Denel-hoof se bedanking ʼn ‘oorwinning’

denel-dossier-dirk-hermann-solidariteit-2019-04-19-02

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, hou ‘n 200 bladsy dokument oor Denel se wanbesteding vas. By hom is Deon Reyneke, dié vakbond se adjunkhoofsekretaris van die energiebedryf. Foto: Morné Prinsloo.

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag die bedanking van Zwelakhe Ntshepe, voormalige uitvoerende hoof van Denel verwelkom.

“Dié bedanking kom na volgehoue druk deur die vakbond teen Ntshepe en ander korrupte bestuur in Denel,” het Deon Reyneke, adjunkhoofsekretaris by Solidariteit, gesê.

Dit volg nadat die vakbond sedert Desember 2017 deur verskeie onthullings dié staatsbeheerde maatskappy se korrupsie en wanbestuur ontbloot het.

Volgens Reyneke was die Denel-dossier wat Solidariteit in April bekend gemaak het die finale spyker in Ntshepe se kis.

“Dié dossier het verskeie voorbeelde van finansiële wanbestuur uitgelig, en het ook dokumentasie bekend gemaak wat onthul het dat ʼn beurs van R1,2 miljoen aan die seun van die Noordwes-premier, Supra Mahumapelo, onregmatig toegeken is. In die verslag het ons ook gevra dat Ntshepe hangende ʼn ondersoek geskors word,” het Reyneke gesê.

Reyneke voer aan dat alhoewel die vakbond die bedanking verwelkom, dit nie die einde van die pad is nie. “Solidariteit sal nie skroom om ander korrupte persone in bestuursposisies te ontbloot nie. Korrupte persone in Denel sal nie meer rustig kan slaap nie,” het Reyneke gewaarsku.

Reyneke sê voorts dat daar steeds ʼn behoorlike forensiese ondersoek moet wees, met gepaste optrede, en indien bevind word dat daar strafregtelike oortredings was, moet daar strafregtelike klagtes volg. “ʼn Bedanking mag nie ʼn verdere ondersoek en optrede ongedaan maak nie. Die uitvoerende hoof tree ook nie in isolasie op nie. Ons vra voorts dat ʼn ondersoek moet bepaal wie verder verantwoordelik is vir die chaos in Denel.”

Solidariteit het ook sy steun aan Monhla Hlahla, raadsvoorsitter van Denel, gegee en komplimenteer haar vir die positiewe veranderinge wat sy reeds teweeg gebring het.

Maroela Media het vroeër Dinsdag berig Ntshepe het met onmiddellike inwerkingtreding bedank.

Vuyelwa Qinga, woordvoerder van Denel, het gesê die raad van direkteure het sy bedanking aanvaar. Volgens haar was Ntshepe 20 jaar by die maatskappy werksaam en is hy ses maande gelede in die pos van uitvoerende hoof aangestel ná hy twee jaar lank in dié posisie waargeneem het.

Ntshepe het in sy bedankingsbrief persoonlike redes aangevoer vir sy besluit om die maatskappy te verlaat.

Michael Kgobe, die hoof van Denel se lugvaartafdeling, is as die tussentydse groephoof aangestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Manie ·

Hoekom is die instellings soos Denel en Eskom so korrup sedert 1995???

Andre ·

Die antwoord op Manie se kommentaar is voor die handliggend.

lee ·

DRIE hoera’s vir Solidariteit !!
Ek haal my hoed af vir julle en sê baie dankie vir wat JULLE en Afriforum doen!!
Ek is ‘n trotse lid van julle.

VIVA – SOLIDARITEIT !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.