Delwer in hof ná liggaam op sy plaas gevind is

Argieffoto

Argieffoto

Johannes Pieter (Johan) Sonnenberg (57), ʼn diamantdelwer, het Donderdag in die Hertzogville-landdroshof verskyn nadat  ʼn liggaam in ʼn vlak graf op sy wildplaas buite dié Vrystaatse dorpie gevind is.

Lt.kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê Sonnenberg is Dinsdagmiddag op sy plaas, Diamant, in hegtenis geneem.

“Die polisie ondersoek die verdwyning van drie mans op 15 Februarie in Christiana in Noordwes,” het Mbambo gesê. Die mans is tussen 19 en 25 jaar oud. Die polisie het Sonnenberg ondervra in verband met hul verdwyning, aangesien hy glo een van die laaste mense was wat saam met hulle gesien is.

Die polisie was op sy plaas toe hulle glo ʼn hand uit ʼn vlak graf sien steek het, waarna Sonnenberg in hegtenis geneem is op aanklag van moord. Hulle het ook op ’n ongelisensieerde AK47-aanvalsgeweer en ammunisie in sy plaashuis beslag gelê en hy word ook aangekla vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Mbambo het gesê die identiteit van die man in die graf is nog nie vasgestel nie en dit is nie bekend of dit een van die vermiste persone is nie.

‘ʼn Nadoodse ondersoek word gedoen om te bepaal hoe die man gesterf het en DNS-toetse sal gedoen word om sy identiteit te bepaal,” het sy bygevoeg.

Geen ander lyke is teen Donderdagmiddag op die plaas gevind nie. Die ondersoek duur voort.

Sonnenberg moet weer op 26 Maart in die hof verskyn wanneer hy na verwagting gaan aansoek doen om borgtog. Hy bly intussen in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.