Denel kry reddingsboei, maar kort nog R1 miljard

Danie du Toit van Denel.

Die Suid-Afrikaanse staatswapenvervaardiger Denel het Vrydag bevestig die Nasionale Tesourie het R1,8 miljard aan die maatskappy toegestaan vir herkapitalisering, wat hy sê sal bydra tot die implementering van sy omvattende omdraaistrategie.

Die bedrag is egter R1 miljard minder as wat Denel versoek het. Danie du Toit, groep‑ uitvoerende hoof by Denel, het gesê die bykomende R1 miljard sal oorweeg word in die 2020/’21‑begrotingproses.

“Ons is dankbaar vir die onwrikbare ondersteuning wat ons kry van ons aandeelhouer, die regering, en die Nasionale Tesourie. Dit is aanduidend van stewige vertroue in die maatreëls wat ingestel is deur die nuwe raad en bestuur, en die regering se toewyding om ons deur die volgende fases van die omdraaitydperk te ondersteun,” het Du Toit gesê.

Hy sê die R1,8 miljard is aan Denel toegestaan op grond van “tasbare vordering wat gemaak is met gedetailleerde planne om die besigheid te herstruktureer”, asook strategiese vennootskappe wat aangegaan is, en nuwe markte wat gevind is vir Denel se produkte.

“Die geld wat toegestaan is, sal Denel in staat stel om leweringsprestasie te verbeter en plaaslike en internasionale kliënte te ondersteun. Dit sal ook verligting bring vir ons vennote en verkrygingskettings wat geraak is deur Denel se likiditeitskwessies die afgelope maande.”

Hy het bygevoeg daar is ʼn gedeelde verstandhouding dat Denel ʼn strategiese nasionale bate is wat “groot waarde tot die verdediging- en veiligheidsektors toevoeg”.

Du Toit het gesê Denel sal hard werk om aan die voorwaardes van die herkapitalisering te voldoen. Dit sluit in versigtige bestuur van die verskaffersbasis en tydige uitvoering van projekte binne die bepaalde begroting.

Denel het op 2 Augustus gesê hy verwag dat hy ʼn reddingsboei in die derde kwartaal sal ontvang te midde van voortgesette gesprekke met die Nasionale Tesourie en die departement van openbare ondernemings.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in Julie ook aangekondig dat die regering daartoe verbind is om Denel te herkapitaliseer om sy likiditeitsuitdagings te bowe te kom.

Denel het in Junie en Julie gesukkel om ʼn gedeelte van sy werknemers se salarisse te betaal aangesien wanadministrasie en korrupsie sy balansstaat in die rooi gelaat het. Die maatskappy het sedertdien verskeie forensiese ondersoeke na beweerde bedrog en wanbesteding van fondse deur sy vorige bestuur van stapel gestuur, en dié ondersoeke sal binnekort in regsgedinge oorgaan.

Denel hou egter vol sy likiditeitsprobleme is korttermynprobleme en hy verwag om binne die volgende 12 maande positiewe kontantvloei te sien. Die maatskappy sê sy herstruktureringsmaatreëls het reeds gelei tot ʼn vermindering van R500 miljoen in operasionele koste en ʼn besparing van meer as R15 miljoen by Denel se korporatiewe kantoor.

Denel meen daar is sterk potensiaal om nog R500 miljoen te bespaar uit ander sakebedrywighede soos onder andere die verskaffingskettingproses.

Intussen word die staatsonderneming deur ʼn groep geldleners bygestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

39 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Pretorius

Sodra Denel weer winsgewend is sal Danie du Toit vervang word met n onbevoegde en dan word Denel weer in die afgrond in bestuur.

PJ

Nou vertel die storie nie n storie nie ?

Martiens

Die ‘verskaffingskettingproses’, darem ñ lang uitgebreide woord om na korrupsie en tenderbedrog te verwys!

Kallie

Du Toit moet besef dis belastingbetalers se geld wat hy verkwis. Die ondersoeke beloop seker miljoene rande en wie gaan optree teen die kaders. Verkoop Denel of maak dit toe. Die kaders het die plek vernietig.

Pottie

Ag gee vir hulle sommer nog drie mijard is mos nie die anc se geld nie dit is ons dom mense wat belasting betaal se geld ons werk mos vir die anc nie anders om nie