Denel het Dinsdag aan LP’s bevestig hy het die beursooreenkoms van R1,1 miljoen met Supra Mahumapelo jr., seun van die voormalige premier van Noordwes, beëindig.
Terwyl die voorsitter van Denel se raadsouditkomitee, Talib Sadik, die parlement se portefeuljekomitee oor openbare ondernemings toegespreek het, het hy gesê ʼn ondersoek na die toekenning van die beurs het talle bevindings opgelewer.
Dit het onder meer aan die lig gekom dat die skool waar Mahumapelo opgelei word om ʼn vlieënier te word, nie ʼn instelling is wat deur Denel goedgekeur word nie, asook dat die beurse vir vlieëniers nie geadverteer is ingevolge Denel se beursbeleid nie en die beurs sonder die behoorlike keuringsproses toegestaan is.
“Daarom het ons die beurs gekanselleer,” het Sadik gesê. Hy het bygevoeg Denel behou hom die reg voor om enige gelde terug te eis wat reeds vir Mahumapelo se studie betaal is.
Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, het in Mei bedank, kort nadat pres. Cyril Ramaphosa die provinsiale regering in Noordwes onder administrasie geplaas het.
Betogers het weke lank aan gewelddadige protesoptredes deelgeneem om te eis dat Mahumapelo sy tasse pak. Inwoners beskuldig die premier van korrupsie wat hulle meen die rede is vir die swak toestand waarin die provinsie verkeer.
Die Valke het in Maart ʼn klopjag uitgevoer op Mahumapelo se kantoor en die departemente van finansies, ekonomie en ondernemingsontwikkeling. Die Valke in Noordwes het in daardie stadium gesê dit volg ná bewerings van wanadministrasie, bedrog en korrupsie ter waarde van ongeveer R160 miljoen.
Daar is ook destyds kort voor Mahumapelo se bedanking beweer dat hy grootliks meegehelp het dat beeste ter waarde van meer as R1 miljoen wat vir opkomende boere in Noordwes bedoel was, aan oudpres. Jacob Zuma geskenk is.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
23 Kommentare
Dit gaan my verstand te bowe om te sien dat staats instansies wat vir spesifieke funksies daar gestel is se tyd en geld vir heeltemal ander doelwitte aangewend word. Denel…. beeste vir Zuma….
Hierdie baantjies vir boeties moet nou end kry, meer as die seekoei se oortjies wys nou
Verblydende nuus, gee dit vir ‘n jongmens wat dit werklik op meriete gebasseer verdien, nie omdat sy pa, se oom se wat ookal iets is nie.
En wat word van die persoon wat die beurs in die eerste plek goedgekeur het? Hy moet ook die trekpas kry.
En die persoon wie dit regverdiglik moes kry ? (Alhoewel ‘regverdig(lik)’ nie meer bestaan in SAt nie)