Denel-afgradering ‘teleurstellend, maar geen verrassing’

Die vakbond Uasa sê die internasionale graderingsagentskap Fitch se afgradering van Denel weens die afwesigheid van betroubare regeringsteun is “teleurstellend, maar geen verrassing nie”.

“Uasa betreur die situasie wat nou dié punt bereik het nadat ons die maatskappy hof toe gesleep het in ʼn poging om die staatsbeheerde onderneming (SBO) te dwing om werkers se salarisse te betaal. Hulle versuim om dit te doen, ten spyte van ʼn hofbevel, maak dit duidelik hoeveel die maatskappy agteruitgegaan het,” het Stanford Mazhindu, Uasa-woordvoerder, gesê.

“Wat hartseer is, is dat die situasie toegelaat is om hierdie punt te bereik.”

Fitch het Denel se gradering van langtermyneffekte Dinsdag tot vlak CC afgegradeer, terwyl sy korttermyneffekte na C afgegradeer is. ʼn C-gradering is die laagste gradering wat Fitch kan gee. Albei was tevore op vlak B.

“Die afgradering is ʼn weerspieëling van Denel se erg gespanne likiditeitsposisie en die afwesigheid van tydige regeringsteun,” lui die graderingsagentskap se verslag.

Volgens die Fitch-verslag is die likiditeitsposisie die gevolg van onvoldoende herkapitalisering om bedrywighede by die wapenvervaardiger weer doeltreffend aan die gang te kry en vol te hou, terwyl hy boonop met uitdagings weens die Covid-19-pandemie sit.

Fitch sê ook beperkte bedryfskapasiteit, tesame met voortgesette bestuursonbestendigheid, verhoog die moontlikheid dat Denel nie sy herstrukturering- en omkeerplan waarop vroeër ooreengekom is, in werking sal kan stel nie.

Die agentskap sê die R1,8 miljard wat verlede jaar in die SBO gestort is, was onvoldoende om likiditeitsprobleme, kapitaalvereistes en bedryfskapasiteit te verbeter. Die afsonderingstydperk het Denel se bedryfsvermoë boonop beduidend beperk en die wapenvervaardiger het nie genoeg geld om sy bedrywighede vol te hou nie. Fitch sê dit kan gesien word in Denel se onvermoë om salarisse ten volle te betaal en genoeg kapitaal beskikbaar te stel.

Fitch gradeer Denel nou ook onafhanklik van die res van die staat omdat regeringsteun aan die SBO reeds aansienlik verminder is.

Luidens die verslag het die situasie by Denel tot so ʼn mate verswak dat sy vermoë om sonder voortgesette regeringsteun voort te bestaan, bevraagteken word.

Uasa sê egter Suid-Afrikaners kan nie nog reddingsboeie bekostig nie.

“Die land is op ʼn laagtepunt ná die verwoesting van die wêreldwye Covid-19-pandemie en jarelange korrupsie.”

Met verwysing na wisselvallige bestuur by die wapenvervaardiger, sê Mazhindu die wapenvervaardiger kyk nou na ʼn nuwe uitvoerende hoof om die reeds sinkende skip te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pompies55 ·

Stel een van die people aan!Een van die dae vervaardig Denel ketties en pyl en boë en slingervelle!Dis hoe dit lyk as anc regeer né!!!!!!

Jack ·

Dis onmoontlik om ‘n skip wat reeds in diep water gesink het te red

Johanncb ·

Dit is géén gebrek aan “regeringsteun” nie, eerder gebrek aan personeel met voldoende kennis!

Johann ·

Verwoes en plunder en afbreek en leeg dra…tewn n MMMMMMMse salris,sonder enige gevolge. Standaarrd employment vereiste van ons huidige selfaangewese onbevoegdheids kaders. Ergste hulle re deploy so van die een spaarvarkie na die volgende een.

SomeOne ·

“nuwe uitvoerende hoof” om net saam met die skip te sink, nee wat

annie ·

Waarom was Denel nog nie voor die Zondo-kommissie gedaag nie? Die Gupta’s was ook daar betrokke volgens berigte met tot ‘n foto van Zuma saam met van die broers by ‘n Hindu-byeenkomste in die wapenmuseum. Hoekom daar? Daar was selfs glo sprake van wapenuitvoere na Oosterse lande en dat Denel dalk verkoop sou word. Aan wie? Daar is nog baie onoopgemaakte gruwelpakkette onder die ou wierokende matras.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.