Denel-werkers nou ook hul medies kwyt

Werknemers van Denel Vehicle Systems – wat weens die staatsentiteit se finansiële moeilikheid reeds maande lank sonder ’n salaris moet klaarkom – se mediese voordeel is nou óók opgeskort.

Die werknemers is dié nuus Donderdagaand in ’n selfoonboodskap van Denel meegedeel. Dít sowat ’n week nadat die werknemers ’n kennisgewing van opskorting van hul mediese fonds ontvang het.

Volgens werknemers het Denel nooit die besluit vooraf aan hulle oorgedra nie en is hulle die afgelope week in die duister gehou.

“My asem was weggeslaan toe ek die boodskap gisteraand lees,” vertel Derek Mans, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by die vakbond Solidariteit.

Werknemers is in die boodskap daarvan in kennis gestel dat hul mediese voordeel vanaf 1 Mei opgeskort is. Sou die werknemers verkies om dit in ’n persoonlike hoedanigheid te betaal, sal Denel hulle glo daarvoor vergoed sodra hy weer in ’n finansiële posisie is om dit te doen.

“Ek was geskok om te lees dat dieselfde bestuur wat wéét in watter finansiële situasie hul werknemers verkeer, nou van hulle verwag om hul eie medies te betaal.

“So wat hulle eintlik sê, is: ‘Julle en jul begunstigdes sit nou sonder medies en ons was ons hande in onskuld en loop weg.’

“Hierdie is dieselfde werknemers waarvoor Solidariteit Helpende Hand al vier keer van kospakkies moes voorsien omdat hulle salarisse nie uitbetaal word nie.”

In ʼn selfoonboodskap van Denel aan sy werkgewers, wat Maroela Media onder oë gehad het, laat Denel dit blyk dat daar op 17 Mei ’n interne kennisgewing uitgestuur is om werknemers van die moontlike opskorting van hul mediese voordeel in kennis te stel.

Mans sê egter daar was geen kommunikasie van Denel se bestuur hieroor nie. Dít selfs nadat Solidariteit die afgelope week ’n skrywe aan die bestuur en die departement van openbare ondernemings gerig het om meer duidelikheid oor die opskorting van mediese voordele te bekom.

“Die kommunikasie was koud en die bestuur het geen oplossing voorgestel nie.” Luidens die boodskap vra Denel bloot om verskoning vir “enige ongerief en swaarkry” wat hierdeur veroorsaak word. Werkers word ook bedank vir hul deurlopende “toewyding tot die besigheid”.

Solidariteit oorweeg nou regstappe.

Dié vakbond het hom al vantevore tot die hof gewend in ’n poging om Denel te dwing om werknemers se salarisse te betaal. Denel het egter intussen versuim om ʼn hofbevel na te kom waarin hy byna R90 miljoen aan Solidariteit moes oorbetaal om die agterstallige salarisse van sy lede te betaal.

Solidariteit het toe ʼn lasbrief van eksekusie by die balju ingedien in ʼn poging om die uitstaande salarisse uit Denel te dwing en daar is op roerende bates, waaronder motors en kantoormeubels, beslag gelê.

Dié bates sou op 13 Mei opgeveil word, verduidelik Mans. Die sukkelende wapenvervaardiger het egter sowat ’n week voor die veiling ’n dringende vergadering met Solidariteit belê waarin hy hom verbind het om die geld oor te betaal sodra hy ’n verwagte uitbetaling by die Denel- mediese trustfonds ontvang.

Die hooggeregshof het in Februarie beslis dat die sukkelende wapenvervaardiger toegang sal hê tot sowat R1 miljard se mediese fondse wat in ʼn trust gehou word.

Die uitbetaling geskied egter glo eers einde Mei. Solidariteit het Denel nou tot 12 Junie gegee om sy lede se salarisse uit te betaal.

“Ons weet daardie geld gaan loskom; dis net kwessie hoe dit bestee gaan word,” verduidelik Mans.

Maroela Media het vroeër berig die vakbond Uasa het nou ook ’n dringende aansoek in die arbeidshof gebring om Denel te verplig om salarisse wat sedert Augustus 2020 agterstallig is, op datum te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Swerwer ·

Simpatie met al die werknemers van Denel. Dit is erg om sonder inkomste te moet leef en nou nog sonder medies ook. Waarom word Denel se deure nie gesluit en klaar. Hoe moet daardie werknemers positief en goedgesind soggend werk toe gaan.

