Denel dok R4 miljoen op vir salarisse

Werkers betoog voor Denel se kantoor in Irene. (Foto: Solidariteit)

Solidariteit het vandag ʼn bedrag van R4 miljoen van Denel ontvang om die agterstallige salarisse van sy lede by Denel Land Systems en Denel Dynamics te betaal. Dit volg nadat Solidariteit in Maart vanjaar ʼn hofbevel bekom het om beslag te lê op sommige van Denel se bates, en Solidariteit gereed was om dié bates vandag op te veil.

“Die oorbetaling van die salarisgeld is ʼn reuse-oorwinning vir Solidariteit en sy lede. Vir langer as ʼn jaar is hulle salarisse geplunder terwyl die staatsinstelling geweier het om sy verantwoordelikhede na te kom,” sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

“Solidariteit het egter geweier om hierdie laksheid van die staat en Denel te aanvaar en het volgehoue druk toegepas ten einde Denel te dwing om aan die hofbevel wat reeds verlede jaar gemaak is, gehoor te gee.”

Die salarisse wat tans betaal word, sluit slegs salarisse vanaf Mei 2020 tot Julie 2020 in, soos gespesifiseer in die hofbevel van 4 Augustus 2020. Nóg ʼn saak word egter op 7 Oktober in die arbeidshof in Johannesburg aangehoor, waar Solidariteit Denel voor die hof daag oor die uitstaande salarisse van elke Solidariteit-lid wat by Denel werksaam was vir die tydperk vanaf Augustus vanjaar tot en met die hede.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het in Junie gesê Denel skuld sy werkers reeds sowat R500 miljoen. Saab Grintek Defence het in dieselfde maand gevra dat Denel gelikwideer word.

“Omdat Eskom met beurtkrag wegkom, dink Denel hy kan dieselfde doen met die beurtbetaling van salarisse. Hy verwag lojaliteit van sy werknemers, maar versuim om hulle te betaal. Ons sal dit nie toelaat nie en gaan hom weereens in die hof uitdaag om sy verpligtinge na te kom. Dit is ʼn skande dat ons ons deurlopend tot die hof moet wend bloot om ʼn organisasie te dwing om sy eie werknemers se salarisse te betaal,” verduidelik Hermann.

Hermann sê Solidariteit het standpunt ingeneem, nie net teen Denel se versuim nie, maar teen korrupsie en die plundering van belastinggeld. “Hierdie pakslae teen korrupsie is slegs die eerste van baie. Ons is keelvol vir ʼn regering wat aan plunderaars skuiling bied en nie daadwerklik teenoor oortreders optree nie. Ons belastinggeld word wanbestee en onskuldige werknemers by staatsinstansies en -entiteite ly saam met ons daaronder. Genoeg is genoeg,” sluit Hermann af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
SjN

Dankie Solidariteit, uiters swak van Denel.

Swerwer

Dit is net reg. Ek hoop net al die werknemers baat hierby.

Pieter

Ek wens Soledaiteit wou my so goed bystaan toe ek hulle hulp nodig gehad het ivm oreelmatighede by my werkplek. Na 10 jaar se lidmaatskap gelde wat ek hulle betaal het het hulle my nie eers probeer help nie.

Jeff

Solidariteit WAT ‘N KLOMP KAMPIOENE. Wens julle sal staan saam met Afriforum as party in die elections. As ons hoor julle name dan het julle daai saak gewen en dan daai een. Man klas kan nie gekoop word dis vir jou geleer deur daai Afrikaners wat voor ons gekom het

Hennie

‘n Verlore stryd deur Solidariteit. Net ‘n kwessie van tyd voor hulle lede op straat sonder werk sit