Denel-werknemers sonder salarisse óf antwoorde

Werknemers van die staat se wapenvervaardiger Denel is toenemend onseker oor hul toekoms en bekommerd oor waar geld vir hul mediese uitgawes en aftrede vandaan gaan kom.

Só sê Helgard Cronje, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by die vakbond Solidariteit.

Hy sê vakbondlede wend hulle nou tot Solidariteit omdat die regering en Denel nie dié vrae kan beantwoord nie.

Denel het tydens ʼn vergadering op 18 Mei bevestig dat Mei se salarisse nie betyds betaal sal word nie. “Sedertdien het hulle nog nie weer ’n amptelike vergadering met enige van die georganiseerde vakbonde gehou nie. Die vergadering wat op 22 Mei sou plaasvind, is uitgestel na vroeg volgende week, maar is nooit gereël nie ondanks verskeie versoeke deur Solidariteit,” sê Cronje.

Denel se terugvoer was dat hulle met die aandeelhouer geskakel en kliënte gefaktureer het, maar dat dit nog niks wesenliks opgelewer het nie. Hulle het dus nog geen noemenswaardige terugvoer om te bied nie.

Die regering het by monde van die waarnemende direkteur-generaal van die departement van openbare ondernemings verlede week in die parlementêre komitee dit duidelik gemaak dat Denel ʼn reddingsboei ter waarde van R576 miljoen sal ontvang. Dit is egter onduidelik wanneer en op watter voorwaardes hierdie reddingsboei beskikbaar gestel sal word. Denel het voorheen te kenne gegee dat dié reddingsboei slegs gebruik mag word om historiese skuld af te betaal, maar dat hy met die regering onderhandel om meer vryheid te hê om dit ook aan te wend vir projekte wat verdere inkomste kan genereer. Geen uitklaring hieroor is egter al verskaf nie.

Cronje meen baie van die skuld vir wat by Denel gebeur het, kan voor die regering se deur gelê word. “In Februarie 2019 is daar reeds regrukplanne voorgelê wat herkapitalisering van R2,8 miljard vereis het. Die staat het toe R1,8 miljard belowe wat eers einde Augustus 2019 betaal is in plaas van April 2019. Denel moes gevolglik R400 miljoen leen as oorbruggingsfinansiering. Toe die herkapitalisering einde Augustus 2019 aan Denel betaal is, is R400 miljoen dadelik aan die finansierders van die oorbruggingsfinansiering betaal en R225 miljoen aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Vir alle praktiese doeleindes het die bestuur dus net R1,2 miljard van die R2,8 miljard wat die regrukplan vereis het, gehad om mee te werk.

“In die onlangse vergadering van die parlementêre komitee is Denel se bestuur weer aan sy eie lot oorgelaat. Die DG het gesê hulle moet doen wat hulle kan om bestellings te bespoedig sodat hulle kan faktureer en betaling ontvang. Hy het egter gerieflikheidshalwe vergeet om te noem dat die staat se drakoniese inperkingsmaatreëls die entiteit en sy bestuur se vermoë om dit te vermag, lamgelê het en steeds lamlê en hy het ook geen hulp gebied nie.”

Cronje sê by Denel Aeronautics is sekere werknemers al in Maart afgelê en moes reeds pakkette ontvang het, maar dit word uitgestel en hulle word in diens gehou omrede Denel nie genoeg kontant beskikbaar het om dié pakkette uit te betaal nie. Intussen ontvang dié werkers steeds maandeliks salaris al kan hulle op geen manier meer tot die organisasie bydra nie.

“Die bestuur blyk raadop te wees, want hulle kan desperate werknemers se kwelvrae nie beantwoord nie en blyk tans ’n strategie van stilswye te volg terwyl die werknemers aan hulle eie lot oorgelaat is,” sê Cronje.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

marius ·

Waarom dagvaar die werknemers nie die staat en begin om al die bates geregtelik te verkoop nie ? Daar moet GEEN onderhandelings wees nie want dit is net valse beloftes . Kyk ook of WVF asook WB wat afgetrek is oorbetaal is en indien nie , summiere kriminele vervolging .

Erik ·

Kos dit nie geld om iemand te dagvaar nie? Dalk moeilik, veral as jy nie salaris kry nie?

marius ·

Nee . Hulle kan dit kollektief doen . Solidariteit kan dit behartig en ook al die koste van die staat verhaal .

Erik ·

Is dit verniet as hulle dit kollektief doen? Geen onkoste vir Solidariteit indien hul dit sou doen nie? Ek werk vir die staat, en kan mos nie my werksplek se bates begin verkoop nie?

JohanR ·

Het die staat dan nog nie vir julle R10 miljoen van belastingbetalers se geld gegee nie? Julle is dan ‘n maatskappye in staatsbesit. Miskien soos SAL moet julle ‘n nuwe naam kry, dan kan julle weer lekker geld kry!

Stefan ·

Bakhand, bakhand.
Kry julle nie skaam om die belastingbetaler so uit te suig nie?

Sarel ·

Dit is skendi g van werkers se menseregte. Die Staat het aanstellings in Bestuursposte gemaak maar aanvaar nou nie verantwoordelikheid nie. Waar is die vorige Minister van hierdie ondernemings want almal Denel, Eskom, Transnet, Prasa almal gaan gebuk onder swak bestuur en korrupsie
Die Rsgering gaan egter maar voort net hulke beleid

Stefan ·

Ek ken iemand by denel wat gerook het (sigarette) hy moes dan van sy werkstasie na ‘n rookarea skuif om sy dampie te maak waar lekker gekuier is, so 20 min. Per sigaret.
Hy rook so 8-9 (afhangende hoe besig hy is) sigarette in werkstyd, dus tot 3 ure per dag en dan is daar nog koffie pauses ook, van sy 8 ure werk hy dus maksimaal 4 ure.
Natuurlik die eerste om te vra wasr sy aansienlike salaris dan nou is.

Jackie ·

Dr Roelof Botha het op ‘n onlangse Liberty Life webinaar die stelling gemaak dat hy ‘n roos kleurige toekoms vir Denel sien. Kan iemand hom dalk vra watter kleur die roos gaan wees en wanneer dit gaan blom.

Lizanda ·

Nevermind, Denel, SAL, SA EXPRESS, Eskom, die flippen regering hier is niks rooskleurig in hierdie land nie, dis ‘n gemors van begin tot einde.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Ek wonder wat het geword van al Denel se geestesgoedereregte (“intellectual property rights”)?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.