Departement besorg oor moontlike chloortekorte

Argieffoto (Foto: Karolina Grabowska/Pixabay)

Die departement van water en sanitasie het gesê hy is besorg oor ʼn moontlike vloeibare chloorgastekort van sy verskaffer wat in Kempton Park gebaseer is. Dit kan ʼn impak hê op waterverskaffing.

“Chloorgastekorte kan moontlik ʼn impak hê op die behandeling van drinkbare water en rioolwater wat deur die waterdiensteowerhede, metro’s en waterrade bestuur word,” sê Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement.

Alhoewel die departement nie namens die chloorverskaffer wil praat nie, glo hy die verskaffer doen alles in sy vermoë om seker te maak dat watervoorsiening en die behandeling van rioolwater nie negatief deur die tekorte geraak sal word nie.

“Tot dusver het die departement nog nie enige berigte ontvang dat waterrade chloortekorte in hul bedrywighede ervaar nie. Ons hoop dat die waterrade, metro’s en waterdiensteowerhede voldoende spaar-voorraad het wat hulle sal hou totdat die tekorte opgelos is. Die jongste verslag van die maatskappy dui aan dat vervaardiging stabiel is op 80%.”

Ratau het gesê teen Woensdag het die maatskappy chloor verpak vir Stad Kaapstad – kragtens die bestaande ooreenkoms. Hy het gesê die departement, deur sy provinsiale kantore, sal deurlopend die daaglikse verslae landswyd monitor om te bepaal hoe die tekorte die onderskeie diensteowerhede raak.

“Die departement sal ook die verwikkelings monitor en saam met alle betrokke partye, insluitend die verskaffingsmaatskappy en spesialiste, saamwerk om te verseker dat die gehalte van water wat aan verbruikers en die omgewing beskikbaar gemaak word nie, nadelig geraak word nie.”

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie vir Stad Kaapstad, het intussen gesê Kaapstad het gebeurlikheidsplanne om seker te maak dat chloor beskikbaar is om te alle tye te voldoen aan die nasionale SANS241-drinkwatergehaltestandaard. “Die publiek kan ons help deur hul nie-noodsaaklike waterverbruik te verminder sodat daar ʼn volhoubare verskaffing van chloor kan wees om drinkwater mee te behandel terwyl die nasionale tekorte voortduur.”

Stad Kaapstad is ook reeds besig om plaaslik chloorgas-plaasvervangers aan te skaf en ondersoek alle moontlike alternatiewe insluitend internasionalle aanskaffingsmoontlikhede om die risiko te verminder indien die nasionale tekorte voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Shakespeare ·

Net nog ‘n onbevoegde BEE maatskappy wat deur onbevoegde en korrupte Departement aangestel is.

Gerra ·

Chloorgas-plaasvervangers!!! Daar kom korrupsie oop oë aangestap. Pryse wat 3 to 4x verhoog is…..

Deon ·

Ek stem saam, en die beste van alles, hulle waarsku ons nogal daaroor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.