Demografieverslag: Afrikaanssprekendes meer as sewe miljoen teen 2031

lego-mannetjies-bevolking

Foto: Efraimstochter/Pixabay.com

“Afrikaners en Afrikaans is hier om te bly en as ʼn mens dit eers besef, dan begin dit belangrik word om te bou aan ʼn langtermyntoekoms.”

Só sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging, nadat die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) Woensdag ʼn omvattende demografieverslag in Centurion bekendgemaak het.

Luidens die verslag sal Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika teen 2031 tot net meer as sewe miljoen styg. Dit is bykans 270 000 meer as in die 2011-sensus. Die getalle van sowel bruin as wit Afrikaanssprekendes gaan in die volgende paar jaar toeneem en in albei groepe is daar ʼn skerp styging in die getal babas wat gebore word.

Die verslag het ook bevind dat die uittog van Afrikaners na die buiteland kleiner is as wat voorheen vermoed is en dat daar ook dikwels ʼn terugkeer van Afrikaners uit die buiteland is sodra hulle ouer as 30 is en kinders het.

“In ʼn opvolgverslag het die SNI gaan bepaal waar wit Afrikaanssprekendes tans woon en waarheen in Suid-Afrika dié mense verhuis. Hierdie twee verslae sal groot strategiese skuiwe in die denke van Afrikaners en Afrikaanssprekendes bring,” het Hermann bygevoeg.

“Die Solidariteit Beweging het sowat 500 000 lede, waarvan die meeste Afrikaners is en Afrikaans praat. Om behoorlik te beplan, het ons besluit om die omvattende demografiestudie te doen. Met hierdie inligting kan ons bepaal watter soort gemeenskapsdienste, soos skole en tersiêre onderwysinstellings, deur die Afrikaanse gemeenskap benodig gaan word.

“Die bevindinge het ons verras. Die getalle dui nie op ʼn gemeenskap wat ontbind nie, maar op een wat gaan oorleef. Daarom moet dié gemeenskap verantwoordelikheid neem om ʼn toekoms vir die geslagte wat nog kom, te skep.”

Interessante feite in die verslag

  • Die SNI se verslag toon daar sal teen 2031 ongeveer 7,1 miljoen Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika wees. Die berekening in die verslag toon dat 2,7 miljoen van die 7,1 miljoen Afrikaanssprekendes wit sal wees.
  • In vergelyking met bruin en swart Afrikaanssprekende bevolkingsgroepe is wit Afrikaansprekendes beduidend ouer. Ongeveer 12,21% is ouer as 65 en slegs 30,6% is jonger as 25.
  • Volgens die 2011-sensus was daar toe reeds 2,71 miljoen wit Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika. Die getal bly dus redelik bestendig.
  • Die Suid-Afrikaanse bevolking het van 2001 tot 2011 met ongeveer 1,34% per jaar gegroei. Die plaaslike bevolking is jonk met slegs 5,32% van die Suid-Afrikaanse bevolking wat ouer as 65 is terwyl amper die helfte (49,28%) jonger as 25 is. Volgens Connie Mulder, hoof van die SNI, verklaar dit die druk tans op skole en tersiêre instellings en die kommer oor jeugwerkloosheid.
  • Die SNI sê daar emigreer sowat 25 000 Afrikaners per jaar.
  • Wit Afrikaanssprekende vroue kry gewoonlik tussen die ouderdom van 30 en 35 hul kinders en die geboortekoers is tans 1,6 kinders per vrou. Dit is minder as die internasionale vervangingskoers van 2,1 kind per vrou, maar meer as Engelssprekende wit Suid-Afrikaners waar die norm 1,2 kinders per vrou is.

“Ons is hartseer oor die verval van klein dorpies in Suid-Afrika, maar dit is hoekom dit nou noodsaaklik geword het om te bepaal hoe organisasies soos Helpende Hand en AfriForum dienste aan gemeenskappe kan bied terwyl die staat toenemend besig is om te verval,” het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gesê.

Buys het bygevoeg dat Afrikaners se grootste uitdaging nie is dat hulle bevolkingsgetalle so min is nie, maar eerder dat hulle so yl deur die land versprei is.

“Die Afrikanerbevolking is groter as dié van lande soos Namibië.”

Hy het ook benadruk dat demografie oor baie meer as net bevolkingsgetalle gaan.

“Dit handel ook oor tale, kultuur en die volgende geslag se toekoms.”

Die volgende fase van die demografieverslag waarin bepaal is waar Afrikaanssprekendes en Afrikaners woon en waar hulle in die toekoms sal woon, word op 10 Oktober bekendgemaak.

  • Lees die volledige demografieverslag hier op Maroela Media:
solidariteit-demografie-projek-deel-1

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Gertryda ·

Dink nou net wat sou met Afrikaanse skole gebeur het as albdie Afrikaanse kinders in Afrikaanse skole was
Hier in KZN verkies mense om hul kinders in Engelse skole te sit
Wat n jammerte

Celtis Africana ·

Die feite begin interressant raak. Ons sien uit na die opvolgverslae en die planne wat beraam word.
Ek vertrou dat jul nie nou al wat Afrikaans praat in dieselfde pot gaan gooi en aan’t stoke gaan a la ATKV brugbou nie.
Kultuurverskille speel massiewe n rol en alhoewel daar raakpunte is met die taal en sy voortbestaan, moet dit versigtig bestuur word. Ek weier en om soutsnoek te eet en met bokswyn af te spoel, ek is maar n braaivleis aanhanger.
Elk moet maar sy pond vleis, snoek of pap na die tafel bringmvir behoud van die taal. Alementasie en gratis inklusiwiteit is onbekostigbaar.

Werner ·

Dankie vir die goeie werk, hierdie statistiek is uiters belangrik en kan goed gebruik word vir beplanning vir die toekoms. Ek dink die belangrikste punt is dat ons baie is en nie gaan verdwyn nie, ek sien uit na die toekoms!

anton ·

So rukkie gelede was daar dan n artikel wat gesê het teen 2040 sal daar nie meer blankes oor wees in S.A nie as ek reg onthou.
Nou is 1+1 nie meer 2 vir my nie.

gatiep ·

Niemand kan toekoms voorspel nie.
Op die oomblik lyk dit vir my of daar net n paar Afrikaners wat by EFF aangesluit het wat gaan oorbly teen daai tyd.

Gerhard ·

Dit lyk my die verslag maak twee aannames. Eerstens dat die ANC nie grond sal onteien nie en tweedens dat die ANC Afrikaanse opleiding gaan toelaat. Ek vermoed beide aannames is verkeerd en die verslag dus opportunisties.

Charles ·

Gaan jy dat die verfoeilike ANC jou kinders benadeel EN ONDERDRUK deur hul onderrig in hul moedertaal te weier, en hulle toelaat om aan jou voor te skryf hoe en waaraan jy moet dink, en wie en wat jy is?
Ik weet die stryd is hard, maar dis ‘n stryd wat die moeite werd is om te baklei, net soos ons voorvaders en -moeders wat oorwin en gehandhaaf het deur uithouvermoe en wilskrag, mens kan soms moedeloos raak, maar dan moet jy net weer krag en genade vind van God om teen die dade van die onderdrukkers te seevier!

Charles ·

Baie dankie vir die verslag, dis wonderlik, maar baie werk le voor!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.