoor geherstruktureer moet word nadat hy gehoor het daar is slegs vyf persone in die kantoor, van wie een deeltyds werk.

Hy het gesê dis “baie kommerwekkend” dat daar só min mense aan só kritieke projek werk.

Die kwessie het egter vinnig ʼn politieke bal geword en die ANC se vroueliga het versoek dat dit ondersoek moet word as ʼn voorval van staatskaping, met verwysing na Gigaba se bewerings teen Deloitte.

Die minister het voorgestel dat die multinasionale maatskappy onbehoorlik ʼn waarborg van toekomstige kontrakte by die nasionale tesourie wou verseker. “Ek kan nie glo dat ek onafhanklik kan bly terwyl ek ʼn 120-jaar-kontrak met julle het nie.”

Deloitte het nog nie direk op dié bewering reageer nie.

Lungisa Fuzile, voormalige direkteur-generaal, het verlede jaar opdrag gegee dat ʼn eksterne ondersoek gedoen moet word en Deloitte het die kontrak gekry om dit te doen.

Die IFMS-projek is in 2002 van stapel gestuur. Die stelsel het ten doel om menslike hulpbronne, die salarisbetalings en finansiële en verskaffingsbestuurfunksies deur die staatsdiens te integreer om kostes te besny.

LP’s het vandeesweek tydens Scopa gesê dit beteken dat die R1,2 miljard wat aan die eerste fase van die projek spandeer is, belastingbetalers se geld gemors het. Die algehele koste, insluitend die eerste fase, beloop R4,3 miljard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

NOG 4MILJARD RAND…..en dis die syfers wat ons van wert? Waar de $##//€ kom die geld vandaan?

t ·

Wonder maar net of daar nog geld van hande verwissel het en of Deloitte hulle blinde ouditeurs gestuur het.

Jacobus ·

Die IFMS is ‘n noodsaaklike stelsel waarvoor al lank gewag word.

Daar is baie stelsels wat vervang moet word met die IFMS en van die stelsels kom van die laat 80’s en vroë 90’s.

Onthou die stelsel moet nie net nuwe inligting akkommodeer nie maar ook foutloos kan integreer met bestaande stelsels sodat die inligting van die verlede beskikbaar kan wees wanneer dit benodig gaan word.

Onthou verder dat die IFMS stelsel spesifiek geskryf word vir die Staat se doeleindes en moet soos genoem in die artikel die “menslike hulpbronne, die salarisbetalings en finansiële en verskaffingsbestuurfunksies” akkommodeer van alle staatsdepartemente; Nasionaal en Provinsionaal.

Dit is nie duidelik of Munisipaliteite ook van die stelsel gebruik gaan maak.

Dink wat het dit ABSA, Standard Bank, FNB, Nedbank, Anglo American, Shoprite ens. gekos om hulle stelsels te ontwikkel.

Daar is ook geen stelsel op die mark beskikbaar by SAP of Oracle wat van die rak af gekoop kan word wat aan die vereistes sal voldoen nie.

Die IFMS stelsel sal aan die Nasionale Tesourie as en wanneer die stelsel op lyn kom ‘n werklike beeld kan gee van die werklike besteding van departemente asook waar oorbesteding en wanbesteding plaasvind asook watter departemente te veel betaal vir produkte en dienste asook watter kontrakte nie reg hanteer is nie.

Onthou die stelsel gaan ±20-30 jaar of meer gebruik word so R4,3 miljard is nie werklik baie geld om te spandeer op so ‘n belangrike projek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.