Denel ontken Gupta-invloed

Die Badger-voertuig wat deur Denel vir die SANW vervaardig word onder die Hoefyster-projek (Foto: army-technology.com)

Die Badger-voertuig wat deur Denel vir die SANW vervaardig word onder die Hoefyster-projek (Foto: army-technology.com)

Die staatsbeheerde verdedigingskonglomeraat Denel het Donderdag gerugte ontken dat die Gupta-familie hom oorgehaal het om ʼn R1 miljard-kontrak aan VR Laser in plaas van LMT Holdings toe te ken.

LMT Holdings het gesê die maatskappy vermoed daar is gekonkel en het die hof genader.

“Denel wil graag reageer op negatiewe beriggewing deur sekere publikasies vandag,” het Vuyelwa Qinga, woordvoerder vir Denel, in ʼn verklaring gesê. “Denel ontken ten sterkste dat dit deur die Gupta-familie beheer word.”

Times LIVE het Donderdag berig ʼn Suid-Afrikaanse weermagkontrakteur het bewerings gemaak oor ʼn staatsvergryp by die Pretoriase hooggeregshof. Die aandeelhouers van LMT Holdings het Woensdag ʼn dringende aansoek ingedien om die kontrak van R1 miljard vir die Hoefyster-program aan VR Laser te bevraagteken.

LMT Holdings is ʼn plaaslike voertuigingenieurswese en -vervaardigingsmaatskappy wat 51% deur Denel besit word.

Stefan Nell, stigter van LMT Holdings, voer aan dat, volgens die kontrak, die ontwerp en vervaardiging vir die Hoefyster-projek aan LMT toegeken word, wat oor ʼn tydperk van 10 jaar ʼn inkomste van nagenoeg R100 miljoen per jaar sal genereer.

Die tesourie en die minister van openbare ondernemings het die ooreenkoms in 2012 bekragtig.

Die Hoefyster-projek vervaardig ʼn “Badger”-infanterievoertuig vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.

Nell het egter in hofdokumente aangevoer daar was ʼn politieke motief en inmengery om seker te maak dat die oorblywende Hoefyster-kontrakte, wat vroeër aan LMT Holdings beloof is, toegeken is aan VR Laser, ʼn filiaal van die Gupta-familie en pres. Jacob Zuma se seun, Duduzane.

Qinga het dit egter ontken en gesê die kontrak, wat Nell beweer is aan VR Laser toegeken ten koste van LMT, dateer nog voor die aanstelling van Lynne Brown, die huidige minister van openbare ondernemings, die raad en waarnemende uitvoerende direkteure.

“Die persone wat in daardie stadium uitvoerende direkteure was van Denel en raadslede was van LMT, wat volgens Nel hul verpligtinge versuim het, is nie meer werksaam by Denel nie of is geskors,” het Qinga bygevoeg.

Nell het in sy hofdokumente aangedui LMT sukkel om salarisse te betaal vir sy 250 werknemers en verskaffers, aangesien die finansiering wat hy van Denel ontvang, “in geheel onvoldoende is” en het die maatskappy in ʼn “ernstige finansiële verknorsing gelaat”.

Hy het gesê die salarisse van die werknemers kan gered word deur ʼn kontantinspuiting van R200 miljoen en het die hof versoek om dringend ten gunste van die aanstelling van ʼn sakereddingsplan te beslis.

Denel het egter aangedui hy is van plan om Nell se aansoek teen te staan. “Daar is geen gronde vir ʼn sakereddingsplan nie. Denel het geld aan LMT geleen om sy bedrywighede te finansier ondanks Nell se belemmerende gedrag,” het Qinga bygevoeg.

Sy het gesê Nell het beweer hy het beleggers wat bereid is om groot somme geld in die onderneming te belê, maar hy wil nie dié persone se name bekend maak nie. Sy beweer politici poog om aandele in Denel te bekom deur die sakereddingsplan wat LMT eis. “Denel is bewus dat ʼn sekere politikus poog om Denel-aandele te bekom deur LMT. Die pogings deur die politikus om die Denel-aandele te kaap deur middel van ʼn sakereddingsplan via mnr. Nell, sal heftig teengestaan word en sal nie suksesvol wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Chris Ws ·

Nou is a RATEL skielik ‘n Badger?Ai die naamsveranderinge is ‘n steen des aanstoots! Waar ‘n rokie trek is ‘n vuurtjie se ekke!Denel gooi nou wal dat dit vrek maar waar Guptas ter sprake is is daar ‘n groot vuur!

Sune van Heerden ·

Dagsê Chris

Die 264 Badgers gaan die bestaande 6×6 Ratel-voertuie vervang wat die afgelope 30 jaar deur die SANW gebruik is.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Hendrik ·

As die foto ‘n “Badger” wys, is al verskil tussen die “Badger” en die Ratel 90, die naam. Lyk my dis maar als deel van transformasie. Die Ratel 90 se naam sal egter vir ons wat hom tydens diensplig leer ken het, altyd die Ratel bly.

Wat-ek-lees ·

Ja Chris en Hendrik, hulle is goed met naamsverandering.
Ek sit en wag dat die name van die dae in ‘n week en ook die maande in ‘n jaar se name verander moet word.

Sputnik ·

In dié geval is ‘n Ratel nie ‘n Badger nie. Google gerus Badger Infantry Vehicle en sien hoe dit lyk – geen ooreenkoms tussen die twee nie, behalwe dat die een ‘n reusagtige monster blyk te wees.

Sputnik ·

Jammer, moes gelees het “…geen ooreenkoms tussen die twee nie, behalwe dat hulle blykbaar dieselfde funksie sal vervul. Die een is egter ‘n reusagtige monster”.

Wouter ·

n Badger is die Engels van Ratel. Dit is nie n naamsverandering nie slegs n vertaling.

Lance ·

Ontkenning ….’I dint know ‘ die maklikste pad uit ….geen verantwoordbaarheid …verbaas my gladnie ..

JC ·

Ek hoop LMT is suksesvol in die saak en ontbloot in die proses ook sommer die korrupsie!! Shame, die arme Ratel is ook nou in die spervuur hehe. LMGA!! :-)

Piet ·

Die foto wys n ratel nie badger.die badger het 8 wiele,die ratel 6.

Lance ·

Natuurlik sal dit ontken word ….HALLOOOO….ons is tog nie SO dom nie

Joann ·

Piet jy is reg. Badger 8wiele ratel 6. Sal n man nie weet nie. Ag man dis lekker in die amy.

plaasjapie ·

Ja nee toe ek die foto sien voordat ek iets gelees het…toe dink ek die foto van die Ratels soek ek op my foon.
In die weermag was dit een van die voertuie waarmee ek die meeste rondgery het. Bager se dinges….Afrikaanse naam is nou nie meer goed genoeg !

Pieterdp ·

So vertoon en gee die SA Regering inligting en diesmeers aan die buite werild. Wil die SA regering nie dalk die Indiese regering vra om so doende ons land grense en somer die onluste te beheer nie.

Die Guptas weet mos nou alles en Zuma sit in sy gemak stoel en spoeg op die blankes wat die land op ge bou het se kope en maak van ons n bespoting.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.