Denel-werknemers dalk Desember-salarisse kwyt

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag, nadat hy met die bestuur van die staatsbeheerde entiteit Denel vergader het, sy skok en kommer uitgespreek rakende die moontlike niebetaling van Desember-salarisse aan werkers van dié maatskappy.

Die vakbond het gewaarsku dat die niebetaling van salarisse tot groot onstabiliteit en arbeidsonrus kan lei wat die hele ekonomie verder kan demp.

Volgens Deon Reyneke, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, is die maatskappy se huidige finansiële probleme te wyte aan swak bestuur en beplanning. “Dit is maar net nóg ʼn sprekende voorbeeld van ʼn staatsbeheerde entiteit wat weens wanbestuur groot verliese ly terwyl sy werksmag, en trouens die hele Suid-Afrika, daarvoor moet boet,” het Reyneke gesê.

Reyneke meen die maatskappy verkeer in ʼn geweldige finansiële verknorsing. “Die maatskappy benodig nog sowat R130 miljoen nét om sy salarisuitbetalings vir Desember te kan doen. Dit is benewens die enorme bedrae skuld wat ook nou deur sy krediteure geëis word,” het hy verduidelik.

Denel het volgens Reyneke intussen aansoek by die tesourie gedoen om ʼn waarborg van sowat R850 miljoen te bekom om hom in staat te stel om ʼn lening aan te gaan om verligting te bring.

“Afgesien van die werkers wat swaar getref word, sal die belastingbetaler moontlik ook verder moet opdok vir die wanbestuur soos wat die geval by talle ander staatsentiteite in Suid-Afrika is,” het hy gesê.

Hy het ook onthul dat Solidariteit ʼn geskil met die maatskappy verklaar het nadat dit bekend geword het dat Denel die geld, wat deel van werknemers se kostepakette uitmaak en wat hy namens sy werkers eenkant behoort te hou om sodoende 13de tjeks uit te betaal, glo verkwis het.

“Nie net is werknemers by Denel moontlik sonder ʼn salaris vir die maand nie, maar die maatskappy het boonop die geld wat die werkers self betaal om ʼn 13de tjek te ontvang ook opgebruik sonder dat die nodige toestemming bekom is. Dit is verregaande,” het Reyneke gesê.

Solidariteit verkeer nou namens sy lede in gesprek met Denel se bestuur. “Solidariteit sal nie huiwer om die nodige stappe te doen indien Denel nie sy kontraktuele verpligting met sy werknemers nakom nie,” het Reyneke gewaarsku.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Elize Louw ·

Voor dit ‘n staatsentiteit was……….. was dit ‘n gesonde winsgewende entiteit, daar gaan nie eers ‘n kantoor stoel oorbly nie.

Elizabeth ·

Waarop is die geld verkwis en wie het dit gedoen? Hoekom sulke vae bewerings? Verhaal die skade direk van diegene wat oortree het, al moet hulle laaste besittings verkoop word. Wanneer sal mense in hierdie land weer eendag persoonlik verantwoordbaar gehou word vir kriminele dade wat hulle pleeg, veral in posisies waarin mag misbruik kan word vir eie gewin??? … En dit alles oor Kersfees.

WatGaanHierAan ·

Dis presies wat die Zuptas en hul Qatari vriende wil he…dat Denel verkoop moet word aan Qatatom skuld (agv van berekende wanbestuur) te delg. Dan kan Qatar al die tegnologie en kontrakte van Denel oorneem en die Zuptas kry ‘n so paar biljoen in ruil vir hul moeite.

Lientjie ·

Wat ‘n skande om nie jou werknemers te kan betaal nie en dit nog oor kersfees en nuwe jaar, maar glo my al die top bestuurslede sal hulle salarisse kry!

Boeremeisie ·

Ja nee daarvan kan jy verseker wees. Top bestuur sal hulle sakke laai maar die “normale” werknemer gaan aan die kortste ent trek. Is alle corporates nie maar so nie. Laai die sakke van die diknekke en vertrap die mense wat rerig die werk doen. Kyk maar net na koerantberigte van vele maatskappye wat beweer hulle sukkel finansieel maar hulle topbestuur kry steeds super bonusse. The rich get richer and the poor have to settle for less

HPV ·

Wat gaan oorbly in die land?! Alles waaraan die regering raak word ‘n enorme las. Dit is ongelooflik dat eers winsgewende instellings in bankrot rommelhope verander word. Al wat oorbly , pak jou tasse en gaan. Om voor te begin in die vreemde is beter as om alles, selfs jou lewe, te verloor in hierdie misdaad helhool waar twee mense per uur vermoor word

Antimens ·

Maar die topbestuur sal wel weer hul eie sakke laai met miljoene rande in bonusse terwyl personeel tenagekom word.