Grens ·

‘n Eens magtige maatskapy wat gerespekteer was oor die wereld, nou tot niks gedaal. Nog ‘n goeie storie vir die ANC om te vertel. Sterkte vir die wat in hierdie swak posisie gelaat word.

Kokerboom ·

Solidariteit, ipv ‘n leë dop aanhou dagvaar met geen resultate, wat is moontlikheid dat die privaatsektor nie ‘n “hostile take over” doen en die eens trotse instelling tot sy eertydse glorie herstel?
Dwing Staat om afstand te doen en stel bevoegde mense aan in bestuur!

Blikkies ·

# Kokerboom. Ek hoor wat jy sê, en stem 100% saam, maar as dit net so maklik kon wees. Hierdie vrot spul moet nou ‘n haas uit ‘n hoed ruk wat nooit gaan gebeur nie. Dit voel sleg om so op die kantlyn te sit en sien hoe sukkel jou mense en jy kan maar net mooi niks doen daaraan nie, behalwe maar help met en waar jy kan. Wat ek verder wil sê gaan my laat in die tronk beland..

Deon ·

n Werker wat by n plek werk wat hom nie betaal nie, kan ek nie verstaan nie, en dan nogals daaroor kerm. Hulle skuld die werkers geld, dit moet betaal word, en terwyl hulle nie salarisse ontvang moet hulle sommer ophou werk. Het arbeids wetgewing verander? Waarom word denel toegelaat om die wet te ontduik? Jou werkgewer kan mos nie na willekeur sy voorwaardes opskort en verander nie

Marcello ·

Dit gebeur by ander groot maatskappye ook, diensvoorwaardes word verander sonder die werkers se medewete.

Blikkies ·

Maklik, jy het geen ander vooruitsig vir werk nie, dan klou jy maar aan grashalms en bid iets goed gebeur? Ek kry hierdie mense bitter jammer, veral die blankes wat amper virseker geen ander werk sal kry nie.

VaalDonkie ·

Hang seker maar af watter werk dit is? Ek dink nie daar’s baie ander plekke in die land waar jy gaan dryfmiddel kan vervaardig of pantserwaens ens bou nie. Wees kwaad vir Denel, nie hul werknemers nie.

Jr ·

Ja maar mnthashe het die verneetelheid om te sê hy gaan Sibanye se mining rights terug te trek want hulle betaal nie hulle strikers, maar die anc betaal nie sy werkers. Twee gesig jakkalse

Dup ·

Die meerderheid van staats/semi staatsinstansies is reeds bankrot en op hulle knieë.Steeds ploeter die A en C voort asof niks verkeerd is nie…verkeerd is nie…verkeerd is nie.Hulle is 99.9% uit voeling met wat in SA aan die gang is.

Blikkies ·

Skande, en dieselfde bestuur verdien seker nog steeds hulle hoë salarisse en alle medies met voordele!!

Misky ·

Ek kry hierdie mense bitter jammer. Ek kan my net indink hoe hulle moet sukkel om te oorleef. Eens trotse en magtige instansie in sy peetjie in.

miche ·

Iemand iewers gaan ‘n ‘gap’ sien in hierdie hele tragedie en die Russe of Kubane oornooi.

Barend ·

Hulle het al vir die Leër Kubane ingevoer wat nie gewerk het nie.

SwartBees ·

Soldariteit laai eers hul eie sakke vol en DAN wil hulle probeer help. Het soldariteit al probeer om die lysels oor te neem en die maatskappy om te draai?

Windhond ·

Nou toe nou ou Swartbees, -verduidelik nou vir ons in detail hoe Solidariteit na jou bewering hulle sakke vol stop – jy moet seker prima facie bewys he om hier op n openbare platform sulke bewerings te maak – ons luister!!

domheks ·

viva, viva, viva cANCer! Julle het baie goed gedoen!
Ek laat sak my kop in skaamte…….
Sibanje sal ook so lyk as die mini-ster sy sin kry.

Cherokee ·

Wonder wat het geword van roelf meyer. (Kleinletters soos bedoel)

VaalDonkie ·

Waarom kan die STAAT nie die mense se salarisse betaal nie? Die staat is immers die eienaar van Denel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.