Dendron-aanval: Vierde verdagte is huiswerker se seun

Morebeng-landdroshof (Foto verskaf)

Drie verdagtes het Vrydag in die Morebeng-landdroshof in Limpopo verskyn in verband met die aanval op ʼn egpaar twee weke gelede op hul plaas in die Dendron-distrik.

Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die verdagtes, onderskeidelik 18, 29 en 38 jaar oud, staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, huisbraak met die doel om te roof, twee aanklagtes van verkragting, aanklagtes van poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Volgens haar is die 18-jarige verdagte, wat die afgelope week aangekeer is, uitgeken as die seun van ’n huiswerker wat op die plaas werk. Hy het glo die ander vier mans na die plaas ontbied.

Die verdagtes bly vir eers in aanhouding en sal na verwagting volgende week Vrydag moontlik kan aansoek doen om borgtog.

Maroela Media het vroeër berig die egpaar is op 4 Augustus op hul plaas aangeval. Die verdagtes het net na middernag die plaas met ʼn silwer BMW-voertuig betree.

“Toe hulle die huis wou binnegaan, het die honde begin blaf. Die 18-jarige verdagte het buite die plaashuis gebly om die honde kalm te hou. Die ander drie verdagtes het die huis betree.” Die aanvallers het by ʼn venster ingebreek.

Die man is erg aangerand en is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal opgeneem. Die vrou is in die regterbeen geskiet en deur twee van die aanvallers verkrag.

Malabi-Dzhangi sê die verdagtes het met drie vuurwapens, ʼn Nissan Navara en ander los items gevlug.

ʼn Hoëspoedjaagtog deur plaaswagte in die gebied, in samewerking met die polisie, het tot die verdagtes se inhegtenisneming gelei. Die verdagtes is kort na 06:00 in Polokwane voorgekeer en ʼn skietery het uitgebreek. Een van die verdagtes is gewond.

Beamptes het bevestig die gewonde verdagte is later in die hospitaal in Polokwane oorlede.

Die mans se name mag nog nie bekendgemaak word voor hulle op die aanklagte teen hulle gepleit het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Moerby1212 ·

Hoekom moet die verdagte altyd die keuse van BORG kry. Hulle moet in aanhouding bly totdat die saak aangehoor word en al die ondersoek werk moet klaar gedoen wees. Hulle moet die VERHOOR op dag een af handel …….
TRONK STRAF moet dan dadelik begin. Want as hulle eers Borg kry en oor.2.of 3 weke hof toe moet gaan raak hulle weg en die polisie moet weer werk om hulle. Te soek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.