Foto’s: Demi-Leigh – ‘’n Kleintyd-droom het waar geword’

Demi-Leigh Nel-Peters (Foto: Facebook via Miss Universe)

Demi-Leigh Nel-Peters het oomblikke ná haar kroning as Mej. Heelal gesê dit is ʼn gevoel wat sy nie in woorde kan beskryf nie.

“Op ʼn manier voel dit of dit nog net die kleedrepetisie is, maar dan besef ek dit is nie! Ek dink dit sal my eintlik eers môreoggend tref,” het Nel-Peters agter die verhoog in ʼn onderhoud met Olivia Jordan van die Mej. Heelal-skoonheidskompetisie gesê.

“Dit is ʼn kleintyd-droom wat waar geword het. Ek dink nie ek kan hierdie gevoel aan enigiemand verduidelik nie; wanneer jy basies jou hele lewe vir iets werk, en dit dan regkry; wanneer jy almal wat nie in jou geglo het nie, verkeerd bewys en wanneer jy almal wat in jou geglo het vandat jy ʼn klein meisietjie was, trots maak. Dit is onbeskryflik.”

Maroela Media het vroeër berig Nel-Peters is die tweede Suid-Afrikaner om met die gesogte titel as Mej. Heelal weg te stap nadat Margaret Gardiner in 1978 dié kroon gedra het. Laura Gonzalez van Colombië is vanjaar as eerste prinses aangewys, gevolg deur Davina Bennett van Jamaika.

Iris Mittenaere, voormalig Mej. Heelal, het ook raad aan Nel-Peters gegee. “Hou net aan doen wat jy doen. Jy is ongelooflik. Jy is die oulikste meisie en ek was lief vir jou van die eerste dag af,” het sy gesê.

Nel-Peters het ook gesê sy wil haar Unbreakable-veldtog nou universeel maak. “Ek was die slagoffer van ʼn gewapende kaping ʼn paar maande gelede. Dit was baie traumatiserend. ʼn Paar dae ná die kaping, toe ek op Instagram inteken, was daar meer as 2 000 boodskappe van vroue af wat wil weet watter selfverdedigingskursus ek gedoen het, want hulle wil dit ook doen,” het sy gesê.

“Ek het toe besef dit is nie net ʼn probleem in my stad nie, maar eerder ʼn wêreldwye kwessie. Dit is tóé dat ek my Unbreakable-veldtog begin het, en selfverdedigingsessies oor die hele Suid-Afrika begin het. En hopelik kan ek dit nou oor die heelal heen doen!”

Nel-Peters is tydens ʼn glansgeleentheid in The Axis-teater in Las Vegas in die VSA onder luide toejuiging aangewys as die 66ste Mej. Heelal. Gelukwensings van trotse Suid-Afrikaners het sedertdien op sosiale media ingestroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marinda ·

Congratulations Demi-Leigh. Dreams do come true. Don’t ever stop dreaming.

Me ·

Baie geluk Demi-Leigh! Jy is pragtig en verdien dit! Maak die beste daarvan!

fred ·

Maroela, die fotos is skokkend – is dit net by my die geval – kan niks sien nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.