Denel het nuwe tussentydse raad

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings (Foto: ANA)

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Maandag aangekondig ʼn nuwe tussentydse raad is aangestel by die wapenvervaardiger Denel, wat tans in ʼn finansiële verknorsing is.

Monhla Hlala, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy (Acsa), is as die raadsvoorsitter aangestel, aldus ʼn verklaring wat die ministerie uitgereik het.

Die res van die tussentydse raad is Zoli Kunene, Tshilidzi Marwala, genl. TT Matanzima, Gloria Serobe, Talib Sadiq, Sue Rabkin, Sibusiso Sibisi, Cheryl Carolus, Nonzukiso Siyotula, Thami Magazi en Martin Mnisi.

Denel is die jongste in ʼn reeks staatsbeheerde ondernemings wat veranderings ondergaan oor bestuur- en likiditeitskwessies.

Gordhan het in die verklaring gesê hy het Maandag met Denel se sleutelbelanghebbendes begin vergader, insluitend vakbonde en verskaffers van die wapenvervaardiger.

“Denel het tussen 2010 en 2016 uitstekende groei beleef, met ʼn gemiddeld van meer as 15% per jaar, met inkomste van net meer as R3 miljard tot meer as R8 miljard in 2016. Die maatskappy het beduidende uitvoerkontrakte bekom en die bestellings het op R30 miljard ʼn hoogtepunt beleef,” het Gordhan verduidelik. “Die positiewe verhaal het egter noemenswaardig versleg as gevolg van swak besluite.”

Gordhan het spesifiek verwys na die vorige raad se vasberadenheid om voort te gaan met die Denel Asia-projek, wat “die Denel-handelsmerk groot skade berokken het”. “Denel staar nou die werklikheid van ineenstorting in die gesig, tensy verreikende besluite dringend geneem word. Die nuwe tussentydse raad sal vinnig moet beweeg op sommige gebiede wat dringend aandag benodig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Reguit ·

Op ‘n streep plof hulle in en val hulle plat – Afrika-styl. Net ‘n ligte voorsmakie wat met die hele land gaan gebeur.

JM ·

Eers het die waarnemende hoof by die SAL gewerk en hulle is in die grond in , nou word sy by Denel aan gestel om hulle ook in die grond in te dryf. Ek het jare vir Denel gewerk en alles het begin verkeerd gaan sedert 1994

John ·

Wat in die land is nie in ‘n verknorsing nie? Selfs SA Rugby met sy gladdebek-bestuur is glo in die knyp. Nerens in die geskiedenis lees mens dat as jy iets of iemand met geld gooi, so te se stenig soos by die staatsbeheerde entiteite, dan word dit weer springlewendig nie. Bedorwe brokkies kort eerder die springriem nie anties in duur uitrustings nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.