Denel sê hy kan nie salarisse betaal    

Denel het vakbonde Vrydag ingelig dat hy nie by die hofbeslissing kan hou om werkers se uitstaande salarisse teen die einde van vandag te betaal nie.

In ʼn brief van Denel se regsverteenwoordigers aan vakbonde wat in Maroela Media se besit is, word daar aangevoer dat Denel alles in sy vermoë doen om aan die hofbevel te voldoen.

“Ons kliënt versoek dat julle kliënte ʼn toegewing maak om hulle in staat te stel om aan maatreëls te werk om geld in te samel,” lui die brief. Denel onderneem dan ook om op die laaste einde volgende week ʼn opdatering in dié verband te gee.

Die arbeidshof het vroeër die week beslis dat Denel die uitstaande salarisse wat hy werkers vir Mei, Junie en Julie skuld teen Vrydag moet betaal.

Solidariteit en die vakbond Uasa het Denel hof toe gesleep nadat werkers se salarisse vir Mei slegs gedeeltelik betaal is. Sommige werkers het net 20% van hul salarisse ontvang en Junie en Julie se salarisse het in die weegskaal gehang. Denel het boonop voorgestel dat werknemers vanaf Junie tot Augustus gedeeltes van hul salarisse moet opoffer.

“Indien hulle nie betaal nie gaan ons volgende week voort met minagting van die hof- prosesse,” het Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by Solidariteit, in reaksie op Denel se brief gesê.

Die regsaksie is vroeër tydelik van die dringende hofrol geskrap nadat Denel se regspan hom tot ʼn fasiliteringsproses verbind het waarvan die uitkoms sou wees dat Denel al sy agterstallige betalings sou inhaal. Solidariteit sou dan ook insette kon lewer oor hoe dié uitkomste bereik kan word. Die hofsaak is egter einde verlede maand hervat.

Die wapenvervaardiger se uitvoerende hoof, Danie du Toit, het verlede maand ná minder as twee jaar aan stuur van die sukkelende staatsbeheerde onderneming bedank nadat hy onder meer Denel se omvattende omkeerplan, wat in 2018 bekend gestel is, in werking moes stel.

Die wapenvervaardiger het net verlede jaar ʼn reddingsboei van bykans R2 miljard van die regering ontvang. Daar is egter al hoe meer kommer dat die Covid-19-pandemie hom net verder oor die afgrond gaan stoot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
PH

Swarigheid lê voor vir Denel se direkteure, dink ek.

marius

Nog ‘ n bastion wat in ‘n modderhut verander is . Verkoop alles onder hulle uit !

Judge

Denel is klaar oor die afgrond

Stefan

Denel kan nie betaal nie, maar die belastingbetaler kan mos nog????

dave

nou maak die ding toe want die mense lei daar onder elke maand my ma is een van hulle so maak hom toe want julle is mos slim om al julle goed te virkoop het maak hom toe dat die werkers kan aangan met hulle lewe en uif trek en ander werk kan gan soek