Dendron-aanval: Twee in hof, derde verdagte dood

Foto: AfriForum

Twee verdagtes het Vrydag in die Morebeng-landdroshof verskyn in verband met die plaasaanval vroeër die week in die Dendron-distrik in Limpopo.

Brig. Motlafelo Mojapelo, polisiewoordvoerder, het bevestig die verdagte wat deur die polisie geskiet en gewond is kort ná die plaasaanval, is intussen in die hospitaal dood.

Die ander twee verdagtes het op verskeie aanklagte, insluitend gewapende huisroof en verkragting, in die hof verskyn en die saak is tot 14 Augustus uitgestel wanneer die verdagtes om borgtog sal aansoek doen.

Drie aanvallers het die boer en sy vrou Woensdag omstreeks 00:30 in hul plaashuis oorval. Die boer is erg aangerand en in ʼn ernstige toestand in ʼn hospitaal opgeneem. Sy vrou is verkrag en ook geskiet.

Twee van die verdagtes wat in hegtenis geneem is. Foto: Verskaf

Die verdagtes het met die boer se Nissan Navara-bakkie en vuurwapens van die toneel gevlug. Hulle is kort ná 06:00 in Polokwane (Pietersburg) vasgetrek en een van die verdagtes is gewond tydens ʼn oor-en-weer-skietery met die polisie.

Bykans 500 voertuie het Vrydagoggend by die afdraai langs die N1-snelweg na Morebeng (Soekmekaar) byeengekom om saam na die Morebeng-landdroshof te ry waar die verdagtes verskyn het.

AfriForum se veiligheidstrukture was deel van die versetstoet wat uit verskeie organisasies, landelike veiligheidstrukture en lede van die publiek bestaan het en wat hul misnoeë te kenne wou gee oor die vlaag plaasaanvalle wat die land teister.

Foto: AfriForum

AfriForum het die familie by die hofverrigtinge ondersteun. “Hierdie laakbare aanvalle op boere kan eenvoudig nie ongesiens verbygaan nie. Dit is verblydend dat gemeenskappe al hoe meer verset teen plaasaanvalle toon.

“AfriForum sal aanhou om bewustheid oor plaasaanvalle te skep en te help om gemeenskappe teen dié misdade weerbaar te maak,” het Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Althes

Mooi Afriforum dat jul die gesin bystaan en betoog.
My simpatie aan die boer en sy vrou wat deur boosheid oorval is.

Marius

Ek se liewer net sterkte aan die mense in die aanval as ek meer se is ook waar die gemors is in die tronk

agnes

Hallelujah prys die Here. Kom ons bly by mekaar staan .
Eenheid maak mag.

Adri

Daar was SES aanvallers