Denel glo reeds weer bakhand

Denel het twee jaar gelede laas sy werkers ten volle betaal. (Argieffoto: Denel)

Die vakbond Uasa is verstom oor nog ʼn aansoek deur Denel om te keer dat die sukkelende wapenvervaardiger oor die afgrond van bankrotskap stort, terwyl daar steeds geen plan is om Denel-werkers hul agterstallige salarisse te betaal nie.

BusinessLive het vroeër berig die nasionale tesourie sal sy besluit oor bykomende finansiering aan Denel in die komende begroting aankondig. Die regering sal luidens die berig ook nie toelaat dat enige SBO’s die betaling van gewaarborgde skuld vryspring nie. Dit beteken die geld sal waarskynlik glad nie vir operasionele bedrywighede, soos die betaal van salarisse, gebruik kan word nie.

Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa, sê Denel se aansoek volg net dae nadat die Zondo-verslag verdoemende bevindings gemaak het oor die wapenvervaardiger se voormalige raad en sy destydse bestuur se rol in die plundering en wegkalwing van die wapenvervaardiger.

“Die staat gryp nou al ʼn paar jaar lank by die onderneming in, terwyl diegene in beheer die geld geplunder het wat veronderstel was om die maatskappy te red en dit te omskep in ʼn onderneming wat ʼn inkomste verdien en werk skep,” sê Moyo.

Denel sukkel reeds twee jaar lank om werkers se volle salarisse te betaal, wat dit bykans onmoontlik maak vir werkers om te oorleef, sê Uasa. Die SBO skuld sy personeel R636 miljoen en sy verskaffers altesame R900 miljoen.

Die vervaardiger het in die 2019-’20-boekjaar ʼn verlies van R2 miljard verklaar en net R2,7 miljard in inkomste verdien. In 2019-’20 het Denel ʼn reddingsboei van R1,8 miljard ontvang en ʼn jaar later nog R576 miljoen. Die wapenvervaardiger het ook ʼn gewaarborgde skuldfasiliteit van R5,9 miljard. Verlede jaar het die SBO ʼn bykomende R2,9 miljard gekry om sy skuld te betaal.

Dít terwyl die wapenvervaardiger eens die hoeksteen van Suid-Afrika se plaaslike verdedigingsbedryf was. Denel was in 2015 nog ʼn winsgewende en groeiende SBO met R1,9 miljard in die bank en R35 miljard in bestellings op sy boeke.

Die tweede gedeelte van die Zondo-kommissie se verslag oor staatskaping wat verlede week bekend gemaak is, lui dat Denel eens wêreldwyd hoog aangeskryf was, maar deesdae ʼn entiteit is wat bykans op sy knieë is. Die kommissie het onder meer aanbeveel dat ondersoeke gedoen word na lede van Denel se raad wat die skorsing van sekere uitvoerende hoofde gesteun het. Hierdie amptenare het die trekpas gekry nadat hulle probeer keer het dat korrupte kontrakte aan VR Laser, wat bande met die Guptas het, toegeken word.

Uasa sê Denel moet nou ʼn voorbeeld van diegene maak wat ʼn rol in die plundering van Denel gespeel het. Die wapenvervaardiger moet ook werkers hul uitstaande salarisse betaal.

“Dit is tyd om Suid-Afrika se staatsbeheerde onderneming uit die kloue van plunderaars te kry. ʼn Algehele hervorming is nodig om die deure na ekonomiese herstel te open en weer volhoubare werksgeleenthede vir ons mense te skep,” sê Moyo.

Die Johannesburgse beurs (JSE) het verlede week Denel se effekte opgeskort nadat die wapenvervaardiger versuim het om sy finansiële state binne die voorgeskrewe tydperk in te dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

007 ·

Maak die SOE toe. Hulle beteken niks meer nie en mors net geld. Maak sommer al die SOE ‘s toe wat niks vir die land se ekonomie beteken nie. Gee die mense hul pensioen sodat hulle hul eie besighede kan begin.

Casper ·

Ja nê,our people,BEEen regstellende aksie en natuurlik diegene wat net hulle bankrekenings aangevul het en hulle beursies volgehou het is die direkte oorsaak van die verval soos by al die ander SBO,sela.

Samuel ·

Die kaderontplooiing het toe nie so goed gewerk nie? Siestog, arme drommels.

Jack ·

As iemand jou bankrekening en beleggings stroop en die bates nooit gevind word nie sal jy eenvoudig nooit weer kan opstaan nie. Jy kan jouself nie uit die posisie deur werk alleen kry nie. Die staat moet eenvoudig die geld van zuma vat en regmaak wat hulle veroorsaak het.

MakersMark ·

Laat hul knopkieries, machete’s en Okapi messe vervaardig vir die plaaslike mark.

Waarnemer ·

Denel kan nou groot geld maak as hulle vir die Oekraine van wapentuig teen Rusland voorsien…..

Mariana ·

Maak toe. Te veel geld word in SOE’s gestort. Genoeg is genoeg. Die goed is soos bloedsuiers.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Vervaardig eerder sokkerballe en kougom vir die ongebreidelde bevolkingsaanwas om hulle in die ANC se Mzansi National Democratic Society Useless Animal Farm besig te hou. Tragies maar die werklikheid.

Janee ·

Tragies!…’n eens stewige en gesonde instansie….tot met die besetting en oorname van die nuwe “empire”….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.