Danie ·

Wonder nounet die finansiële ouditeure kon mos vasgestel het die maatskappy is bankkrot..

Deneller ·

Denel is nognie bankrot nie. Die bestelboeke is vol vir nog ‘n paar jaar. Ons moet net ons kontantvloei regkry.

WatGaanHierAan ·

Dis die ding Deneller. As Denel nou aan Qatar verkoop word (soos wat Zuma in November bespreek het) dan kry Qatar al die Denel kontrakte vir ‘n appel en ‘n ui.

Eish ·

Geen normale mens kan positief bly oor die toestand in die helhool nie. Dis amper soos toe Abraham met ons hemelse Vader gestoei het oor Sodom en Gomorra se vernietiging. As daar 50 regverdiges is, spaar die plek. So het hy afgekom tot tien en opgegee. Net Lot, die enigste regverdige is ingelig om te vlug, maar die sondehole is nie gespaar nie. Net so met dié Sodom en Gomora, het die regverdiges klaar padgevat. Nou reën dit ” Fire and brimstone”

Dawie ·

Die direksie en veral CEO het mos n fidusiere plig teenoor die maatskappy , werknemers en aandeelhouers om in beste belang tov almal op te tree. Hou hulle persoonlik verantwoordelik , verkoop hul bates , sluit hulle toe , en betaal die werkers.

Yolanda ·

Maar toe hulle finasiele state aan die parliament voorgele is n paar maande terug was alles “maanskyn en rose”
Meantime betaal hulle al vir jare nie hulle suppliers nie. Maar dis ook nie wat aan die parliament gese is n paar maande terug nie

Johanné Steyn ·

Dis nie swak bestuur nie, dis plein diefstal. Geld verdwyn nie net agv swak bestuur nie, net agv diefstal

Ouman ·

Dit is maar net die begin . Plundertog op plundertog tot daar niks oor is om te plunder nie. Belastingbetalers sal moet hakke inkap en se tot hiertoe en nie verder. Banke moet verplig word om hulle blootstelling aan entiteite in staatsbesit aan die publiek te openbaar sodat mens weet watter banke om nie mee besigheid te doen nie.

HPV ·

Jare gelede sit ek in die wagkamer van ‘n hardhorende dokter, hy praat baie hard, sodoende kon ons almal hoor wat hy vir die patiënt sê. Die volgende woorde: Jy drink, jy rook, jou cholesterol, suiker en bloeddruk is hemelhoog. Broer ek sê vir jou, jy is vinnig besig om jou g*t te sien! Ons kan vandag dieselfde van Suid Afrika sê, die land is vinnig besig om sy g*t te sien!

Johan ·

Ek voel regtig baie jammer vir all die mense as n voormalige werker van evraz highveld ken ek die gevoel al tegoed van wanbestuur.

Marius ·

Ek wil baie graag sien dat AL die stemme wat so vreeslik oor die Steinhoff debakel tekere gaan, ook nou en hier dieselfde geraas maak en dieselfde eise teens die direksie vereis, net sodat ons kan sien dat hulle motiewe suiwer is en nie policies gemotiveerd nie…

Harlekyn ·

Ons hou Saterdag ‘n pannekoek verkoping by al Denel se takke. Almal welkom!
(Dis gewaarborg om meer geld in te bring as sommige van die idees wat ons in die laaste ruk moes aanhoor oor hoe ons gaan oorleef…)

bgj van der westhuizen ·

wel as hulle werk het vir die volgende paar jaar dan moet die staat dit verkoop wand as daar geld te maak is sal denel verkoop kan word anders moet dit toe gemaak word maar die staat kan nie langer geld in sit en ons belasting betalers moet vir dit betaal nie of as hulle net 51% verkoop dat dat daar net mense in bestuur kom wat weet wat hulle doen

Chris ·

Dit gebeur as bestuur aangesyel word vir hulle politieke alliansie en nie hulle bestuurs vernuf nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.