Demi-Leigh ontvang Vryheid van Knysna tydens tuisdorpkuier

Demi-Leigh Nel-Peters neem deel aan ʼn straatparade in Sedgefield. Foto: Eugene Gunning

Deur Eugene Gunning

Mej. Heelal, Demi-Leigh Nel-Peters, het Sondagmiddag onder groot toejuiging van honderde aanhangers haar tuisdorp in die Wes-Kaap besoek.

Dit is die eerste keer dat sy terug in die land is nadat sy in November verlede jaar as Mej. Heelal in Las Vegas, VSA, gekroon is.

Die gewoonlik rustige Sedgefield, wat deel is van die groter Knysna-gebied op die Tuinroete, het tot stilstand gekom toe Demi-Leigh in haar tuisdorp aan ʼn straatparade deelgeneem het waar honderde mense haar toegejuig het.

Eleanore Bouw-Spies, Knysna se burgemeester, het tydens die geleentheid bekend gemaak dat die Vryheid van Knysna en Sedgefield aan Demi-Leigh toegeken word.

Die Mej. SA-organisasie het vroeër aan Maroela Media gesê Nel-Peters sal ʼn druk skedule volg tydens haar week lange besoek aan Suid-Afrika.

Nel-Peters beplan om in Soweto en Kaapstad selfverdedigingsessies aan te bied as deel van haar Unbreakable-veldtog. Sy het dié veldtog van stapel gestuur nadat sy verlede jaar in ʼn gewapende kaping betrokke was.

Besoeke aan Robbeneiland, haar tuisdorp Sedgefield, asook Sun City, is in Nel-Peters se dagboek aangeteken.

Nel-Peters vertrek na afloop van die toer in Suid-Afrika weer terug na New York in die VSA, waar sy sedert haar kroning woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Ek het jare gelede, eintlik dekades gelede, die Vryheid van Potchefstroom ontvang na ‘n seremonie. Weet nou nog nie wat dit eintlik beteken nie.

Phillip ·

Dankie Houtoog

Die fout is reggestel.

Groete
Phillip Bruwer, nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.