Denel moet opdok vir agterstallige salarisse – hof

Die arbeidshof het beslis dat Denel die uitstaande salarisse wat hy werkers vir Mei, Junie en Julie skuld teen Vrydag moet betaal.

Solidariteit en die vakbond Uasa het Denel hof toe gesleep nadat werkers se salarisse vir Mei slegs gedeeltelik betaal is. Sommige werkers het net 20% van hul salarisse ontvang en Junie en Julie se salarisse het in die weegskaal gehang. Denel het boonop voorgestel dat werknemers vanaf Junie tot Augustus gedeeltes van hul salarisse moet opoffer.

Regter André van Niekerk het Dinsdag beslis Denel moet nie net die agterstallige salarisse betaal nie, maar ook enige aftrekkings vir die tydperk van April tot Julie aan die relevante instellings oorbetaal.

Die vakbond Solidariteit het die uitspraak verwelkom en as ʼn oorwinning vir werkers bestempel.

“Denel en die staat as aandeelhouer het roekeloos met hul werknemers omgegaan,” sê Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by Solidariteit.

“Geskiedkundige probleme het veroorsaak dat Denel hom in hierdie penarie bevind en nie werknemers kan betaal nie. Dié probleem het nie ontstaan weens Covid-19 nie, maar weens jare lange vrot bestuur, korrupsie en staatskaping.”

Dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, praat met die media tydens een van die vakbonde se vorige regsaksies in die arbeidshof.

Cronjé sê Solidariteit is verheug oor die uitspraak in die guns van Denel se werknemers. Dit is net nóg ʼn tree nader daaraan om Denel se direksie tot aksie te dwing om die entiteit te red en om sodoende die regering te dwing om ook sý rol as verantwoordelike aandeelhouer te begin speel.”

Stanford Mazhindu, woordvoerder van Uasa, het ook die uitspraak verwelkom. Hy het gesê die hof het bevind Denel het sy basiese plig teenoor werkers – om hulle te vergoed vir die werk wat hulle gedoen het – versaak.

“Uasa doen weereens ʼn beroep op die regering as die enigste aandeelhouer in hierdie staatsbeheerde onderneming om in te gryp en ʼn dringende oplossing vir die likiditeitskrisis te vind en te verseker dat werkers hul uitstaande salarisse, maar ook hul volle toekomstige salarisse ontvang,” het hy gesê.

Van Niekerk het Denel ook beveel om die koste van die aansoek te dra.

Die regsaksie is vroeër tydelik van die dringende hofrol geskrap nadat Denel se regspan hom tot ʼn fasiliteringsproses verbind het waarvan die uitkoms sou wees dat Denel al sy agterstallige betalings sou inhaal. Solidariteit sou dan ook insette kon lewer oor hoe dié uitkomste bereik kan word.

Die hofsaak is egter einde verlede maand hervat.

Die wapenvervaardiger se uitvoerende hoof, Danie du Toit, het verlede maand ná minder as twee jaar aan stuur van die sukkelende staatsbeheerde onderneming bedank nadat hy onder meer Denel se omvattende omkeerplan, wat in 2018 bekend gestel is, in werking moes stel.

Die wapenvervaardiger het net verlede jaar ʼn reddingsboei van bykans R2 miljard van die regering ontvang. Daar is egter al hoe meer kommer dat die Covid-19-pandemie hom net verder oor die afgrond gaan stoot.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Magda ·

Yip gaan soek bietjie na oorsese rekeninge – daar sal julle al ONS geld terug vind.

Morne ·

Voor almal negative kommentare gee oor Denel. Ja ons is minder betaal met selarise ,maar dit is nie ons sukld dat die bestuur swak besluite geneem het nie ook Denel het 4 jaar terug n wins getoon Denel het ook nie soos SAA, Eskom jaar in en jaar uit belating geld gevra. Ook die mense wat by Denel werk was in die eerste lockdown by die werk om die produkte uit te kan stuur. Dan moet almal ook net onthou SA in nie nou in n oorlog tygperk nie maar as dit gebeur dan hardloop almal weer na Denel toe om wapens , vliegtuie en voertuie te kan kry om almal te kan beskerm.

LANA is ELANè ·

Hierdie regering is ‘n grap, gaan hulle rerig die pandemie as verskoning vir hul swakbestuur en korrupsie gebruik⁉️ O ja, hulle gaan, want dit is wat hulle doen, hul strategie is nie verniet die “BLAME GAME” nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.