Departement appelleer teen ‘ongeldige tender’ vir mediese afval

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Alex Roma/Pixabay)

Die Gautengse departement van gesondheid beplan om te appelleer teen ʼn uitspraak deur die hooggeregshof dat hy ʼn tender vir mediese afvalverwyderingsdienste onregmatig aan twee maatskappye toegeken het. Die hof het dié tender ongeldig verklaar en tersyde gestel.

Waarnemende regter Ahmed Cajee het vroeër vandeesweek aangevoer dat die drie jaar lange tender, ten bedrae van R526 miljoen, verval het omdat geen geldige verlenging van die tendertydperk ná ʼn sekere datum plaasgevind het nie.

Die departement het egter in reaksie hierop gesê dat die hof ʼn fout gemaak het deur die tender ongeldig te verklaar en tersyde te stel.

“Hoewel die departement besig is om voor te berei om teen die uitspraak te appelleer, is dit belangrik om duidelikheid en konteks te gee rakende die redes vir die departement se besluit om te appelleer,” sê Motalatale Modiba, woordvoerder van die departement.

News24 berig dat Tshenolo Waste ʼn betwiste kontrak van R314 miljoen gekry het om mediese afval in Tshwane en Johannesburg in te samel en van ontslae te raak. Phuting Waste het nog ʼn betwiste tender van R211 miljoen gekry om dieselfde in Ekurhuleni, Sedibeng en die Wes-Rand te doen.

Die mediese afvalverwyderingsmaatskappy Buhle Waste het hom egter tot die hof gewend oor die tender, en verlede week ʼn dringende aansoek vir ʼn interdik ingedien.

Modiba sê die interdik het ten doel om die departement te keer om enige verdere stappe met betrekking tot die tender te doen, hangende ʼn “substansiële hersiening van die tenderproses” wat later aangehoor sal word.

Tshenolo Waste sowel as Phuting Waste het saam met die departement betwis dat die tender verval het.

“Die departement is van mening dat die hof ʼn fout gemaak het deur te beslis dat die tender hersien en tersyde gestel word, aangesien die kwessie van hersiening en tersydestelling nie binne die bestek van die hofverrigtinge op daardie tydstip was nie,” sê Modiba.

“Hierdie saak moet spesifiek in die tweede deel van die aansoek hanteer word, wat nog nie aangehoor is nie. Daarom moes die hof nie sonder ʼn verhoor beslis het dat die tender en kontrak  hersien en tersyde gestel word nie.”

Modiba sê dit is op grond hiervan wat die departement aanvoer dat die regter se beslissing die toepaslike omvang van die uitspraak oorskry.

“Die departement het reeds ʼn kennisgewing vir verlof tot appèl ingedien, wat dan hierdie saak klassifiseer as ‘nog nie deur die hof afgehandel nie’.”

Die tender sou mediese afvalverwyderingsdienste vir meer as 200 provinsiale hospitale, klinieke en mediese fasiliteite verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.