Delta-variant in Kaapse rioolwater bespeur

(Argieffoto: Ingo Hamm/Unsplash)

Die hoogs aansteeklike Delta-variant van Covid-19 is in rioolwater van verskeie dorpe in die Wes-Kaap asook Kaapstad bespeur.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR) maak gebruik van ʼn vroeë waarskuwingstelsel in afvalwater om die voorkoms van Covid-19 dop te hou. Dit is in Julie verlede jaar in werking gestel as deel van pogings om die pandemie te bestuur.

Programme om afvalwater te gebruik om Covid-19 op te spoor word in verskeie lande gebruik en ʼn goeie verband is gevind tussen die virale lading in die afvalwater en gevolglike Covid-19-gevalle.

Wetenskaplikes van die MNR monitor die afgelope twee maande die voorkoms van mutasies wat verband hou met die Alfa- en Beta-variante in afvalwater. Hulle het die voorkoms van albei in die water bevestig, met die Beta-variant wat oorheers.

“Vandeesweek het die span ook reagente gekry om vir die Delta-variant te toets en het dit waargeneem as die oorheersende variant in dorpe in die Breedevallei en Theewaterskloof, asook in 19 afvalwaterbehandelingsaanlegte in die Kaapstadse metropool,” sê dr. Rabia Johnson, adjunkdirekteur van die MNR se Biomediesenavorsing- en innovasieplatform (Brip).

Dorpe in die Breedevallei sluit in Worcester, Rawsonville, Touwsrivier en De Doorns, terwyl dorpe in Theewaterskloof Botrivier en Villiersdorp insluit.

Die opspoor van die Delta-variant in die afvalwater val saam met ʼn toename in SARS-CoV-2- virale ladings by afvalwaterbehandelingsaanlegte.

Hoewel dit nie in dié stadium duidelik is of besige roetes ʼn rol speel in die oordrag van Covid-19 nie, het die navorsers bevind dat verskeie dorpe waar die Delta-variant bespeur is, naby een van die land se besigste paaie, die N1-hoofweg, is.

Die span het ook bevind daar was die afgelope paar weke ʼn skerp toename in die vlakke van SARS-CoV-2- virale ladings in die meeste van die afvalwaterverwerkingsaanlegte wat die span monitor.

“Die Delta-variant is hoogs aansteeklik en in die lig van die bevindings van die MNR se Afvalwatermoniteringsprogram – en die gevolge daarvan – doen ons ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om die hoogste waaksaamheidsvlakke te handhaaf om die oordrag van Covid-19 te ontwrig,” sê dr. Mongezi Mdhluli, hoofnavorsingsbeampte by die MNR.

Johnson sê die data wat ingesamel word deur afvalwater te toets, gee ʼn oorsig van infeksies in gemeenskappe wat deur spesifieke afvalwateropvangsgebiede bedien word. Die MNR sê die afvalwater is ʼn waardevolle bron van inligting om besluite oor Covid-19 te neem, veral in die lig van die derde vlaag infeksies.

Die span hoop om toetse vir ʼn verskeidenheid van variante standaard te maak as deel van die program.

Die gesondheidsdepartement van onderskeidelik die Wes-Kaap en Kaapstad het reeds hul kommer oor die voorkoms van die Delta-variant te kenne gegee en sê dit gaan in die komende weke ʼn uitwerking op gesondheidsdienste hê.

Die departemente het ook die oproep vir verhoogde waaksaamheid benadruk.

Die Delta-variant is in dié stadium verantwoordelik vir die meeste infeksies.

Die organisasie TLU SA het ook sy kommer oor die uitwerking van die teenwoordigheid van die variant op die landboubedryf te kenne gegee.

“Wat ons bekommer, is hoe lank die virus in die water bly en of dit in die waterstelsel opgeneem en uiteindelik in ons landbouprodukte teenwoordig sal wees,” sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA.

TLU SA sê volgens die Amerikaanse Omgewingsbewaringsagentskap (EPA) kan die koronavirus met standaard-ontsmettingspraktyke by rioolwerke behandel word. Die virus se voortbestaan hang gewoonlik af van die temperatuur, konsentrasie van vaste en organiese materie, die pH-vlak en die hoeveelheid ontsmettingsmiddel wat gebruik word.

“Dit is dus ʼn redelik eenvoudige oplossing, maar dan moet ons in gedagte hou dat ons in Suid-Afrika is, waar ons water reeds veel te wense oorlaat en vervuil is van riool en ander besoedeling,” sê Geldenhuys.

“Ons vraag is dus hoe lank die virus in onbehandelde of swak behandelde water sal oorleef en wat die gevolge daarvan sal wees.”

Die organisasie is ook besorg dat munisipaliteite se swak bestuur van rioolstelsels en -werke bewys dat daar nie genoeg kundigheid is om die situasie te hanteer nie.

TLU SA sê die regering stel hiermee die land se inwoners verder bloot aan infeksie deur die bewaring van lewensbelangrike hulpbronne te ignoreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Anel ·

Nou wat nog! Hoe meer dae hoe meer dinge! Net ‘n bewys van hoe onbevoeg hierdie land se regering is. En na aanleiding van die is dit ‘n wonder dat die mense in hierdie land nie by die duisende doodgaan nie.

piper ·

die ander dele in die land sal dit ook so wees. hulle moet nog seker toets daarvoor. dit klink nie goed nie. veral vir plekke waar die riool in die strate afloop en by ander plekke in riviere in asook die see.

Die Boerepompie ·

Ek dink dit sal daar gekry word ons wasdan ons hande en jou toilet water loop saam na een plek toe . Die ding is nou kan hille wat die water behander die mansters dood maak voor die by ons uit kom

Prit ·

Vraag: Kan nie covid identifiseer met speuksel nie, moet stok 5 voet in jou neus stop, kan wel covid in water optel na dit deur suure, chloor etc etc gespoel het? Okaaaaay…maak perfekte sin.

Johanna ·

My vraag is:- Hoe beland die VIRUS in die water?

Weskaap is SKERP met hulle munisipsliteit en doen dinge nog volgens die regulasies.
As die virus die ander Provinsies se sewerage water slaan gaan SA se sterkte syfer n probleem wees.

VaalDonkie ·

As jy in die toilet in nies, dan kom dit in die water. Dis hoe maklik dit gebeur. Maar dis nie die eerste virus wat al in ons waters was nie, en ons leef nog. Moenie dat dit jou pla nie. Drink maar ‘n teetjie.

Gato ·

Nou verstaan ek hoekom daar so baie nuwe Covid gevalle in ons dorp is want die hulpelose klomp by die stadsraad laat loop die rioolwater sommer net so onbehandel in die rivier in. Al vir jare lank. Ander mense op plase en plotte pomp weer water uit die rivier vir hulle huise en diere se gebruik. HKGK

Andries ·

Hierdie water word sodanig gesuiwer vir hergebruik en dis hoekom almal siek word nie van interaksie aleen nie maar ook van drink en bad water daglikse gebruik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.