Denel-werkers betoog oor onbetaalde salarisse

Lede van die vakbond Solidariteit wat by Denel werk, ruk Woensdag op na die sukkelende wapenvervaardiger se kantoor in Irene waar hulle oor hul uitstaande salarisse sal betoog.

“Dit is reeds ses maande dat Denel salarisse nie behoorlik betaal of sy statutêre verpligtinge nakom nie. Lojale werknemers verkeer nou onder geweldige finansiële druk, terwyl hoofkantoorwerknemers steeds hul volle salarisse ontvang. Intussen verloor onskuldige werknemers hul huise en motors, terwyl diegene wat hoofsaaklik vir die gemors verantwoordelik is, hoegenaamd nie geraak word nie,” sê Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by Solidariteit.

Die arbeidshof het Denel reeds vroeg in Augustus beveel om sy uitstaande geldelike verpligtinge teenoor werkers na te kom. Die wapenvervaardiger betaal sedert Mei nie meer volle salarisse nie. Boonop is ʼn verdere bevel van minagting van die hof, met ʼn keerdatum op 3 Desember, vroeër teen Denel toegestaan nadat hy ook nie ingevolge die Augustus-uitspraak opgetree het nie.

Cronjé sê hulle is ontevrede met die manier waarop die regering die situasie hanteer.

“Die staat is grootliks aanspreeklik vir die jare lange wanbestuur wat hierdie penarie veroorsaak het. Tog wil hy nie verantwoordelikheid neem vir sy dade of verantwoordelikheid aanvaar teenoor die onskuldige werknemers wat nou die slagoffers daarvan is nie. Ons lede werk hard en verdien dit wat hulle toekom,” sê Cronjé.

Solidariteit berei hom intussen voor om beslag te lê op Denel se bates en is op 3 Desember terug in die hof om die vervaardiger die stryd aan te sê oor die saak van minagting van die hof.

“Dit is Denel se verantwoordelikheid om die bevel van die hof na te kom, maar hy het niks betaal nie en die hofbevel is dus verontagsaam. Ons het dus geen ander keuse nie as om op te tree en sal nie skroom om op bates beslag te lê nie.

“Ons hofprosesse gaan daarom voort. Waar die staat ʼn hand in ʼn kwessie het, kom politiek altyd eerste ten koste van die werknemers. Ons sal dit nie duld nie en Denel se werknemers sal dit ook nie duld nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Andre ·

En ek is seker die onbevoegdes wat Denel gekry het waar hy nou is,is reeds lankal vergete en hulle leef heel gemaklik sonder enige spyt.

Casper ·

Dit kom van regstellende aksie.DENEL het wêreldwyd uitstallings gehou en wapentuig en ander oorlogtoerusting verkoop toe bekwame mense indiens was.Miljarde rand is wanbestuur en korrupte aktiwiteite het sy tol geeis en nou kan hulle nie eers salarisse betaal nie.Dit is niks snaaks nie.Kyk maar na SAL,ESCOM en PRASA.Wie moet ons bedank,die ANC.

Aai ·

Die fat cats vat eerste en die wat die werk doen kry niks,altyd so.Daar moet ‘n wet teen dit ingestel word.

Frank ·

Hoe de ongeluk kan enigiemand BEE regverdig????? En spesifiek jy Ramaposa??????

Grassie ·

Die ANC het deur middel van BEE vir Denel in die hande van hul kaders gelaat, wie dit soos ‘n lemoen papgedruk, uitgesuig en weggesmyt het. Denel het nou soos SAL geword, ‘n onrehabiliteerbare verleentheid vir die land se ekonomie. Ek het baie simpatie met hul werkners – ek bedoel nou diegene wat jare lank goeie diens gelewer het, nie die onbevoegde ANC-kaders wat hulle daar tuisgemaak het nie.

Stefan ·

Daar is nie meer geld nie.
Om eerlik te wees, as jy bereid is om vir ‘n bankrot maatskappy te werk is die kans met aan sekerheid grensende waarskynlikheid dat jy een of ander tyd nie betaal gaan word nie.
Ek weet ook van denel werknemers wat letterlik die halwe dag in ‘rookareas’ deur bring vir sy nodige dampies, dit het eintlik in kuierplekke ontaard, met ander woorde volle dag se salaris vir ‘n halwe dag se werk.
Geen wonder die geld raak op nie.

Persheks Adri ·

Alles waaraan hulle vat is ‘n gemors met die regering plaas tsek hulle net gggmmmfff

Johann ·

Blykbaar gaan die ANC begin om vliegtuig kaartjies op sy NUWE getransformeerde lugdiens uit te deel aan almal wat hy nie meer n salaris kan betaal nie? Kinda n ruiltransaksie….om van die een kant van die laanloop baan so n draaidkie te ry en terrug. Die ge transformeerde pilots kan nog nie opstyg nie…of land nie…of flieg nie. Maak soos n taxi drywer met.die arm so half uit die venster……

daniel ·

Dit is wat swak bestuur deur mense wat nie die nodige kennis of opleiding het nie, tot gevolg het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.