Denel: ‘Werknemers sal salarisse, bonusse ontvang’

Die staatsbeheerde wapenvervaardiger Denel het Vrydag gesê werknemers sal wel hul Desember-salarisse en dertiende tjeks ontvang.

Dié versekering kom te midde van kommer dat die maatskappy nie in staat sal wees om nagenoeg 4 000 werknemers hul salarisse te betaal nie nadat ʼn noodvergadering tussen die maatskappy en vakbonde Solidariteit, Uasa en Numsa niks opgelewer het nie.

“Denel het vandag aan al sy werknemers, waaronder alle georganiseerde arbeidsvakbonde in die maatskappy, bevestig dat Desember-salarisse, asook die uitstaande 13de tjek-betalings, soos beplan op 22 Desember betaal sal word,” het Denel in ʼn verklaring gesê.

ʼn Week gelede is intensiewe gesprekke met die maatskappy se aandeelhouerverteenwoordiger, die nasionale departement van openbare ondernemings en die nasionale tesourie gehou oor Denel se “ernstige likiditeitsuitdagings”.

Odwa Mhlwana, Denel se hoof- finansiële beampte, het bevestig gesprekke met vakbondverteenwoordigers was suksesvol en het gesê die maatskappy sal ook voortgaan om sy diensverskaffers te betaal. “Ek wil hulle ook bedank dat hulle geduldig met ons was in tye wat ons nie ons verpligtinge kon nakom nie. Ons bedank ook ons werknemers vir hul geduld en begrip die afgelope twee weke,” het Mhlwana gesê.

Denel se verklaring kom nadat Solidariteit vroeër vandag gesê het hy sal ʼn strafregtelike klag teen Zwelakhe Ntsepe, Denel se uitvoerende hoof, en Mhlwana aanhangig maak. Die vakbond het beweer werknemers se geld is deur die maatskappy verkwis en Denel het “wetend en sonder die toestemming van sy werknemers geld, wat deur die werknemers self gespaar is om sodoende ʼn jaareindbonus te kan ontvang, wanbestuur”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SjN ·

Op grond waarvan kwalifiseer hul vir n 13 de tjek, bewyse is vaag

Alida ·

Die werknemers het gekies om die kontantkomponent van hul totale jaarlikse salaris in 13 paaiemente te verdeel i.p.v. 12, d.w.s. hulle ontvang in Desember ‘n dubbele salaris omdat hulle in die ander 11 maande ‘n bietjie minder kry. Dit bly deel van hul totale jaarlikse vergoeding soos in hul dienskontrak bepaal, dus is hulle daarop geregtig.

Sê maar net... ·

‘n 13de tjek word uit die werknemer se sak aan homself betaal. Elke maand word ‘n X-bedrag van die salaris afgetrek, en dan word dit Desember maande net weer uitbetaal. Soort van ‘n klein spaar rekening vir die werknemer wat uitbetaal wanneer mens dit die nodigste gaan hê…

Rudolph van Wyk ·

Die wanbestuur van die ‘SOE’ het die nuwe normaal geword. Die negatiewe gevolge vir ons land en sy mense is al wat dit nog nuuswaardig maak.
Die media, siviele gemeenskap, howe en vakbonde moet aanhou om dit aan die klok te hang anders gaan binne die volgende paar jaar niks oorbly vir die nageslag. Dit stem my tot trane dat hierdie ondernemings wat almal floreer het 20 jaar gelede nou verwoes word

John ·

Nog ‘n staatsbeheerde troetelkind, met langvinger-‘babysitters’ wat bakhand staan by pappie. Klokslag. En nou is dit nog Kersfees ook. Kan jy nou meer. Met soveel oorloe in die wereld, kry ons niks verkoop nie. Selfs plastiekgeweertjies en tenks in speelgoedwinkels verkoop beter as Denel se bestes… Daar moet ‘n Indiese kobra in die gras wees…. Soek….

Yolanda ·

Nou moet julle net julle suppliers begin betaal wat maande laas betaling ontvang het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.